Suid-Afrika pluk die vrugte met olyfolie
KOMMERSIËLE boere is ’n maklike teiken vir politici wat goedkoop politieke punte in die grondhervorming s debat wil aanteken, sê me. Nompumelelo Runji, politieke ontleder.
Sy was een van die paneellede in die Nasie in Gesprek-bespreking op Senwes en Graan SA se jaarlikse Toekomsfokusdag op Nampopark buite Bothaville.
“Dit is baie maklik vir iemand om vanaf ’n politieke platform te verkondig boere het die grond gesteel. Die kwessie is baie ingewikkelder en meer genuanseerd as dít.
“Boere besit nie die meeste grond nie. Die staat wel. Groot maatskappye besit ook baie grond. ’n Regeringsoudit (oor wie hoeveel grond besit) is gedoen, maar nie veel is nog gesê oor die uitslag daarvan nie. Dit is ’n kwessie wat dringend moet aandag kry.
“Intussen raak ons verlore in ’n sinlose debat oor wie grond van wie gesteel het. Daarmee sit ons soveel druk op hierdie gemeenskap (kommersiële boere) wat ons kos moet voorsien en ons skrik hulle af. Boere moet eerder die geleentheid gegun word om te doen wat hulle doen en góéd kan doen (boer). Dan moet hulle elders ’n bydrae lewer waar hulle kan.”
LEIDING NODIG
Runji het in dieselfde asem na die voormalige tuislande verwys waar inwoners in bate-armoede leef en nie sekuriteit het vir finansiering om ’n sake-onderneming te begin nie. “Wat kan gedoen word om daardie mense grond te gee? Die staat moet werklik in hierdie opsig die leiding neem.”
Runji het gereageer nadat mnr. Johan van Huyssteen, Vrystaatse Jongboer van die Jaar, gesê het plaasaanvalle en -moorde keer boere om uit hul hoekies te kom en die brug na aktiewer samewerking met ander gemeenskappe oor te steek.
“Jy is heeltyd net in oorlewingsmodus; jy wil net tot môre oorleef. Dan is dit moeilik om tyd te maak vir ander dinge; om vordering in ’n ander rigting te maak. En dan moet jy nog van jou plaaslike munisipaliteit se take ook vervul net om jou werk te kan doen,” het Van Huyssteen gesê.
WERKLIKHEID
Runji het gesê plaasaanvalle en -moorde is ’n werklikheid. “Ons kan nie sê dat dit nie ’n feit is nie en dat dit nie gebeur nie. Maar die reaksie daarop mag nie een van terugtrek wees nie. Die meeste geweld in Suid-Afrika word onder die armes in die townships gepleeg.
“Die boerderygemeenskap en hierdie omliggende gemeenskappe word deur dieselfde probleem in die gesig gestaar en moet in solidariteit saamwerk om ’n oplossing te vind vir dié gevaar wat albei bedreig. Ek vind selfs die taalgebruik waarmee na verskillende gemeenskappe verwys word problematies.
“As ek oor my gesin se veiligheid bekommerd is, moet ek ook oor my buurman se gesin bekommerd wees.
“So ’n soort langtermynsamewerking kan nie net op feite ge- skoei wees nie, maar op wedersydse begrip. Dit beteken nie ons hoef saam te stem nie, maar ons moet iets van gemeenskaplike belang identifiseer en saamwerk wat dit betref.”
Sy meen plattelandse gemeenskappe kan in hierdie opsig ’n goeie voorbeeld vir stedelinge stel omdat mense op die platteland in groter mate op mekaar aangewese is. “In die stede is die enigste ding wat verskillende gemeenskappe gemeen het, hul gemeenskaplike bekommernis oor korrupsie.”
Runji meen Suid-Afrikaners moet ophou om hulle soveel aan politieke uitsprake te steur. “Hou op om na die politici te luister. Luister eerder na mekaar. Ons hoef nie aan die politici verantwoording te doen nie, hulle moet aan óns verantwoording doen. Dwing hulle om hul mandaat na te kom. Hou op om hulle gedurig die geleentheid te gee om die verskille tussen ons vir politieke punte uit te buit.”
‘Boere moet eerder die geleentheid gegun word om te doen wat hulle góéd kan doen.’