Digitaliseer jou boerdery
Suid-Afrikaanse boere kan nie meer volhoubaar wees sonder om digitale hulpmiddels in hul boerderye te omarm nie. Hulle kan inspirasie put uit die nuwe tegnologie wat by Agritechnica in Duitsland ten toon gestel is.
Die Suid-Afrikaanse landbou se produktiwiteit sal ál meer moet verbeter weens die wêreldwye wedywering om landbouprodukte kostedoeltreffender te produseer.
Mnr. Carl-Albrecht Bartmer, voorsitter van die Duitse Landbougenootskap, wat onlangs die reuselandbouskou Agritechnica in Hannover, Duitsland, aangebied het, sê dit is ’n voorvereiste dat ekonomiese sukses in harmonie met skaars hulpbronne en die omgewing moet plaasvind.
Die toekomstige winsgewendheid van produksie gaan toenemend ’n faktor van doeltreffende kostebesparings en verhoogde produktiwiteit wees. Moenie op langer termyn op hoër pryse en ’n swak rand alleen reken om mededingend te bly nie.
Die eerbewyse wat by die skou toegeken is (sien die KASSIE ), sê iets van die rigting waarin landboutegnologie ontwikkel. Kyk daarna en besluit of jou toegang tot tegnologie en die gesofistikeerdheid van jou verskaffers in Suid-Afrika voldoende is sodat jy jou markte kan behou. Indien nie, moet jy daarop aandring dat verskaffers die jongste bewese tegnologie beskikbaar stel.
Die Duitse landbou-organisasie DLG-Agrifuture Insights het vroeër vanjaar inligting gepubliseer oor watter tegnologiese hulpmiddels boere in Europese lande gebruik om hul boerderye te digitaliseer, asook wat hul benadering tot digitalisering is (sien die GRAFIEKE ).
Suid-Afrikaanse boere kan dié inligting as ’n riglyn gebruik om te bepaal in watter mate hulle reeds digitale tegnologie in hul boerderye gebruik om die produktiwiteit van hulpbronne en insette te optimaliseer en hoe hulle dit kan uitbrei.
Suid-Afrikaanse boere voer in van en uit na die lande wat in die grafieke ter sprake is. Plaaslike produsente moet kennis neem van ontwikkelings daar omdat dit die toon gaan aangee vir winsgewendheid in die toekoms en plaaslike boere se mededingendheid.
Mnr. Wessel Lemmer is ’n senior landbou-ekonoom by Absa-Agribesigheid in Johannesburg.