SA STAMBOEK KIBBEL STEEDS OOR STOET-DATA
Ses jaar ná die vennootskap tussen SA Stamboek en die Landbounavorsingsraad skipbreuk gely het, sleur die twis oor die twee organisasies se onderskeie databasisse steeds voort. MARLEEN SMITH berig.
SA STAMBOEK en die Landbounavorsingsraad (LNR) was op 16 November besig om ’n finale skikking te probeer bereik, minder as ’n week ná hul mees onlangse hofverskyning – dié keer voor die Appèlhof in Bloemfontein.
Dr. Andrew Magadlela, uitvoerende hoof van diereverbetering by die LNR, het aan Landbouweekblad gesê die meeste van die belangrikste geskilpunte is klaarblyklik uitgestryk. Daar word hard aan die opstel van ’n finale ooreenkoms gewerk, het hy gesê.
Die Appèlhof het op 9 Novem- ber argumente aangehoor oor een aspek van hul stryery oor die Intergis, die nasionale databank van stoetvee. Twee swaargewig-regspanne, onder wie drie senior advokate, het voor ’n volbank regters verskyn. Die vraag waaroor die appèlregters nou moet beslis, is of ’n teler en sy genootskap wetlik gedwing mag word om geregistreerde diere se data aan die Intergis te verskaf.
Dié stelsel, waarop registrasieén genetiese data van die land se veestapel aangeteken is, is destyds as deel van ’n vennootskapsooreenkoms
tussen die LNR en Stamboek ontwikkel. Stamboek het dit op kontrakgrondslag bedryf.
Die registrasie is deel van die Diereverbeteringswet van 1998 se oorkoepelende doelwit om diere wat geneties meerderwaardig is, wetenskaplik te identifiseer, met die hulp van ’n stelsel waarop registrasie- en genetiese inligting geïntegreer is. Van hier die naam Intergis (geïntegreerde registrasie-en-genetiese-inligtingstelsel).
Met die breukspul tussen die twee instellings is die Intergis-bedieners na die LNR se kantoor in Pretoria verskuif. Stamboek bedryf steeds Logix, sy internetgebruiksplatform wat telers, genootskappe, konsultante en amptenare met ’n wagwoord toegang tot die Intergis-databasis gee.
R90 MILJOEN SKADE
Die vraag oor die wetlike plig al dan nie van telers, hul genootskappe en Stamboek om inligting aan die Intergis te verskaf, verteenwoordig maar een onderdeel van
die geveg tussen die twee. Hoewel voorafgegaan deur ’n jare lange aanloop, het dit einde November 2014 eers die hof-arena betree toe die LNR Stamboek vir skadevergoeding van meer as R90 miljoen gedagvaar het.
Teen November 2015 het die twee partye ooreengekom dat drie kwessies in die Hooggeregshof in Bloemfontein bereg moet word: Is die LNR die (enigste) organisasie wat deur die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye gekontrakteer is om die Intergis te bedryf? Is Stamboek se bedryf van Logix wettig? Is Stamboek ’n wettig-aangestelde registrerende owerheid wat Logix wettig mag bedryf en wetlik verplig is om alle stamboomen prestasie-data wat dit insamel aan die LNR en Intergis oor te dra? In sy uitspraak het regter Faan Hancke nie net ten gunste van die LNR bevind nie, maar albei goed geroskam omdat hulle nie self in
belang van die groter saak van diereverbetering en die land hul geskille en onderlinge vyandigheid kon bylê nie.
“Die heersende situasie is ondraaglik: Aan die een kant is die LNR die enigste bestuurder van die Intergis, wat die nasionale databank is, terwyl daar aan die ander kant talle telersgenootskappe is (indien nie die meeste nie) wat hul verbintenis met die LNR opgeskort het. Daarna het hul lede hul diere-data aan Stamboek se Logix begin lewer.
“Dit is nodig dat die partye bymekaarkom en ’n nuwe Memorandum van Ooreenkoms onderhandel, soortgelyk aan die vorige een van 15 Julie 1999. Dit is ongetwyfeld só dat die gebrek aan samewerking tussen die partye nie in landsbelang is nie,” lui Hancke se Hooggeregshof-uitspraak van November 2016.
Daarby het Hancke bevind daar is geen wettige gronde vir Stamboek se weiering om alle stamboek- en prestasie-data wat op Logix aangeteken word, ook na die Intergis oor te dra nie.
EKSKLUSIEF OF NIE?
Hancke sê in sy uitspraak die Intergis is kragtens die Diereverbeteringswet in die nasionale belang tot stand gebring, terwyl die doelwitte en pligte van Stamboek eksklusief tot sy lede beperk is.
Hy stel “eksklusiewe toegang tot ’n beperkte databasis (Logix)” teenoor “nie-eksklusiewe toegang tot die nasionale (Intergis-) databasis”. Hy sê die landsbelang (die Republiek) word ondergrawe as dit nie toegang tot ’n omvattende databasis van alle telers het nie.
Stamboek het die appèl teen dié uitspraak aangeteken en dit is nou aangehoor.
In sy hoofde van betoog na die Appèlhof wys Stamboek onder meer daarop dat hy sedert die inwerkingtreding van die nuwe Diereverbeteringswet nie meer die enigste registrerende owerheid vir die Suid-Afrikaanse stoetveebedryf is nie.
Voorts redeneer Stamboek daar is nie duidelike bewoording in die Diereverbeteringswet of sy regulasies wat telers en hul genootskappe wetlik verplig om hul stoetvee se stamboom- en prestasiedata aan die Intergis te verskaf nie.
As die wet dit wel sou verplig het, sou ’n mens kon verwag dat daar duidelike aanwysings of riglyne in die wet se bewoording sou gewees het oor die metodes waarmee die data na die Intergis oorgedra moet word.
Voorts teken Stamboek in die hoofde van betoog beswaar aan teen Hancke se bevinding dat hy (Stamboek) nie ’n onafhanklike prestasie-aantekeningen-toetsskema mag bedryf nie.
Uitspraak is voorbehou.
‘Die gebrek aan samewerking tussen die partye (is) nie in landsbelang nie.’