BUURLANDE HAAL SA STADIG MAAR SEKER IN
BESLUITE wat Suid-Afrika se beleidmakers vandag neem, sal bepaal hoe groot bydrae die land se landbousekter sal kan lewer om in die groeiende vraag na kos in die res van Afrika suid van die Sahara te voorsien.
Me. Lulama Ndibongo-Traub van die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) se navorsingsafdeling vir Afrika het in Pretoria op die bekendstelling van die jaarlikse BFAP-vooruitskouing gesê die waarde van voedselinvoer in die streek het van 2001 tot 2015 van $7 miljard (R93 miljard) tot $40 miljard (R534 miljard) toegeneem.
Afrika suid van die Sahara se bevolking groei die vinnigste ter wêreld. In 2001 was dit 0,9 miljard, in 2050 sal dit 2,1 miljard wees en teen 2100 sal dit 3,8 miljard wees.
“Suid-Afrika is tans die grootste uitvoerder na ander lande in die streek, maar hy kan nie té gerus wees nie. Daar is ander lande, soos Tanzanië, Uganda, Ethiopië en Swaziland, wat ook toenemend meer uitvoer.”
Sy sê waar Suid-Afrika in 2009 nog 60% van die landbouprodukte in die streek voorsien het, het die land se markaandeel in 2015 tot 41% gedaal.
BEGROTING
Ndibongo-Traub sê Suid-Afrika sal net sy geleenthede kan benut as daar klem gelê word op beleid wat risiko’s en koste gaan verlaag. “Op die vlak van primêre produksie sowel as landbouverwerking is gunstige beleid noodsaaklik. Op primêre produksievlak moet daar byvoorbeeld meer geld aan navorsing en voorligting bestee word, maar die teenoorgestelde gebeur. In 2000 is 40,7% van die landboubegroting nog daaraan bestee, maar teen 2014 het dit tot 21,2% afgeneem.”
Sy meen ook ’n baie groter deel van die landbou se begroting moet aan infrastruktuurontwikkeling, soos besproeiingskemas, gaan. In 2000 was dit 7,1% en in 2014 net effens meer, naamlik 10,6%.
Wat voedselverwerking betref, is daar ’n ongunstige neiging. Daar was ’n daling in die werksmag in die nywerheidsektor as ’n persentasie van die totale werksmag. Vervaardigde goedere as persentasie van die totale bruto binnelandse produk (BBP) het ook afgeneem. Die daling in die werksmag was vanaf 13,3% in 1970 tot 11,9% in 2010. Wat die BBP betref, was die daling vanaf 18% in 1970 tot 17,2% in 2010.
GELEENTHEID
Volgens dr. John Purchase, uitvoerende hoof van die landbousakekamer Agbiz, kan die verwagte skerp bevolkingstoename in Afrika ’n groot bedreiging óf ’n groot geleentheid wees.
“Wat ons daaromtrent gaan doen, is in ons eie hande. Ons moet onsself reg posisioneer en uitwerk hoe geleenthede benut kan word. Die probleme is baie en dikwels ingewikkeld, maar die oplossings vir ons ontwikkeling sal bepaal word deur ons vermoëns en ambisie.”
‘Die oplossings vir ons ontwikkeling sal bepaal word deur ons vermoëns en ambisie.’