SA se Bees- en Skaapboer van die Jaar
MNR. BERTUS BURGERS is die 15de Nasionale Beesboer van die Jaar. Hy is ’n Bovelderteler van die plaas Rietvallei, distrik Utrecht, en boer met sowat 1 000 teelkoeie wat ’n speenpersentasie van sowat 90 handhaaf.
Hy laat toets sy koeie aan die einde van Januarie vir dragtigheid, reg ná afloop van ’n dektyd van drie maande. Slegs voelbaar dragtige koeie word teruggehou.
Die kalwers word op 260 kg gespeen, want hy glo die bykomende gewigsvoordeel van sowat 40 kg bevoordeel die verse vir die res van hul produktiewe leeftyd. Met speentyd word 40% van die verse teruggehou wat op 24 tot 26 maande gedek word vir sy enkele teeltyd per jaar. Die verse weeg dan 330 kg tot 360 kg aan die begin van die teeltyd en volwasse koeie 480 kg.
Hy boer in ’n gebied met ’n jaarlikse reënval van 750 mm tot 900 mm. Die weiding is 3½ maande van die jaar van hoogstaande gehalte, waarna die suurveld se voedingswaarde aansienlik afneem.
Benewens die benutting van natuurlike weiding, word aangeplante oulandsgras en veldgras gebaal vir wanneer die koeie kalf. Sy veld se weidingskapasiteit is 2,5-3,5 ha/GVE met sy veebelading net onder dié norm.
Die naaswenners in die beeskategorie was mnr. Dawie Albertyn van die Nacht Wacht-Sussexstoetery in die Overberg en die Leehan-Bonsmarastoetery van mev. Colleen Jacobs en haar man, Johan, van Douglas.
MNR. FRANS WIID is die 14de Skaapboer van die Jaar. Hy is van die plaas Die Lande, distrik Hopetown. Sy kleinveeboerdery
bestaan uit meer as 8 000 kommersiële Dohne-Merino- en Dorper-ooie.
Die Dohne-Merino-lammerooie word op meerjarige, besproeide weidings aangehou.
Die weiding word selektief op bepaalde grond met ’n effektiewe plantdiepte van sowat 20 cm op ’n keerlaag aangeplant. Die winsgewendheid van Wiid se skape op besproeide weidings klop dié van kontantgewasse op lang termyn.
Die Dorpers word ekstensief op natuurlike weiding aangehou en slegs ooie met meerlinge word eers in lamhokkies versorg voordat hulle teruggaan veld toe. Die ekstensiewe Dorpers vind dus ook baat by sy lamhokstelsel om lammerverliese te beperk.
Sy seleksie vir vrugbaarheid van al sy ooie is onverbiddelik. Danksy sy omvangryke kudde selekteer hy maklik diere wat by sy hulpbronne aangepas is.
“Ek slag my ooie bang,” sê hy spottend oor die uitskotbeleid wat hom in staat gestel het om die afgelope jare ’n hoogs vrugbare kudde op te bou.
Hy behaal ’n speenpersentasie van 140 en beskou die bekamping van skadelike diere as sy grootste probleem.
Die naaswenners in die skaapafdeling was mnre. Pieter Gildenhuys en sy seun, Pieter-Janse, wat met Merino’s in die distrik Heidelberg, Wes-Kaap, boer en Hannes Kotzé (SA Vleismerino’s) in die distrik Moorreesburg.