50 JAAR GELEDE SWARTWILDEBEESTE SÓ VAN UITWISSING GERED
Uit: Landbouweekblad, 28 November 1967 Danksy mnr. Piet Terblanche, boer van Kroonstad, en later ook mnr. Hendrik Delport van die plaas Langkuil by Odendaalsrus is die swartwildbees meer as ’n eeu gelede van uitroeiing gered, skryf Hennie Delport van Bothaville in ’n artikel.
Luidens die artikel was die swartwildebees en die (nou uitgestorwe) kwagga albei diere van die grasvlakte en was daar ’n wederkerige aangetrokkenheid en aanvullende beskerming tussen hulle — net soos daar vandag nog is tussen die blouwildebees en die sebra, wat weer diere van die bosveld is.
Ná die uitwissing van die kwagga was die swartwildebees in die 1800’s ook op pad na uitroeiing. Teen omstreeks 1890 was die enigste oorblywende swartwilde- beeste, sover bekend, op Terblanche se plaas by Kroonstad.
Terblanche, ’n vermoënde man, het die gevaar bemerk en met die beskerming van swartwildebeeste en ander wild op sy eiendom van duisende morg begin. Alle jag is daar verbied.
Ná sy dood is dié wildparadys deur die plesiersoekende mynmagnate en rykes van die Randse goudvelde ontdek. Groot jagpartye is gereël en daar is onder die wild gemaai — soveel so dat die swartwildebees weer op die randjie van uitroeiing was. Van die swartwildebeeste wat voor die jagters uit gevlug het, het op Delport se plaas, Langkuil, beland. Hy het besef wat aangaan en die oorblywende wildebeeste in dié geweste bymekaargemaak — waarmee opnuut met die bewaring van dié wildsoort begin is.