Raad teen siektes
Met planttyd van Oktober tot Desember verlede jaar was ’n groot gedeelte van die reproduktiewe stadium van sonneblomme aan koel, nat en bewolkte weer blootgestel. Aanplantings het vegetatief hoog uitgegroei en baie siektes is op die landerye waargeneem.
Die sonneblomme wat einde Desember verlede jaar en in Januarie en begin Februarie vanjaar aangeplant is, het met opkoms die voordeel van koeler en natter toestande gehad. Die tradisionele standprobleme weens hoë grondtemperature het nie so algemeen voorgekom in Januarie en Februarie vanjaar nie. In die algemeen was die stande vir hierdie planttye redelik goed.
Swakker as verwagte reën in Maart en April het ’n invloed gehad op die finale opbrengs, maar met ’n doeltreffende penwortel was die plante in staat om vog te gaan haal. In dié klimaatstoestande het Sclerotinia-besmettings relatief minder as gewoonlik voorgekom. Die voorkoms van Alternaria en swartstam was ook relatief minder vir hierdie aanplantings. Beter opbrengste is met die later aanplantings behaal.
PROBLEEMSIEKTES
Swartstam (Phoma macdonaldii) is nie ’n siekte van ekonomiese belang nie, buiten in die geval waar dit lei tot stamme wat knak en plante wat omval.
Houtskoolvrot (Macropho- mina phaseolina) het in die vorige groeityd ongesiens redelik algemeen voorgekom by sonneblomme. Dit word gekenmerk deur voortydige afsterwing en die afdroging van die sonneblomaanplanting.
Houtskoolvrot is die afgelope twee tot drie jaar in die weste veral by mielies waargeneem. Die siekte word verbind met goeie, vogtige toestande vroeg in die groeityd, gevolg deur stremming in die reproduktiewe stadium.
Vanweë die voorkoms van houtskoolvrot by mielies het die patogene organisme al redelik in oesreste opgebou. Besmetting vind reeds vroeg in die groeityd plaas, maar kom eers gedurende ’n tydperk van stremming in die reproduktiewe stadium na vore.
Bruinroes (Puccinia helianthi) is die afgelope twee seisoene algemeen by sonneblomme waargeneem. Dit wil voorkom of die natuurlike weerstand wat sonneblombasters teen bestaande roesspesies gehad het, afgebreek het. Besmetting weens besmette oesreste word deur nat, koel en vogtige toestande bevorder.
BESTUURSPLANNE
Dit is duidelik dat daar in die vorige groeityd ’n sterk wisselwerking tussen die omgewing, die patogene organisme en die gasheer plaasgevind het. Om verskeie redes wat met die prys, opbrengs en bedryfskoste van mielies verband hou, het boere sonneblomme vir ’n tweede maal op dieselfde lande aangeplant. Dié tydelike bestuursplan verhoog egter die risiko weens hoër druk van die patogene organisme en die teenwoordigheid van die gepaste gasheerplant.
BESTUURSFOUTE
Hoë insekdruk is veral waargeneem by van die vroeë aanplantings. Saadbehandelings by sonneblomme is nie soos in die geval van mielies geregistreer om ’n wye reeks insekte te bekamp nie.
Chemiese oordrag, spuittenkbesoedeling en chemiese bespuitings wat nie geregistreer is nie, is algemene foute wat van tyd tot tyd gesien word. Boere moet onthou as hulle die vorige jaar kalk toegedien het, is daar ’n hoër risiko dat die band tussen die chemiese middel en die kleideeltjies verbreek kan word. Dit kan die aanplanting beïnvloed.
Die omval van plante is op talle lande in die Vrystaat en Noordwes gesien. Nadere ondersoek het getoon die plant se penwortel kon weens aansienlike verdigtingsprobleme nie deur die verdigtingslaag dring nie.
Op baie lande is gesien dat die bemestingsprogram of die grond se voedingstatus nie op optimale peil is nie. Aanplantings het vegetatief swak gegroei en het ’n relatief klein blaaroppervlakindeks gehad. Dit het ook swak selwandsterkte getoon. Die invloed van ’n lae grond-pH moenie buite rekening gelaat word nie. Baie sonneblomme word geplant op lande waarvan die pH (KCL) ver onder 4,8 is. Onthou, sonneblomme is gevoeliger vir ’n lae pH as mielies.
Mnre. Corné van der Westhuizen en Hendrik Linde is landboukundiges by Pannar. NAVRAE: www.pannar.com