Nuwighede
ALLES-IN-EEN DIGITALE BESTUURSTELSEL
Die webblad www.agri-growth.co.za is ’n aanlyn-bestuurstelsel wat boere met hul daaglikse bestuur en finansies help.
Veeboere kan daarmee onder meer elke individuele skaap en bees met ’n nommer aanteken. Elke lam kan aan ’n ooi en ’n ram gekoppel word, en elke kalf aan ’n koei/vers en ’n bul of KI-nommer.
Gewigte op spesifieke datums kan ingelees word, daaglikse melktye kan geskep word, koeie en verse kan as in of uit melk gemerk word, en die melkproduksie per koei of vers kan vir elke dag se melktye ingelees word. Maandelikse opsommings per individuele dier kan ook met die druk van ’n knoppie gesien word.
Wat voertuie, trekkers en toerusting betref, kan die toepaslike besonderhede van elkeen aangeteken word, asook die maandelikse kilometer- of uurlesing.
Werknemers se ure gewerk en verlof per maand of per jaar kan ingelees word, en ook hul aankope-, lening- en voorskot-aftrekkings. ’n Weeklikse of maandelikse betaalstaat kan ook vir elkeen geskep en uitgedruk word.
Wat finansiële data betref, kan die volgende verslae of inligting onder meer geskep word: ■ ’n Proefbalans in die formaat van jou keuse; ■ ’n Inkomstestaat wat vyf jaar se data langs mekaar plaas en elke vertakking se detail toon; ■ ’n Balansstaat; ■ ’n BTW-verslag waarop die dieselrabat in berekening gebring is en vir die indiening van jou opgawe gebruik kan word; en ■ Verslae per land wat insetkoste en opbrengs aandui, met statistieke vir geselekteerde maande.
Prys: ’n Maandelikse koste van R300 plus jaarlikse lisensiegeld van R600.