KOM STEEK KERS OP BY DIE KENNERS
TE midde van pogings deur die rooivleisbedryf om ter wille van winsgewendheid ál meer te beweeg na die produksie van ’n hoëwaardeproduk, kan boere nie meer bekostig om nuwe neigings in produksie- en bestuurstegnieke te ignoreer nie.
Dít is waar geleenthede, soos Agri Expo Livestock se Vleisbees-inligtingsdag, waarde tot enige boer se onderneming kan toevoeg, meen mnr. Nico Groenewald, hoof van Standard Bank se landbou-afdeling. Hy is een van die sprekers op dié geleentheid, wat op Vrydag 13 Oktober op Sandringham buite Stellenbosch aangebied word.
“Die omstandighede in die landbou en die breër ekonomie maak dit noodsaaklik dat boere bewus moet wees van moontlike risiko’s en geleenthede,” sê hy.
Groenewald begin die dag se verrigtinge om 09:15 met ’n praatjie oor die finansiële bestuur van ’n boerdery. Daarna volg die deurwinterde veearts en Landbouweekblad-medewerker dr. Faffa Malan se bydrae, “Wat vleisbeesboere moet weet in ’n droogte”. Malan sal ook tydens die geleentheid by Landbouweekblad se stalletjie wees om boere se vrae te beantwoord.
Mnr. Gerhard Sc hutte, uitvoerende hoof van die Rooivleisprodusente-organisasie, sal oor die nuutste rooivleis neigings praat, en mnr. Jac o Smit, besturende direkteur van die diere genetika maatskappy Taurus Evolution, sal vertel hoe om grootkampioene uit ’n klein kudde te teel. Die verrigtinge word afgesluit deur dr. Gillian Declerq, ’n staatsveearts van Gauteng, wat gaan praat oor boererate en hoe dit jou boerdery in tye van nood kan help.
Mnr. Breyton Milford, bedryfsbestuur derby Agri Expo, sê veral vleisbeesboere moet soveel inligting moontlik insamel sodat hulle ’n speenkalf vroeër kan lewer en diere met ’n beter bouvorm kan teel.
Toegang tot die inligtingsdag is gratis.