Grondhervorming: ’Zuma, só verlig jy nie armoede nie’
Baie is al gesê oor die gaping tussen ryk en arm in Suid-Afrika. Die manier hoe pres. Jacob Zuma hierdie gaping wil oorbrug — deels met die hertoewysing van landbougrond teen die agtergrond van mislukte grondhervorming — maak egter geensins sin nie.
Mnr. Pali Lehohla, statikus-generaal, het die jongste verslag oor armoede in Suid-Afrika bekend gemaak. Volgens hom het armoede tot 55,5% van die bevolking toegeneem, wat beteken 30,4 miljoen mense kom met R992 per maand of minder klaar.
Daar is 13,8 miljoen mense wat in uiterste armoede leef – met minder as R441 per maand. Meer as die helfte van die bevolking leef dus in die een of ander graad van armoede, terwyl die oorblywende deel na bewering in welvaart baljaar. Dit maak Suid-Afrika volgens voortdurende mediaberigte een van die lande waar die gaping tussen ryk en arm die grootste is.
Sulke statistiek skep vrugbare teelaarde vir politieke uitsprake. In vanjaar se staatsrede het pres. Jacob Zuma dan ook die volgende te sê gehad: “Twee-en-twintig jaar ná ons vryheid en demokrasie is die meeste swart mense steeds ekonomies ontmagtig. Hulle is ontevrede met die ekonomiese voordele van bevryding.”
Dan definieer hy sy voorgestelde radikale maatskaplik-ekonomiese transformasie as: “. . . fundamentele verandering in die struktuur, stelsels, instellings en patrone van eienaarskap, bestuur en beheer van die ekonomie ten gunste van alle Suid-Afrikaners, veral die armes, die meeste van hulle Afrikane . . .”
DIE SYFERS
Volgens TABEL 1 het Suid-Afrika ’n werksmag van 22,3 miljoen mense. Dit is uiteraard mense wat oud genoeg is om te kan werk en beskikbaar is. Van hulle is 16,1 miljoen in diens, wat beteken 6,2 miljoen van die werksmag is tans werkloos. Die 875 000 mense in diens in die landbou sluit alle landboubesighede in, nie net boerderye nie.
TABEL 2 bevat inligting oor die aantal mense in Suid-Afrika wat staatstoelaes ontvang. Daar word tans altesaam 17 miljoen toelaes ter waarde van R137 miljard uitbetaal. Party mense ontvang meer as een toelaag. Gevolglik is daar 10,6 miljoen mense wat staatstoelaes ontvang. Saam met die aantal werkloses is daar dus 16,8 miljoen mense wat geen bydrae tot die land se ekonomiese produksie lewer nie en gevolglik ook geen of baie min inkomste van enige aard van hul eie ontvang.
In TABEL 3 word die aantal mense wat deur persoonlike inkomstebelasting geraak word, aangedui. Daar was in die belastingjaar 2015 sowat 18,1 miljoen individue as belastingbetalers by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) geregistreer. Van hulle het slegs 6,6 miljoen opgawes ingedien. Uiteindelik is 4,8 miljoen aangeslaan om belasting te betaal of selfs terug te kry. By implikasie het 4,2 miljoen belastingbetalers (dié wat meer as R70 000 verdien het) R1,4 duisend miljard se persoonlike inkomstebelasting tot die staatskas bygedra. Daarvan is 9,7% aan staatstoelaes bestee.
DIE KURWE
Die Gini-koëffisiënt is verreweg die gewildste
maatstaf om welvaartongelykheid te bepaal. Dit word op sy beurt van die Lorenz-kurwe afgelei, soos voorgestel in die GRAFIEK . Dié kurwe verbind die kumulatiewe datapunte van individuele inkomste wat deur die hele bevolking verdien word, waar die bevolking gerangskik word van dié wat die minste ver- dien tot dié wat die meeste verdien.
In ’n perfekte wêreld sal daar nie ’n kur- we wees nie, maar ’n reguit lyn. Die kurwe in die grafiek weerspieël dus ’n oorwig van die algehele inkomste na die ryker deel van die bevolking ten koste van die armer deel van die bevolking. Suid-Afrika se Gini-koëf- fisiënt is tans 0,63, wat op ’n hoë mate van ongelykheid dui.
Die probleem met Suid-Afrika se Lorenz-kurwe is egter dat dit ter aanvang eers die 6,2 miljoen werkloses insluit wat géén bydrae tot produksie lewer nie en gevolglik ook geen inkomste verdien nie. Daarna sal die aantal afhanklikes ingesluit word wat deur mense wat wel inkomste verdien, onderhou word. Dan volg diegene wat staatstoelaes ontvang. Hulle lewer ook geen netto bydrae tot die skepping van inkomste nie en ontvang inkomste wat vanaf die 4,2 miljoen belastingbetalers gevorder word.
Meer as halfpad teen die Lorenz-kurwe op is daar dus nog niemand wat ekonomies produktief is nie. Dit is dus nie verbasend nie dat 55% van die bevolking met minder as R992 per maand moet klaarkom. Om op grond van die Lorenz-kurwe dus die indruk te probeer skep dat die ongelykhede in welvaart die toedoen van veral die 4,2 miljoen belastingbetalers aan die regterkant van die kurwe is, is om ’n bekentenis uit die statistiek te probeer kry wat nie bestaan nie.
PRODUKTIWITEIT
Zuma se plan behels onder meer die hertoewysing van landbougrond aan diegene aan die linkerkant van die Lorenz-kurwe, ten koste van dié aan die regterkant daarvan. In ’n vryemarkomgewing is prys die hoofmeganisme waarmee hulpbronne op die doeltreffendste manier toegewys word. Dit beteken ook dat die optimale toewysing van landbougrond nou verwant is aan produktiwiteit, in so ’n mate dat meer grond toegewys word aan boere wat produktiewer is as ander.
Dit is nie duidelik watter grondhervormingsplan Zuma by sy radikale ekonomiese transformasie insluit nie. Die laaste voorstel van die Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming was die een dat kommersiële (wit) boere 50% van hul boerderybates (grond én ander los bates) aan hul (swart) plaaswerkers moet oordra. Dit gaan in die praktyk dus daarop neerkom dat 34 861 boere die helfte van hul bates aan die 875 000 werkers wat in die landbou werksaam is, moet oordra.
Om te dink hierdie manier van die hertoewysing van ekonomiese hulpbronne gaan die Gini-koëffisiënt verklein, is om te dink dat die gewig van ’n speenkalf met die temperatuur van ’n motor in verband gebring kan word. Dit gaan gewoon nie werk nie, want dié 875 000 werkers is ekonomies aktief en ontvang geruime tyd reeds ’n statutêre minimum loon daarvoor. Dit is juis nié hulle wat aan die linkerkant van die Lorenz-kurwe lê nie.
GRONDHERVORMING
Die Regering het nie ’n suksesvolle rekord met die hertoewysing van plaasgrond nie. Gesamentlike navorsing deur die Universiteit van Wes-Kaapland en die Rhodes-universiteit wat oor ’n tydperk van drie jaar in opdrag van die Oos-Kaapse portefeuljekomitee vir landbou uitgevoer is, het met skokkende bevindings vorendag gekom: Arm families en gemeenskappe wat toegang tot plaasgrond bekom het, word aan hul eie lot oorgelaat, met algehele onsekerheid oor wie werklik die grond besit. Tussengangers en diensverskaffers onderskep die meeste van die finansiële voordele wat wel beskikbaar is. Hoewel die aanvanklike ooreenkomste die geleentheid aan swart boere bied om hul huurkontrakte mettertyd op te knap, is hul eiendomsregte tans só verwater dat hulle die status van informele opsigters oor die grond het. Kortliks, die verslag bevind dat grondhervorming in die Oos-Kaap polities só skeefgetrek geraak het dat dit klaaglik misluk het om sekerheid te skep, armoede te verlig of ’n lewensvatbare, swart, kleinskaalse kommersiële landbousektor tot stand te laat kom.
VAARDIGHEDE
Welvaart is regstreeks aan ’n individu se vaardighede gekoppel. ’n Mens neem waar, weeg die bedreigings en geleenthede teen mekaar op, evalueer sy beskikbare vaardighede, tyd en hulpbronne en formuleer dan ’n plan om dit op die beste manier aan te wend. Dit is dus in elkeen se eie hande hoe hy in die ekonomiese stelsel gaan oorleef en uiteindelik dalk floreer. Ongelykhede in ekonomiese welvaart ontstaan juis wanneer sekere mense hul vaardighede beter as ander kan aanwend. Elke mens moet dus ander probeer oortuig dat hy of sy ’n ekonomiese waarde het.
Daar moet gevolglik aanvaar word dat verreweg die meeste mense aan die linkerkant van die Lorenz-kurwe nie oor ekonomiese vaardighede en/of talente beskik wat in aanvraag in die ekonomie is nie. Hulle het dus weinig ekonomiese waarde en kan daarom ook geen welvaart skep nie.
Die 6,2 miljoen werkloses en die 10,6 miljoen ontvangers van staatstoelaes is ekonomies onaktief en skep geen welvaart vir die ekonomie óf vir hulself nie. Hulle het wel ’n politieke waarde. Dié verruil hulle elke vyf jaar vir vae beloftes van radikale ekonomiese transformasie en ’n geel T-hemp. Dit is vir Zuma belangrik om die “illusie” van ongelykheid pleks van die “werklikheid” daarvan in stand te hou. Daarom is daar baie uitsprake, maar min dade. Wanneer dié kiesers besef “… fundamentele verandering in die struktuur, stelsels, instellings en patrone van eienaarskap . . .” kan geen nuwe welvaart vir hulle skep nie, gaan hulle bloot hul politieke waarde aan die hoogste bieër aanbied.
Deur ’n groot deel van hulle egter ekonomies aktief te kry, sal hulle ’n ekonomiese waarde kry. Dit is ’n veel meer realistiese benadering tot gelyke welvaartsverdeling vir Suid-Afrika as vae politieke beloftes.