Só lyk beste stoettelers
Twee boere van Namibië en een van Suid-Afrika ding teen mekaar mee om as Stoetteler van die Jaar aangewys te word.
Drie finaliste is aangewys om sake uit te spook in die kompetisie as Pick n Pay, Landbouweekblad en Breedplan se Stoetteler van die Jaar vir 2017. Die wenner word op die jaarlikse Veeskool by Aldam aangewys, wat deur die Lewendehawe Registrerende Owerheid (LRF) en Landbouweekblad aangebied word.
Die finaliste is dr. Joggie Briedenhann (Bonsmara stoetery Hartebeestloop, Stampriet, Na- mibië), mnr. Christopher Sparks (Brangusstoetery Mount Olive, Harrismith) en mnr. Ebbie en mev. Heide Fischer (Brahmanstoetery Wokuma, Hochfeld, Namibië).
JOGGIE BRIEDENHANN
Joggie is al 16 jaar lank in die stoetbedryf en boer in Namibië. Sy Bonsmaraverse word op 14½ maande die eerste keer vir 12 weke aan ’n bul blootgestel.
In sy seleksieprogram lê hy klem op ’n mediumraamkoei met’ n hoë reproduksievermoë, wat goed in veldtoestande aangepas is, met goeie loopvermoë en lae onderhoudskoste. Dit is vanselfsprekend dat sy elke jaar ’n swaar kalf moet speen.
In die kudde word vernuwend gedink en van die jongste tegnologie word gebruik. Omdat aanpasbaarheid so belangrik in die kudde is, word kondi sietellings maandeliks gedoen. Dit help met seleksie en bestuur.
Die kudde se goeie genetiese neigings en hoë vrugbaarheid (die koeie se gemiddelde tussenkalf periode is slegs 386 dae) is ’n bewys dat sy teelbeleid geslaag is.
Joggie het verlede jaar 102 bulle aan stoet- en kommersiële telers verkoop, nie net in Namibië nie, maar ook in Angola. Die kudde het in ’n kort tydjie baie reggekry.
CHRISTOPHER SPARKS
Dié leier in die teelbedryf se jong kudde (dit bestaan sedert 2000) het reeds baie vermag. Die lae tussenkalf periode van ongeveer 390 dae vir die afgelope vyf jaar is ’n duidelike bewys daarvan.
Hoewel Christopher se Brangusse blootgestel word aan uiterste klimaatstoestande (die plaas by Montrose in die Vrystaat is 1 720 m bo seespiëel), kry hulle net ’n goeie lek.
Jong bulle word onderwerp aan veldbultoetse voordat hulle gebruik of verkoop word. Hoewel vrugbaarheid die belangrikste seleksiekriteria in die koeikudde is, word ook groot klem op vleisgehalte in die teelbeleid gelê.
Al die eerbewyse wat die stoetery die afgelope tyd ontvang het, is ’n bewys van die kudde se uitnemendheid. Altesaam 21 bulle is verlede jaar aan stoet- en kommersiële telers verkoop.
EBBIE EN HEIDE FISCHER
Dié Namibiese Brahmanstoetery is 25 jaar oud. Die akkuraatheid waarmee dit bestuur word, word weerspieël in die Volledigheid van Prestasie-eerbewyse waarvoor hulle volpunte (vyf uit vyf) ontvang het.
Ebbie se teelbeleid is in pas met sy omgewing: ’n Vrugbare mediumraamkoei met goeie groeivermoë, temperament, bespiering en kapasiteit. Ondanks die ekstensiewe toestande waarin die diere aangehou word, is dit noodsaaklik dat slegs goed aangepaste diere wat maklik kalf, geselekteer word.
Om inteling te beperk, word bulle uit ’n wye genepoel geselekteer. Net struktureel korrekte diere met ideale teelwaardes vir die omgewing word gekies.
Ebbie en ’n vennoot besit ook die enigste private bultoetsstasie in Namibië, wat netto voerinname bepaal. Dit is ’n bewys van sy toegewydheid tot verbetering, nie slegs van sy eie kudde nie, maar ook van die nasionale kudde van Namibië.
Ondanks die kwaai droogte wat jare lank in Namibië geheers het, is 28 bulle aan stoet- en kommersiële telers verkoop.