Vra vir Faffa
Wat is die doeltreffendste manier om die gemiddelde daaglikse gewigstoename en voeromsetting van lammers en beeste in ’n voerkraal te meet sodat die voer nie die wins opvreet nie, maar ook nie die dier se prestasie beïnvloed nie? Albei dié verhoudings meet diere se biologiese produktiwiteit of groeiprestasie.
Die gemiddelde daaglikse gewigstoename (GDT) word gemeet as die lewende gewig wat ’n dier oor ’n tydperk swaarder word en wat dan met ’n gemiddelde syfer per dag oor daardie tydperk uitgedruk word.
Die liggaamsgewig, en nie die gewig van die rumeninhoud nie, is belangrik. ’n Herkouer se rumeninhoud kan tot 10% of meer van die lewende gewig wees. Die voer en waterinname kan lei tot ’n verkeerde of skeefgetrekte GDTsyfer. Diere het gewoonlik ’n sekere vreet en drinkgedrag en die rumen is op ’n sekere tyd van die dag tipies met ’n sekere gewig gevul. Die lewende gewig wat aan die begin en einde van die voertydperk geneem word, moet dus op dieselfde tyd van die dag wees sodat die rumenvulling en gewig in albei gevalle dieselfde is.
Weeg die diere op ’n leë pens, dus voor die dag se eerste voer gegee word. Só sal die lewende gewigstoename die akkuraatste gemeet kan word. Elke dier kan individueel geweeg word om die GDT te bepaal.
Die voeromsettingsverhouding (VOV) verwys na die hoeveelheid kilogram voer wat oor ’n bepaalde tydperk ingeneem word en die kilogram lewende gewig wat die dier oor dieselfde tydperk met dié voer gegroei het. ’n Groep diere se voerinname word oor ’n tydperk gemeet en dan word die totale lewende gewigstoename van die groep oor dieselfde tyd gebruik om die gemiddelde VOV te bepaal.
Wat voginhoud betref, moet die voer ook vergelykbaar wees. Dit word gedoen deur die voer na ’n droëmateriaalbasis (0% vogbasis) of lugdroogbasis (10% vogbasis) te verreken en dié voerinname te gebruik om die VOV te bereken. Dié syfer kan dan met ander voer of diere vergelyk word.
Die voer se verteerbaarheid speel ook ’n rol. Hoe meer ruvoer (vesel) die voer bevat, hoe swakker is die verteerbaarheid en hoe swakker is die VOV. Dus is die VOV van ’n dier wat wei en dus ’n groot persentasie stadig verteerbare gras (vesel) inneem, swakker as dié van ’n voerkraaldier, waar ’n groter hoeveelheid maklik verteerbare graan (stysel) in die voer verskaf word. In albei gevalle word aanvaar dat alle ander voedingsvereistes van proteïene en minerale wel in balans in die voer is. Indien nie, sal dit die verteerbaarheid en dus die VOV nadelig beïnvloed.
WINSGEWENDHEID
Diere word gewoonlik in ’n voerkraal gevoer totdat die regte slaggewig bereik is, naamlik wanneer die grootste waarde vir die dier gerealiseer kan word. Dit word bepaal deur die swaarste karkasgewig, maar steeds die gehalte (karkasklassering) met die hoogste prys per kilogram. Hoe vinniger dit bereik kan word, hoe vinniger kan die dier se waarde realiseer en kan ’n volgende dier in sy plek gevoer word.
Die voerkoste is 4050% van die voerkraal se totale koste. Indien minder voer gebruik word om dieselfde karkasgewig te produseer, dus ’n beter VOV, is die produksiekoste en dus die wins dienooreenkomstig beter. Hoewel die genetiese vermoë van diere verskil om voer in spiergewig om te sit, is die verteerbaarheid van die voer baie belangrik — hoe beter die verteerbaarheid, hoe beter die VOV. Die beste GDT en VOV word bereik met voer wat geformuleer is vir maksimum verteerbaarheid.
SPANNING EN PRESTASIE
Spanning verander diere se normale vreetgedrag en immuniteit. Sodra die dier spanning ervaar, word hormone afgeskei wat eerder oorlewing as normale groei en ontwikkeling stimuleer. Gevolglik verlaag die vrywillige inname van voer betekenisvol met dienooreenkomstige swakker groeiprestasie.
Die afskeiding van spanningsverwante hormone verlaag ook diere se vermoë om siektes te weerstaan. Hoe minder spanning, hoe beter produksie.
Normale bestuurspraktyke sal altyd spanning by diere veroorsaak en kan nie heeltemal vermy word nie. Diere pas egter goed aan en raak gekondisioneer met ’n abnormale produksieomgewing.
Die manier waarop diere behandel word, bepaal wel of die dier die mens later begin vertrou. Goeie raad is om diere nie skrik te maak nie, stadige rustige bewegings en optrede wat vir die dier voorspelbaar raak. Om diere in ’n drukgang te kry en te weeg, sal onnodige spanning veroorsaak wat tot die minimum beperk moet word.
Om produksie te kontroleer, hoef net aan die begin en einde van die voertydperk geweeg te word (dit sal minimum spanning wees). Vermy die nuuskierigheid om die groei met meermale se weging dop te hou.
Dr. Kobus Swart is ’n dierevoedingkundige, met spesiale kennis van herkouervoeding.