Plaasmoorde: Wêreld steun SA boere
DAAR is ’n groeiende bewussyn binne die internasionale landbougemeenskap van die gewelddadige aanslag op Suid-Afrikaanse boere. Die reaksie op die onlangse Swart Maandag-optogte het verdere momentum daaraan gegee.
“Nêrens ter wêreld is boere se veiligheid onder soveel druk as in Suid-Afrika nie,” sê dr. Theo de Jager, voorsitter van die Wêreldboereorganisasie (WFO) en self ’n Suid-Afrikaanse boer.
De Jager sê hy opper by elke moontlike geleentheid die kwessie van plaasveiligheid in Suid-Afrika, en sê hy kry goeie steun van verteenwoordigers van die Verenigde Nasies en Europese Unie.
“Rusland, Denemarke en Brittanje is veral bekommerd oor die situasie op ons plase, maar hulle raak nou eers bewus daarvan,” sê hy. Hy meen die meeste mense in die buiteland weet nie wat in Suid-Afrikaanse landelike gebiede aangaan nie omdat die verslaggewing oor kwessies, soos moorde op plase, hoofsaaklik in Afrikaans gedoen word.
Groeiende kommer oor landelike misdaad en die gebrek aan navorsing daaroor is nie net ’n Suid-Afrikaanse brandpunt nie, maar ’n wêreldwye neiging.
Trouens, die eerste groot samevatting van akademiese navorsing oor landelike misdaad – wat onder meer handel oor geweld, polisiëring en geregtigheid in meer as 35 lande – is maar verlede jaar gepubliseer as die Routledge International Handbook of Rural Criminology.
Mnr. Willie Clack, senior lektor in strafregpleging aan Unisa se regskollege, wat in September saam met landbou-organisasies ’n internasionale konferensie oor landelike misdaad aangebied het, sê inligting in dié boek wys hoe belangrik dit is om te weet wat internasionaal rakende landelike misdaad gebeur.
In die hoofstuk oor Frankryk word gesê dat verveelde jong mense op die platteland hul eweknieë in die stede wil na-aap, en ook dat landelike gebiede weens die inkorting van begrotings min aandag van die polisie kry.
SOORTGELYK
’n Hoofstuk oor Brasilië herhaal van die probleme waarmee Suid-Afrikaanse boere worstel – die styging in geweld en misdaad in landelike gebiede daar – en die skrywers sê navorsing is nodig oor die invloed van beleidsrigtings wat op stedelike veiligheid toegespits is, wettelose streke in landelike gebiede, ’n siening dat misdaad ongestraf bly, gewelddadige konflikte oor grond, asook die rol van ongelykhede in inkomste.
Clack sê sulke navorsing en kontak met buitelandse akademici wys dat geweldsmisdaad in landelike gebiede nie uniek is aan Suid-Afrika nie.
“Daar is ’n opvatting dat sulke misdaad net in Suid-Afrika toeneem, maar in ander dele van die wêreld gebeur dit ook.”
OPVATTINGS
Hy sê een van die belangrikste gevolgtrekkings uit die internasionale konferensie is dat daar wêreldwyd, maar veral in SuidAfrika, nie genoeg navorsing oor landelike misdaad gedoen word nie. “Ons het ’n klomp opvattings, maar is almal reg? Ons het nie ’n behoorlike begrip van wat in landelike gebiede gebeur nie. Baie van die opvattings word deur die media aangedryf.”
Hy meen Suid-Afrika is “ligjare agter” met navorsing oor dié tipe misdaad – iets wat akademici se taak is, nie die Regering s’n nie.
“Navorsing is nodig om beleid te kan beïnvloed, maar navorsing kan nie op opvattings gegrond word nie.”
Hy sê ’n mens moet versigtig wees wanneer jy SuidAfrika se misdaadsyfers met ander lande s’n vergelyk; net 51 lande, uit sowat 200 in die wêreld, doen verslag oor hul moordsyfers. Die res se syfers word geskat.
‘Navorsing kan nie op opvattings gegrond word nie.’