‘LANDBOUSENSUS KAN HELP MET BETER PLANNE’
DIE saadjie is geplant om die insiggewende provinsiale huishoudelike sensus onder landbouwerkers in die Wes-Kaap ook na ander provinsies uit te brei.
Dié sensus, wat die Wes-Kaapse departement van landbou R7,7 miljoen oor die afgelope drie jaar gekos het, het gelei tot ’n omvattende plaaswerker-databasis in die provinsie. Verskeie regerings- en private programme is reeds van stapel gestuur om die lewensgehalte van mense wat in die landbou werk, te verbeter.
“Dit was broodnodig vir die provinsiale regering om dié detail in die hande te kry, want dit stel ons in staat om ernstige besluite te neem oor probleme wat ons samelewing in die gesig staar. Die werk moes al lankal gedoen gewees het, want die hele Regering sal dit kan benut,” het mnr. Alan Winde, Wes-Kaapse minister van ekonomiese geleenthede, op ’n mediakonferensie in Kaapstad gesê.
Die sensus-resultate is ook aan mnr. Senzeni Zokwana, nasionale Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, voorgelê.
“Dis ’n stuk gereedskap wat almal kan gebruik, maar die minister het dadelik gevra hoekom is so iets nie beskikbaar vir die hele land nie. Hopelik word dit uitgebrei; ons het die saadjie geplant.”
GROEI IS ’N MOET
Bykans 43 000 plaaswerkers van 2 991 plase het aan die sensus deelgeneem en net meer as 11 000 huishoudings is ondervra. Die meeste van die respondente was tussen 19 en 34 jaar oud. Net meer as 45% van die werkers verdien van R2 500 tot R4 999 per maand.
Een van die belangrikste bevindinge is dat die Wes-Kaapse landbou sy sokkies sal moet optrek om ekonomiese groei te handhaaf, wat weer groter indiensneming sal ondersteun.
“Die landboubedryf moet ekonomiese groei van 8% tot 15% handhaaf om die toename in werksoekers te absorbeer. Die sensus vertel ons dat 34% van die respondente oor die volgende 15 jaar die arbeidsmark gaan betree, terwyl 12% dit gaan verlaat.”
Dít is te midde van droogte en voëlgriep wat groot druk op werkskepping plaas.
“Net die sowat 80% minder aartappels en 50% minder uie wat in die Ceres-omgewing geplant word, beteken klaar ’n hap van R40 miljoen uit die lonerekening. Ons loop die risiko om sowat 50 000 werkgeleenthede weens die droogte te verloor,” sê Winde.
Landbouweekblad het al berig dat die sensus toon net 8,5% van die respondente kan matriek agter hul naam skryf en minder as 1% het tersiêre opleiding.
Me. Antonia Xaba, hoofdirekteur van landelike ontwikkeling by die Wes-Kaapse departement van landbou, meen die groter aantal werksoekers en swak opleiding, tesame met die struikelblokke wat die vierde industriële rewolusie daarstel, beteken daar is ’n probleem op hande.
GESONDHEID
“Wat gesondheidsorg betref, het meer as 11 000 mense aangedui hulle is bekommerd oor swak sig. Talle vroue het die behoefte aan papsmere aangedui,” sê Winde.
“Ons het nou ’n beter begrip van die behoeftes en probleme van ons inwoners in landelike gemeenskappe. Ons besef ook nou watter hoop hulle vir hul toekoms koester en kan hulle nou help om daardie geleenthede aan te gryp.”
Volgens Winde sal die sensusinligting gebruik word om die Wes-Kaapse regering se aksieplan tot 2024 te rig.
‘Hoekom is so iets nie beskikbaar vir die hele land nie?’