Só sê ’n makadamiaboer
Die sakeman Bosman Kruger boer die afgelope paar jaar met makadamianeute op sy plaas Wulveskop, tussen Tzaneen en Duiwelskloof. Die vraag na dié neute het die afgelope paar jaar ontplof – veral op die uitvoermarkte. Bosman verskyn ook in die televisieprogram Nisboere wat tans op Via (kanaal 147) uitgesaai word.
Vertel ons meer van jou boerdery?
Ons is eintlik ’n ou en bekende broodboomkwekery, maar my vrou se oupa het omtrent 50 jaar gelede ’n proefblok makadamianeutbome geplant. Destyds het niemand veel daarvan gedink nie en die bome het half ongesiens groter geword. Hulle het van tyd tot tyd neute verkoop. ’n Paar jaar gelede het die vraag na makadamias regtig groot geword en ons het besef ons sit met ’n gewas wat baie waardevoller is as wat ons gedink het. Sowat vier jaar gelede het ons die plaas oorgekoop en die makadamiaboorde uitgebrei. Ons het nou sowat 6 000 bome wat op sowat 19 ha groei.
Is makadamianeute ’n moeilike gewas om mee te boer?
Nee. Ek boer nie heeltyds nie, maar bedryf besighede op die dorp. Dus het ek iets nodig gehad wat relatief maklik is om mee te boer. Makadamiabome vereis ’n basiese kunsmisprogram, insekbestryding en watertoediening (veral vergeleke met avokadoboerdery).
China is ’n belangrike mark vir Suid-Afrika se makadamias. Waar verkoop jy jou neute?
Ons lewer ons neute aan Tzamac (kort vir Tzaneen Macadamias), wat dit weer op hul beurt uitvoer. ’n Groot deel gaan China toe, maar hulle verskaf ook neute aan Amerika en Europa, na gelang van waar hulle die beste kontrakte kry. Suid-Afrika kan nie voorbly om aan die uitvoermark te verskaf nie. Min van ons neute is plaaslik beskikbaar en gewoonlik is dit produkte van swakker gehalte. Ek haal van my uitskotneute uit die dop, rooster hulle en verpak hulle weer om by my vulstasies te verkoop. Ons kan nie voorbly daarmee nie. Makadamianeute raak ál gewilder in Suid-Afrika, veral danksy die neiging om gesonder te eet. Makadamias word as superkos beskou en is ook ’n belangrike deel van sportmanne se dieet omdat dit so baie energie verskaf.
Watter probleme staar jou in die gesig?
Diefstal is ’n probleem. Elke makadamia is sowat 70c werd, daarom verloor jy R70 000 as jy ’n ton verloor. Verder is stinkbesies een van ons grootste plae. Ons spuit daarteen, maar probeer ook kolonies vlermuise vestig om dit te help bekamp. Ons het ook baie las van blou-ape en bosvarke wat baie makadamias opvreet.
Waarom is Tzaneen geskik vir makadamiaproduksie?
Ons hoogte bo seespieël maak dit ideaal. Die helling waarteen die plaas teen die berge lê, skep ook ’n gunstige, subtropiese mikroklimaat, veral wat die temperatuur en reënval betref.