Franse onttrek aan Profert-transaksie
’N YSLIKE styging van 16,32% in boere se loonrekening staar hulle in die belastingjaar 2019 in die gesig nadat die Kabinet onlangs die inwerkingstelling van ’n nasionale minimum loon van R20 per uur of R3 500 per maand goedgekeur het.
Dié loon sal na verwagting vanaf 1 Mei volgende jaar geld.
Die Regering het egter ’n vergunning aan die landbou toegestaan dat die sektor se minimum loon 90% of R3 150 van die nasionale minimum loon moet wees en dat dit oor twee jaar ingefaseer moet word.
Die landbousektor se sektorale vasstelling, wat jaarliks einde Februarie aangepas word, sal tot en met 28 Februarie volgende jaar op R15,39 per uur, R692,62 per week (vir 45 uur) en R3 001,13 per maand staan.
Wanneer die sektorale vasstelling dan op 1 Maart volgende jaar moontlik met 8% moet styg – 7%, verbruikersprysinflasie (VPI) plus een persentasiepunt – sal dit R16,92 per uur, R747,90 per week en R3 238,61 per maand wees.
Twee maande daarna tree die nuwe nasionale minimum loon op 1 Mei volgende jaar in werking. Die landboubedryf sal dan ’n verhoging van 8,35% moet toestaan om R18 per uur (90% van R20 per uur) te bereik.
Me. Mmamoloko Kubayi, Minister van Kommunikasie, het aangedui die Parlement sal nou die wetsontwerp vir die nasionale minimumloon en die Wet op Basiese Diensvoorwaardes moet prosesseer en in ooreenstemming met mekaar bring sodat die minimum loon teen Mei geïmplementeer kan word.
BOERE SWAAR GETREF
Oor die algemeen sal die impak van die minimum loon groter wees op die primêre landbou as op besighede hoër op in die waardeketting. Daar is egter ook uitsonderings, sê mnr. Theo Boshoff, bestuurder van regsintelligensie by die landbousakekamer Agbiz.
Die meeste poste in die landboubesigheidsektor is deels geskoolde of geskoolde werk. Die salarisvlakke daar is dus reeds hoër as die minimum loon. Daar is wél uitsonderings, soos in die sitrus- en vrugtebedryf, waar die verhoging ’n impak in verpakkingsaanlegte sal hê.
Binne die primêre sektor sal die invloed van die wetgewing afhang van hoe arbeidsintensief die boerdery is.
By meer gemeganiseerde boerderye sal daar waarskynlik ’n kleiner impak wees. Dit is omdat daardie bedrywe ’n groter behoefte het aan geskoolde werkers – soos trekkerbestuurders of ander masjinerie-operateurs – wat reeds salarisse verdien wat nader aan die voorgestelde minimum loon is. Daarenteen sal die vrugtebedryf waarskynlik swaarder getref word, aangesien arbeid ’n groter deel van hul insetkoste uitmaak. Baie van die werkers in dié bedryf is ongeskoold en verdien dus ’n salaris wat nader aan die huidige minimum loon is, sê Boshoff.
“Ongelukkig is dit juis arbeidsintensiewe areas, soos die WesKaap, wat reeds onder druk is. In die derde kwartaal van vanjaar het die landbousektor ongeveer 25 000 werkgeleenthede prysgegee. Ongeveer 84% daarvan was in die Wes-Kaap, aangesien die provinsie tans onder baie druk is weens die droogte,” sê hy.
PRESIESE IMPAK
Boshoff gee toe dit is moeilik om presies aan te dui wat die impak van die minimum loon op die landbousektor as geheel gaan wees. Dit is egter kommerwekkend dat die provinsies wat waarskynlik die swaarste getref
gaan word, dié is waar arbeidsintensiewe bedrywe prominent is. Dié provinsies verkeer ook tans onder druk weens die droogte.
Die “ligter” kant van die boodskap is dat bedrywe waar arbeid ’n kleiner deel van die insetkoste opmaak, waarskynlik minder van ’n impak sal voel.
KWYTSKELDING
Indien die hoër lone vir ’n landbouer onbekostigbaar is, word die opsie om aansoek te doen om kwytskelding ook in die konsep ingesluit. Dit word egter nie gewaarborg dat só ’n aansoek toegestaan sal word nie.
Adj.pres. Cyril Ramaphosa, wat die ondersoek na die inwerkingstelling van die minimum loon gelei het, het al gesê dat ondernemings wat dit nie kan bekostig om die nasionale minimum loon te betaal nie, aansoek kan doen om tot 12 maande se kwytskelding.