Boerekos 11 ’n viering van ons koskultuur
Die nuutste uitgawe van ons kostydskrif, Landbou Boerekos, wat hierdie week verskyn, is ’n ode aan ons boerekoskultuur. Van roosterkoek en kerrievis tot yskastert en melksnysels – al die treffers is daar. Hier is ’n voorsmakie.
UIT AFDELING: DRAERS VAN TRADISIE
Ons bring hulde aan oumas wat die kostradisies in hul familie lewendig hou.
Ouma Lucille se suikerdoempies
Lucille Liebenberg (79) van die Strand hou haar kinders en kleinkinders se kombuiskaste en koekblikke vol tuisgemaakte lekkernye. Hierdie suikerkoekies is ’n groot gunsteling.
250 g botter or margarien, teen kamertemperatuur 375 ml suiker 2 eiers, geklop 700 ml koekmeelblom 10 ml kremetart 5 ml koeksoda 2 ml sout Kleursprinkels
Verroom die botter en suiker saam. Voeg die eiers by en meng goed. Sif die koekmeelblom, kremetart, koeksoda en sout saam op die eiermengsel en meng tot ’n sagte deeg. Bedek en laat oornag in die yskas.
Voorverhit die oond die volgende dag tot 180 °C en smeer ’n paar bakplate liggies.
Rol die deeg tussen jou handpalms in balletjies (so groot soos okkerneute). Druk elke balletjie halfpad in die kleursprinkels en plaas hulle dan ’n entjie uit mekaar op die bakplate. Druk elke balletjie effens platter met jou vinger.
Bak die koekies ongeveer 15-20 minute (of tot begin verbruin) op die middelste oondrak. Laat hulle effens op die bakplate afkoel en plaas dan op ’n draadrak om heeltemal koud te word. Lewer 6 dosyn koekies.
UIT AFDELING: ONS EET (VERAL) GRAAG VLEIS
Suid-Afrikaners is ’n nasie van vleiseters. In hierdie omvattende afdeling, wat onderafdelings vir beesvleis, skaap-en-lamsvleis, varkvleis, afval en hoender het, wys ons wat jy met elke snit van die karkas kan maak.
Gevlamde T-beensteak met worcestersous-sampioene Steaks
4 T-beensteaks, teen kamertemperatuur Olyfolie Seesout en vars gemaalde swartpeper Paar takkies vars roosmaryn 30 ml botter 60 ml brandewyn Skeut vars suurlemoensap
Worcestersous-sampioene
1 houer (250 g) knopiesampioene 30 ml botter 30 ml olyfolie Sout en vars gemaalde swartpeper na smaak 45 ml worcestersous 45 ml balsamiese asyn
Bedruip die steaks mildelik met olyfolie. Maak ’n groot riffelpan baie warm (sonder enige olie daarin).
Geur die steaks goed met sout en peper net voordat jy dit op die vuurwarm riffelpan neersit. Braai die steaks vir twee minute aan elke kant. Gooi ’n paar takkies roosmaryn saam met die steaks in die pan en laat die botter ook oor die vleis smelt. Gooi die brandewyn oor die vleis en laat dit opvlam en brand tot die alkohol afgekook is. Geur die vleis met ’n skeut vars suurlemoensap, haal dit uit die pan, bedek en laat rus vir vyf minute.
Maak intussen die sampioene. Braai die heel sampioene in die botter en olyfolie tot net-net gaar. Geur met sout en peper. Voeg die worcestersous en balsamiese asyn by en braai die sampioene daarin tot die sous afgekook en klewerig is.
Sit die sampioene saam met die steaks voor. Sit voor met grof gesnyde aartappelskyfies en slaai. Lewer 4 porsies.
UIT AFDELING: IKOONGEBAK
Ons smul aan drie van die boerekoskultuur so ikoniese soetgoed – Hertzoggies, melktert en koeksisters – vertel meer oor waar elk vandaan kom en maak nuwe lekkernye met hul bekende geure.
Gulab Jamun
As jy moeg is vir dieselfde poedings elke Sondag, probeer gerus hierdie stroperige Indiese niggie van ons tradisionele koeksister.
Stroop
500 ml water 500 ml suiker 8 kardamompeule 3 druppels rooswater
Deeg
250 ml volroom-poeiermelk (nie koffieverromer nie) 125 ml bruismeel 1 ml koeksoda 30 g botter 80 ml water Olie, vir braai
Maak die stroop eerste: Verhit die water, suiker en kardamompeule oor lae hitte, terwyl jy roer, tot die suiker opgelos is. Verhit tot kookpunt en prut vir 5 minute. Verwyder van die hitte en roer die rooswater by. Hou eenkant.
Deeg: Meng die poeiermelk, meel en koeksoda saam in ’n bak. Vryf die botter daarby in en voeg die water bietjie vir bietjie by, terwyl jy meng tot ’n sagte, maar nie klewerige, deeg vorm (voeg nog water by indien nodig). Vorm teelepels vol van die mengsel in bolletjies. Braai vyf tot ses op ’n slag in matig warm olie tot egalig goudbruin (draai gereeld om).
Skep uit met ’n gaatjieslepel en laat sak versigtig in die louwarm stroop. Laat die bolletjies vir 30 minute in die stroop staan voor jy dit voorsit. Sit voor met dik jogurt, room of vla. Lewer 6 porsies.
YSKASTERT VIR ELKE SMAAK
Yskastert is so tuis in ’n plaaskombuis soos boerewors en biltong. Ons toetskombuis gee heerlike resepte vir hierdie somergunsteling.
Roomystert
Daar het oor die jare verskeie weergawes van resepte vir roomystert verskyn, maar dié een is beslis die maklikste. Kyk, dit is seker een van die beste voorbeeld van “crimpelinekos” – daardie kitsresepte wat vra vir poeiers en pakkies souse en geuropkikkers wat ons in die 1970’s getref het. As jy by dit kan verbykyk, is hierdie tert maklik, vinnig en lekker. Boonop gaan jou kinders die tertbak wil uitlek. Jy hoef vir niemand te vertel van die kitspoeding nie.
Kors
1 pak (200 g) karamelbeskuitjies (ek het Nuttikrust gebruik), fyn gekrummel 100 ml gesmelte botter
Vulsel
1 liter vanieljeroomys 250 ml volroommelk 2 pakkies (125 g elk) vanieljegeur kitspoeding-poeier
Meng die koekiekrummels en botter goed saam en druk dit in ’n tertbord van 30 cm vas. Sit in die yskas.
Maak die roomys met ’n houtlepel sag en klits die melk en kitspoedingpoeier by tot goed gemeng. Giet in die voorbereide kors en verkoel oornag. Lewer 12 porsies.
In Boerekos Somer 2017-’18 bring ons hulde aan ons koserfenis. Die tydskrif bied ’n insiggewende kyk na tradisionele boerekosgunstelinge se oorsprong en hoe dit ontwikkel het. Ons bak melktert, Hertzoggies en koeksisters, ons braai en sit smullekker vleis en tradisionele bykosse op tafel. Daar is ’n groot afdeling oor vleis, wat lesers wys presies hoe om met elke snit van ’n karkas te werk te gaan. Ons kyk na ’n paar afvalresepte, maak yskastert, gesels oor (en met) koslegendes en vertel stories oor ons grootwordkos. ’n Trots SuidAfrikaanse uitgawe wat jy beslis nie moet misloop as jy vir boerekos lief is nie. Boerekos Somer 2017-’18 (Erfeniskos) is vanaf 15 Oktober op winkelrakke beskikbaar en kos R47.