Voëlgriep: Om in te ent – of nie?
Beheermaatreëls wat tot dusver ten opsigte van voëlgriep geneem is, het nie daarin geslaag om die verspreiding van die siekte in Suid-Afrika te voorkom nie. Tensy dringende stappe gedoen word om voëlgriep hok te slaan, kan werksverliese weens die verlies
Sedert die H5N8-voëlgriepvirus die eerste keer op 22 Junie in Mpumalanga opgemerk is, is gelokaliseerde uitbrekings van die virus landwyd aangemeld. Gevolglik moes miljoene hoenders van kant gemaak word. Terwyl die Regering en die hoenderbedryf sukkel om doeltreffende, praktiese planne te maak om die uitwerking van die siekte op die bedryf te minimaliseer, storm voëlgriep voort op sy pad van vernietiging.
’n Taakspan is onder meer besig om inenting as ’n opsie te oorweeg en daar word dringend gewag op ’n besluit deur die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye.
INENTING
“Tot op hede het die moontlikheid van inenting nie veel aandag in die media geniet nie,” sê mnr. Hermann Stassen, sake-eenheidsbestuurder van Ceva Animal Health.
“Artikels oor die sogenoemde risiko van inenting het die publiek mislei deur op die punt te konsentreer dat ingeënte hoenders en ander pluimvee nie van besmette voëls onderskei kan word nie.
“Danksy nuwe inentingstegnologie is dit egter nie meer die geval nie, aangesien die entstowwe nie ’n volledige voëlgriepvirus behels nie. Hoenders wat met die veldvirus besmet is, kan wél met behoorlike moniteringsprogramme opgespoor word.”
VOORDELE
Volgens Stassen kan die volgende voordele van inenting nie geïgnoreer word nie. Inenting maak pluimvee bestand teen besmetting sodat meer virusse nodig is om ’n voël te besmet. Inenting verminder die kliniese simptome sodat die siekte aansienlik minder nadelige gevolge het. Inenting verminder die replisering van die virus by ingeënte pluimvee op plase sodat die verspreiding van die siekte minder waarskynlik is. Dit verlaag die waarskynlikheid van mutasies of hergroepering. Hergroepering kan lei tot die vorming van virusse wat antigenies verskillend, meer patogenies en meer geneig is as die huidige virus om mense te besmet, wat weer tot ’n pandemie kan lei.
WÊRELDWYE REAKSIE
Lande waar die siekte min of meer deurlopend met wisselende intensiteit voorkom, na gelang van die tyd of streek, is lande waar voëlgriep endemies is. Dit is onder meer Mexiko, China, Indonesië, Viëtnam, Bangladesj en Egipte. In daardie lande word inenting aanvaar, en boere ent hul pluimvee met reëlmaat in om te voorkom dat die siekte opduik. Sodoende het dié lande hul pluimveebedryf “gered” en boere beskou inenting teen voëlgriep as doeltreffend en nodig.
Om verskeie redes het daardie lande nie daarin geslaag om die siekte volkome uit te wis nie, grootliks omdat die inenting ingestel is nadat die siekte endemies geword het en daar geen gekoördineerde pogings was om dit uit te wis nie.
Daar is lande waar die siekte reeds voorgekom het, maar toe uitgewis is as gevolg van die toepassing van ’n goed georganiseerde uitwissing-en-vergoedingsbeleid. Amerika, Europese lande en Chili het onder meer die siekte uitgewis. Hierdie programme is egter duur en dus nie in elke land uitvoerbaar nie.
Ander lande het inenting gebruik – as ’n aanvullende instrument tot uitwissing – net wanneer daar ’n uitbreking is. Inenting is toegepas en die pluimvee is getoets. Besmette voëls is dan van kant gemaak selfs al was hulle ingeënt. Dié metode was suksesvol wanneer dit saam met behoorlike biosekerheiden moniteringsmaatreëls toegepas is.
TYD VIR OPTREDE
“Binne enkele jare het voëlgriep in feitlik alle lande ’n ernstige bedreiging vir die pluimveebedryf geword. Die tyd wat nodig is om besmetting in bedwang te bring, is moeilik om te voorspel. Dit is veral in die lig van vroeëre ondervinding, wat getoon het dat die virusse wat nou voorkom, hoogs aansteeklik is. Die H5N8-virus wat nou in Suid-Afrika is, het 47 lande in minder as ’n jaar besmet.
“Inenting speel ’n noodsaaklike rol in die beskerming van pluimvee teen kliniese tekens en die voorkoming van verliese. As ons bereid is dat ons perde en selfs ons self teen griep ingeënt word, wat maak die beskerming van ons pluimvee dan so anders?” beklemtoon Stassen.