PROBLEME MET HEININGS, SPASIE SÓ OMSEIL
Benewens die koste is daar ’n paar eiesoortige probleme wat mnr. Johan Nel, die bestuurder van Riebeeksrivier en destyds ook me. Rosa Kruger, ’n wingerd boukundige, met die stok-bypaaltjie-wingerde moes uitstryk.
“Ons was van die eerstes om op groter skaal stok-by-paaltjie-wingerde in Suid-Afrika te vestig, daarom moes ons eers oorsee gaan kyk en op boekekennis staatmaak om meer daaroor te leer. Rosa het ongelooflik baie huiswerk gedoen, maar omdat ons plaaslike toestande verskil van elders in die wêreld, moes ons soms ook net met ons gaan,” sê Johan.
Aanvanklik het hulle die wingerdstokke teen pale opgelei wat 1,8 m lank is, maar mettertyd besef ’n effens korter paal werk ook – en is vriendeliker op die sak.
“Op L’Ormarins is pale van 1,5 m tot 1,6 m gebruik. Dié wingerde is ook meer aangepas vir meganisasie. Ons beoog om ’n trekker uit Frankryk in te voer wat met ’n maksimum hoogte van 1,5 m kan werk.”
Swambestryding, veral in die begin van die wingerd se leeftyd, bly altyd een van ’n wingerd bestuurders e grootste probleme.
“Ons moet alles met hande-arbeid doen, want die digte aanplantings laat nie plek toe vir werktuie, soos spuitkarre, nie,” sê Johan.
Hulle het gaan kers opsteek by die Franse, wat wingerde met helikopters bespuit, maar dit was om ooglopende redes nie ’n opsie nie.
“Ons ontdek toe die kanonspuit, wat sowat 15 m ver kan spuit. Veral die blomboere gebruik dit om proteas en fynbos teen die berge mee te bespuit. Ons het so ’n spuit geleen, ’n proef gedoen en gesien dit kan werk.”
Sima en Teyme is van die bekendste handelsmerke wat die kanonspuite bemark.
Die spuit, met ’n roterende spuitkop, word op ’n trekker gemonteer. Dit verg ’n groot hoeveelheid lug om die spuitstowwe so ver te kan spuit, maar aangesien die spuitkop draai, kan die blok van verskillende kante af benader word.
“Ons moes ’n pad in ons wingerd maak sodat die spuit oral kon bykom, maar nou beplan ons daarvoor wanneer ons nuwe aanplantings doen.
“Gelukkig is ons in ’n droër area as byvoorbeeld Stellenbosch geleë en het ons dus nog nie probleme met siektes, soos witroes of donsskimmel, gehad nie.”
Die stok-by-paaltjie-metode is ook nie juis geskik vir die gebruik van dekgewasse nie, spesifiek omdat dit so moeilik is om met werktuie tussen die wingerdrye te werk.
“Jy kan medics en klawer met die hand bestuur, maar dis baie arbeidsintensief. Ons pak eerder dik lae koringstrooi in die wingerd om met vogbewaring en onkruid bestryding te help .”