Droogte gepypkan: SAse6 beste veeboere
In die nadraai van een van die ergste droogtes in Suider-Afrika toon veeboere steeds in moeilike omstandighede hul staal. Al ses finaliste in die 15de nasionale Bees- en Skaapboer van die Jaarkompetisie het deur produksiegedrewenheid die volhoubaarheid va
MNR. PIETER GILDENHUYS EN SY SEUN, PIETER-JANSE,
boer met sowat 2 300 kommersiële Merino-ooie op die plaas Kleinbosheuwel in die distrik Heidelberg in die Suid-Kaap.
Hul weidingshulpbronne bestaan uit lusernweiding en gars- en koringoesreste wat saam ’n goeie voervloei voorsien. Die boerdery se veebelading is sowat 5,7 kleinvee-eenhede (KVE) per ha, wat met die drakrag van die weiding ooreenstem.
Goeie weidingsbestuur en ’n wisselboustelsel, hulpbronbenutting en voervloeibeplanning verseker onder meer uitstekende finansiële resultate, soos weerspieël word in ’n vergelyking met die resultate van die lede van ’n Suid-Kaapse studiegroep. Die Gildenhuys-boerdery presteer deurgaans ver bo die gemiddelde.
Hulle het drie lamtye in twee jaar. Ooie word op die ouderdom van 11 maande die eerste keer gedek. Ooie wat oorslaan, word voor die voet uitgeskot. ’n Speenpersentasie van sowat 130 word behaal. In lamtyd word die ooie twee keer per dag besoek om lamverliese te beperk.
Die jaarlikse reënval is gemiddeld 448 mm, maar hulle het vanjaar net 235 mm ontvang. Lakterende ooie kry daagliks byvoeding wat wissel van 250 g tot 500 g per ooi, na gelang van die weidingstoestande.
Hulle doelwit is om gebalanseerde skape te teel wat medium- tot fyn wol van ’n hoë gehalte oplewer en ’n goeie lengte het.
Die Gildenhuyse pas gevestigde praktyke suksesvol toe. Hulle koop ramme aan op grond van die produksiedata van gevestigde telers wat aan die Merinoplan deelneem. Volledige teelwaardes en die reproduksiegeskiedenis van die ramme se moeders is ook beskikbaar.
MNR. HANNES KOTZÉ EN SY VROU, HENRIËTTE,
bedryf hul gemengde boerdery op hul woonplaas, Alexandershoek, by Moorreesburg. Hannes is ’n SA Vleismerino-stoetteler van formaat en sy kudde het sowat 800 teelooie.
Die weidingshulpbronne is lupiene-, haweren koringstoppellande en medics- en hawerweiding in die winter. Hierdie gebied is steeds in ’n ongekende droogte vasgevang. Waar die normale drakrag normaalweg 3 KVE/ha is, is die veebelading nou afgeskaal tot 1,5 KVE/ha.
Hannes se eerste strategie was om alle ondergemiddelde presteerders uit te skot en net die bestes terug te hou. ’n Goeie stelsel van aantekeninge hou het hierdie proses vergemaklik en die seleksie kon akkuraat uitgevoer word. Hy het ’n lente- en herfslamtyd en verwag van elke ooi om jaarliks te lam. Ooie word op die ouderdom van 12 maande die eerste keer gedek. ’n Speenpersentasie van 121 is die afgelope jaar aangeteken. Sy teelbeleid is om lewenskragtige lammers wat vinnig groei, regstreeks van die ooie af te bemark.
Dié boerdery gebruik geen hormone of kunsmatige hulpmiddels om reproduksie onnatuurlik te verhoog nie. Hy teel dus vir laekoste-diere wat by sy omgewing aangepas is. Op lang termyn verminder dit die risiko van hoë produksiekoste.
Die kleinveekomponent van MNR. FRANS EN MEV. REINETTE WIID
se boerdery bestaan uit meer as 8 000 kommersiële DohneMerino- en Dorper-teelooie in ’n goed gediversifiseerde boerdery op Die Lande in die Noord-Kaapse distrik Hopetown.
Die Dohne-Merino-lammerooie word op meerjarige, besproeide weidings aangehou. Dié hoëgehalteweiding bestaan uit ’n beproefde mengsel van langswenk-, kropaaren raaigras, asook klawer. Die weiding word selektief op bepaalde grond met ’n keerlaag geplant. Die effektiewe plantdiepte is sowat 20 cm. Die winsgewendheid van sy skape op besproeide weidings klop dié van kontantgewasse op lang termyn.
Die Dorpers word ekstensief op natuurlike weiding aangehou. Slegs ooie met meerlinge word aanvanklik in lamhokkies versorg voor hulle teruggaan veld toe. Die ekstensiewe Dorpers vind dus ook baat by sy lamhokstelsel om lamverliese te beperk.
Frans se seleksie vir vrugbaarheid by ál sy ooie is onverbiddelik. Te danke aan sy omvangryke kudde selekteer hy maklik diere wat by sy hulpbronne aangepas is. “Ek slag my ooie bang,” spot hy oor die uitskotbeleid wat hom in staat gestel het om oor die jare ’n hoogs vrugbare kudde op te bou.
Alle ooie wat lammers van ouer as ses weke het, word gepaar. ’n Speenpersentasie van 140 word behaal.
Frans beskou die bekamping van skadelike diere as die grootste stryd in sy veeboerdery. Hy beperk sy veeverliese deur elektriese omheinings, jaghonde, vanghokke en opgeleide jagters.
MNR. DAWIE ALBERTYN EN SY VROU, MELANIE,
van die Nacht Wacht-stoetery in die Overberg doen sedert 2003 stoetteling met Sussexbeeste. Die gebied tussen Bredasdorp en Waenhuiskrans waar dié geskiedkundige plaas lê, staan plaaslik as Klein Holland bekend. Die plat wêreld daar is in ’n tradisionele skaapproduksiegebied wat sedert 1895 deur vier geslagte van die Albertyn-familie bewerk word.
Een van die weidingshulpbronne is ’n groot gedeelte vleie en duineveld wat nie vir skaapboerdery geskik is nie, maar goed deur beeste benut word. In hul wisselboustelsel plant hulle kontantgewasse (koring, gars, hawer, kanola en koring) vir vyf jaar, gevolg deur lusern, klawer en raaigrasweidings vir tien jaar. Die gemiddelde jaarlikse reënval is 400 mm.
Hul teeldoelwit is om goed aangepaste mediumraamdiere met ’n goeie haarkleed en genoeg melk te teel. Meer klem word tans op die teling van poenskoppe geplaas. Danksy goeie weiding en hul teelbeleid weeg die kalwers met speentyd gemiddeld 300 kg. Die kudde van sowat 300 teelkoeie se speenpersentasie was in die afgelope jaar 86. Twee dektye – in die herfs en in die lente – word gebruik. Verse word op die ouderdom van 18-20 maande gedek.
“My diere is goed by ons omgewing aangepas. Die vroulike diere is hoogs vrugbaar en het uitstekende moedereienskappe en ’n goeie temperament. Hulle het ook oorgenoeg melk om swaar speenkalwers te lewer,” sê Dawie.
Hy ervaar ook dat dié ras met sy kleiner kalwers min geboorteprobleme het.
Dawie se toekomsplanne vir sy stoetery is om deurentyd die beste teelmateriaal moontlik aan kommersiële boere te verskaf sodat dit ’n opbouende bydrae tot hul beeskuddes kan lewer.