Sonneblomme
Droogte, onkruid en insekplae is net ’n paar van die kartetse wat sonneblomoeste in die afgelope produksiejaar geteister het. Veral laat aanplantings het teen swamme, soos Alternaria helianthi, te staan gekom. Kenners vertel van hul ervarings en gee raad.
Wat dink jy het die Protea-draaibouler Imran Tahir en sonneblomme gemeen? Soos enige ervare kolwer (boer) weet jy nooit wat die bal (omgewing) gaan doen as dit Imran se vingers verlaat nie. Jy beplan ’n voorkomende strategie of jy wag en kyk wat gebeur, soortgelyk aan ’n besluit om die kolf baie laat te lig as ’n korrektiewe strategie.
Wat ons ook al gaan doen, bepaal die uitkoms van die wedstryd. Hoe vroeg of laat ons ook die besluit neem, bepaal met hoeveel lopies ons gaan wen, oftewel hoeveel geld jy in jou sak steek.
Wat gaan gebeur as Imran skielik ’n snelbal teen 132 km/h afstuur pleks van die normale draaibal? Dít is hoe Alternariablaarvlek (Alternaria helianthi), Sclerotinia-kopvrot (Sclerotinia sclerotiorum) en dowwe pitte boere in die jongste produksietyd onverhoeds gevang het.
Al was die vyfdagtoets uitgerek oor ’n tydperk van vyf maande, het die groot hoeveelheid reën ’n baie nadelige invloed op die gewas gehad.
ALTERNARIABLAARVLEK
Dié swam veroorsaak ronde of vierkantige donkerbruin letsels op die blare, stam, stingels en blaarstele. Dit vorm groot, dooie kolle. Individuele letsels het ’n chlorotiese kring om die letsel. Blaarverliese kom van onder na bo in die plant voor.
Die swam is altyd teenwoordig, maar boul jou ’n draaibal in warm en vogtige toestande – temperature van 25 °C en 28 °C saam met hoë humiditeit van 70% en ten minste 12 uur se vog op die blare. Vir drie tot vier dae kan groot blaarverliese voorkom as die letsels saamsmelt en groter word. Gevolglik kan dit die opbrengs verlaag en tot ontblaring lei.
Bestuurspraktyke sluit in wisselbou, ploeg en swamdoders. Swamdoders is uiters doeltref-
fend, mits jy ’n voorkomende program volg. Die verdraagsaamheid van kultivars teenoor die swam verskil.
SCLEROTINIA
Die grootste aantal gasheerplante versprei Sclerotinia. Dit sluit in onkruide, soos kakiebos en kankerroos. Besmetting van die sonneblomkop vind plaas tydens warm, vogtige toestande.
Swambespuitings behaal uiters beperkte sukses teen Scle
rotinia-stamvrot, maar behaal wél resultate met voorkomende swambespuitings teen kopvrot.
Dowwe pitte verskil tussen plante en van landery tot landery. Die plante lyk goed, maar sodra jy stroop, is dit ’n ander storie. In die afgelope produksiejaar het sommige aanplantings dowwe pitte getoon. Dit was opmerklik by vroeë aanplantings.
As die koppe net voor strooptyd ondersoek is, was dit opvallend dat die dowwe pitte in ringe op die kop voorgekom het. Meestal het meer dowwe pitte in die buitenste dele van die landery voorgekom.
BOORTEKORTE
Dr. André Nel het in Maart 2015 in SA Graan/Grain verwys na moontlike oorsake vir die verskynsel. “Alle sonneblombasters is gevoelig vir boortekorte, maar daar is groot verskille in hul vermoë om boor op te neem. Die verskille verklaar moontlik in ’n mate waarom die dowwepitverskynsel meer by sekere basters as ander waargeneem is. ’n Boortekort kan nie alleen as hoofoorsaak beskou word nie, want dit het gewoonlik ’n wisselwerking met die heersende weerstoestande.”
Die afgelope seisoen het sonneblomme uitermatig vegetatief gegroei.
FOTOSINTAAT
“Die produk van fotosintese word kortweg fotosintaat genoem en bestaan uit suiker,” skryf André.
“Tydens graanvulling vloei dit na die sonneblomkop waar dit deur biochemiese prosesse tot olie, proteïene en ander bestanddele omgeskakel word om die pit se kern te vul. Onvoldoende voorsiening van fotosintaat is ’n baie bekende oorsaak van swak gevulde en dowwe pitte.
“Navorsing toon dat die dowwepitgetal van sonneblomme onder skadunet baie kan toeneem teenoor sonneblomme wat in volle sonlig groei, veral as dit in die graanvulperiode plaasvind.” Sonligenergie is nodig vir die prosesse om plaas te vind. In die jongste produksiejaar was daar ’n tydperk van twee tot drie weke met ondergemiddelde daaglikse sonligenergie. Party basters het ook ’n pers verkleuring in hul blare getoon, wat ná warmer dae verdwyn het. Pers in blare word gewoonlik geidentifiseer met die opbou van suiker. Die bewolkte tye het saamgeloop met saadvulling en so veroorsaak dat pitte dof was.
Sonneblomme is lankal nie meer ’n afskeep- of vanggewas nie. As jy so dink en dit aanplant net om ’n swak mielieprys te ontduik, gaan Imran se draaibal jou “uitboul”. Siektes behels ’n wisselwerking tussen omgewingsfaktore, patogene organismes en die gasheerplant. Die uitslag word nie deur net een enkele faktor bepaal nie.
Dit is nie net die bal se getal revolusies per sekondes wat bepaal of dit die paaltjie gaan tref nie, maar ook die spoed, die hoogte en die trajek van die bal: Die groter prentjie moet dus in ag geneem word.
Die artikel is geskryf deur mnr. Philip Fourie, landboukundige by DuPont Pioneer. NAVRAE: www.rsa.pioneer.com