MNR. BERTUS BURGERS
boer met Bovelders op die plaas Rietvallei in die distrik Utrecht in KwaZulu-Natal. Die jaarlikse reënval is 750 mm tot 900 mm. In die hoërliggende dele van die plaas met sy suurveld word die veld jaarliks gebrand. Die weiding is vir drie en ’n half maande van die jaar van hoogstaande gehalte, waarna die voedingswaarde aansienlik afneem. Benewens die benutting van natuurlike weiding word aangeplante oulandsgras en veldgras gebaal. Hy gebruik dit saam met ’n produksielek vir twee tot drie maande vanaf Augustus wanneer die koeie kalf.
Bertus laat sy Bovelderbeeste op laerliggende weiding oorwinter. Sy weiding se drakrag is 2,5-3,5 ha per grootvee-eenheid (GVE), en sy veebelading is net onder dié norm.
Hy boer met sowat 1 000 teelkoeie wat ’n speenpersentasie van sowat 90 handhaaf.
Hy volg ’n sonderlinge teelprogram in die sin dat hy sy koeie einde Januarie vir dragtigheid laat toets, dadelik ná ’n dektyd van drie maande. Slegs die koeie wat voelbaar dragtig is, word behou. Dit bring mee dat 80% van sy koeie in die eerste 30 dae van die kalftyd kalf. Die koeie wat nie op 31 Januarie voelbaar dragtig is nie, word met kalwers en al verkoop, mits hulle aan sy minimum standaarde voldoen. Ou koeie en ander wat oorgeslaan het, word as slagdiere bemark.
Die verse word ’n maand vroeër, in Oktober, vir sowat 70 dae by die bul ingejaag. Slegs die verse wat in die eerste twee siklusse kalf, word behou.
Die kalwers word op 260 kg gespeen, aangesien hy meen dat die bykomende gewig van sowat 40 kg die verse vir die res van hul produktiewe leeftyd bevoordeel. Met speentyd word 40% van die verse teruggehou. Hulle word op 24-26 maande gedek. Bertus het net een dektyd per jaar. Die verse weeg dan 330 kg tot 360 kg en volwasse koeie 480 kg.
Hy volg ’n goed geformuleerde lekprogram wat onder meer bestaan uit ’n prikkellek wat strategies tydens dektyd gebruik word, terwyl die res van die beeste ’n basiese aanvulling van fosfaat en spoorelemente in die somer kry. In die winter kry hulle ’n proteïen-onderhoudslek.