Oom Scholtz, die hoed en die ‘loep-paul’
Die dag toe oom Scholtz ’n skuiwergat in die nuwe, korporatiewe stelsel vind, was sy glimlag gróót – al die skewe tande saam.
Soos gewoonlik is ek weer te vroeg. Buite is die weer grys, treurig-mistroostig en baie koud. Nou sit ek maar alleen, heel agter in hierdie groot, somber, ou kerk op Bronkhorstspruit. Voor in die kerk pak ’n ouderling goete reg wat vir my klaar reggepak en reggeskuif lyk.
Schalk van der Merwe, ’n oudkollega, sou seker na die oubaas verwys het as ’n “gryskop-ouperd”. Schalk had ’n ding met ’n perd. Hy het na alle mense verwys as “perde”. Aanvanklik was hierdie sêding erg hinderlik, maar so met die streel van die tyd saam het die spreekwyse as’t ware deel van ons korporatiewe taal en kultuur geword. Schalk is later by ons weg, maar die perdesêding het gebly.
Dit was goeie ou dae. Die korporatiewe wa vanuit Pretoria na Mandini en die res van Suid-Afrika het lekker getrek. Ons jong trekperde was sterk en gewillig. Ons kon saamtrek soos min. Hannes Nieuwoudt het die leisels vasgehou en baie selde sweep ingelê.
Maar toe kom ’94. Die wa word bekleed met chroom en glas. Huislike stalletjies word weggebreek om plek te maak vir vergadersale, weiplekke en watergate. Aan die mure hang nuwe prente van nuwe, ou-ou perde en die perd van perde. Die ou geliefde wa-drywer klim af, vir altyd. Die wa se naam verander. Die voertaal word Engels.
Ons ou trekperde byt benoud die stange vas as ons na die wa omkyk. Nog perde klim op die wa. Jong, begaafde perde, rekenaar onder die blad. Hierdie perde skryf programme oor hoe die trekperde die wa eintlik moet trek. Hulle stel voor hoe die trekspan ingespan, uitgespan en heringespan moet word. Die bobaasperde wysig hierdie voorstelle met ’n waaierstert en, met ’n proes-proes hier en ’n proes-proes daar, staan party perde toe agterstevoor ingespan om die gewigtige wa vinniger en beter te moet trek.
‘S&TEA’
Saam met ’n trop perde is daar altyd ’n swerm bosluisvoels. Die bosluisvoëls ontwerp vorms.
Een daarvan is die reis-enverblyfeisvorm (ook die “S & Tea” genoem).
Die vorm bestaan uit twee dele: Vir die reisdeel eis ’n perd die amptelike kilometers die afgelope maand afgelê. Die verblyfdeel is vir oorslaap en vretes. Ons trekperde kon gewoonlik net deel een gebruik, want anders as ’n bosluisvoel, kan ’n trekperd nie vlieg nie. Só het die eise ingegaan, maand ná maand, tot op ’n dag toe oom Scholtz se hoed ter sprake kom.
Oom Scholtz, ’n klerk van werke, was nie sommer ’n bouinspekteur nie. Hy was ’n trekperd soos min: Kort, bondig, sterk. ’n Konsultant se droomperd, ’n kontrakteur se nagmerrie. Saam met sy statuur het ’n stel ongelooflike skewe tande gekom. Oom Scholtz se verweer was dat dit as gevolg van al die Engels praat was.
Sy lang kakiebroek, kortmou-kakiehemp en vellies is afgerond met ’n hoed: So ’n vuiljoppie om die kaalkop te beskerm, met salpeterstrepe en deurgevatte gaatjies waar die twee duike in die hoed bymekaar kom. ’n Prentjie totaal teenstrydig met die korporatiewe beeld.
Een oggend tel ek my moeë perdekop op. Voor my is ’n Palomino perd op maat van marsmusiek: Oom Scholtz, uitgedos in klere reg uit ’n Getaway-tydskrif, van skoen tot hemp. En die hoed! So ’n strooi-nommertjie met ’n reënboogband wat eindig in ’n trotse pouveertjie. Die aand by die watergat was oom Scholtz ’n treffer. Teen alle klubreëls kon hy hoed op die kop bier ná bier kosteloos drink.
Die volgende oggend is oom Scholtz Port Shepstone toe. Terrein vergadering. Daar aangekom, waai die wind storm sterk. Toe oom Scholtz so uit sy 404’tjie klim, vat daai wind die windmakerige hoed. Heeltemal weg.
Einde van die maand kom. Ek ontvang oom Scholtz se “S & Tea”. In die verblyfspasie eis hy: “Een hoed: R32,95.”
Ek verduidelik aan oom Scholtz dat ek nie meer sy baas is nie. Charl du Toit, 700 km ver in Pretoria, moet die eis goedkeur. Ons stuur die vorm aan, maar dit kom terug. Oom Scholtz se eis vir die hoed is netjies met ’n liniaal doodgetrek en geparafeer volgens bosluisvoël voorskrifte. Die bedrag is afgetrek van die eis se groottotaal en die gewysigde totaal is goedgekeur. Ons rekenmeesterperd betaal uit.
Einde van die volgende maand ontvang ek weer oom Scholtz se “S & Tea”. In die verblyfspasie verskyn weer: “Een hoed: R32,95.” Ek stuur die vorm aan Charl. Hy lê liniaal in.
SOEK ’N SKUIWERGAT
Die derde maand kom. Oom Scholtz is terug in kakie-vellies en die vilthoed. Hy wil weet hoe die korporatiewe wa hom kan vergoed vir die hoed. Ek verduidelik die enigte manier is dalk ’n “loophole” in die stelsel.
“Loep-paul?” vra oom Scholtz. Ek verduidelik dat geen bosluisvoël presies weet hoe ver Mandini van Port Shepstone is nie. Buitendien weet hulle nie hoeveel kilometer oom Scholtz op terrein gery het nie. ’n Lig gaan vir oom Scholtz oop. Sy glimlag is in drievoud, met al die skewe tande saam.
Die eis gaan in. Geen hoed word genoem nie. Die eis kom terug, netjies goedgekeur. In die verblyfspasie skryf Charl: “En waar is die hoed?”
Maand vier. Oom Scholtz se eis. In die verblyfspasie, ’n nuwe boodskap: “Die hoed is nog daar – jy moet hom nog net kry.”
Die kerkorrel ruk my uit my bepeinsing. Ek staan op, saam met die vol kerk. Somber, swart, gewyd. Ek sluit my oë in ’n laaste saluut aan oom Scholtz.
Tom van Aardt is in 1945 gebore. Hy was nog altyd lief vir Afrikaans en het gereeld volpunte gekry vir sy opstelle op skool. Hy was tydens sy loopbaan betrokke by die ontwikkeling en bestuur van nywerheidsdorpe. Ná sy aftrede het hy op Amanzimtoti gaan woon, waar hy onderhoudswerkies aan die huis verrig en lees, lees en nog lees.
Saam met sy statuur het ’n stel skewe tande gekom. Oom Scholtz se verweer was dat dit ’n gevolg van al die Engels praat was.