ENTSTOWWE | ‘OBP is slaggereed vir enttyd’
Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP) werk tans volstoom daaraan om genoeg entstowwe teen vektor-gedraagde siektes vir die komende enttyd te vervaardig.
Dr. Jacob Modumo, hoof vir bedryfsontwikkeling by die maatskappy, belowe dat boere nie vanjaar sal sukkel met die beskikbaarheid van entstowwe nie. “In die verlede was daar vertragings met hierdie tipe entstowwe. Dit het tot groot ontevredenheid in die landbousektor gelei. Ons werk nou volgens ’n 15 maande-produksiesiklus om te verseker dat entstowwe teen onder meer bloutong, drie-daestywesiekte, knopvelsiekte en bosluisgedraagde siektes, soos anaplasmose (galsiekte) en rooiwater, nie in die komende enttyd vir boere ’n probleem word nie.”
Hy skryf tekorte aan van dié entstowwe vroeër vanjaar toe aan ’n streng gehaltebeheerstelsel wat daartoe gelei het dat ’n aantal besendings entstowwe afgekeur is. Dit het tot ’n gaping van twee maande in die beskikbaarheid van sekere entstowwe gelei.
“Ons vervaardig egter nou meer van hierdie entstowwe in die aanloop tot November, wanneer die vraag ’n hoogtepunt bereik, om produksiegapings te voorkom. Terselfdertyd wil ons seker maak dat die entstowwe wat ons beskikbaar stel, aan die hoogste standaarde voldoen. Daarom is die goeievervaardigingspraktyk-projek waarmee OBP tans besig is, so waardevol vir die maatskappy. Met verbeterde vervaardigingsgeriewe en gehaltebeheer kan ons seker maak dat ons entstowwe aan die hoogste standaarde voldoen, sonder dat produksiegapings voorkom.”
VERSPREIDING
Die maatskappy het ook sy sakemodel aangepas om sy verspreiding te verbeter.
Daar was groot beleggings in die kouekettingstelsel om seker te maak die middels bly doeltreffend. Deur die koueketting tot 72 uur te rek, kan die maatskappy sy kliënte in die verafgeleë dele van die Wes-, Noord- en Oos-Kaap nou doeltreffend bedien.
Die verpakkingsmateriaal van die entstowwe is ook verbeter, wat tot minder terugsendings gelei het.
“Ek meen dus wat diens betref, staan ons op gelyke voet met ons mededingers,” sê Modumo.