’n Verdommenis
Die windjie was nerfdun toe die ou GMC-bakkie een laatmiddag ratelrig op die werf stilhou. Oom Martiens het stadig, amper stelselmatig uit die ou ryding te voorskyn gekom en sommer dadelik koers gekies na waar ons gewoonlik om die kameeldoringvuur laer tr
Ek kon sien oom Martiens het iets gewigtigs op die hart toe hy uit sy bakkie op die werf klim en het uit ondervinding geweet hy sou ’n drinkdingetjie vra. Ek het die bottel wintermedisyne laat glugglug in sy blikbeker en ná die eerste sluk het hy dadelik hart oopgemaak. “Roere wat nie wil skiet nie, Kola, is ’n verdommenis. ’n Helse ene, sê ek jou.” Só laat oom Martiens gebelgd hoor wyl ons kyk hoe die ylblou rokies bo die vlamme pad soek deur die donkerte, sterre toe.
“Ek meen wat se katoolsgeit is dit om nóú, hierie tyd vannie jaar te kom moedswillig raak. Nóú, net mooi lat die somer kom notice gee het.”
“Hoe dan so, Oom?” vra ek, terwyl ek die keteltjie kole toe skuif. “Man,” vervolg hy, “ek was mos annerdag op pad dour deurie duine Koës se kant toe. En, wil jy glo, daar loop staan en ry ek my mos trompop vas innie grootste gompou wat ek in jare der jare gesien het. Sommer net hier langs die pad loop hy ewe kontant en stok vat vannie goggas en anner eetbare goete. Hene, Kola, sy lyf was eintlik duwweld-dik van die geilgeit.
“Nou ja, ek ploeë toe op lat die ou GMC-bakkie amper hik vannie stof en voor jy nog kan sê ‘kroonwild’ toe het ek klaar my ou .303 Bulldog bymekaargemaak.”
Oom Martiens het so half vorentoe geleun en amper vertroulik my kant toe gepraat. “Weet jy hoe vorentoe só ’n vet gompou smaak as jy hom lekker lank in ’n swartpot stowe met ’n paar skaapstertjies, ertappels, uie en worteltjies? Dan maak jy so ’n lang sous en jy eet daai pouvleis saam met rys en sous. Dis aan daai eet wat ek gedink het toe ek die staalpunte innie .303 druk en los gooi.”
Oom Martiens het gehuiwer en aan sy gesig het dit gelyk asof hy aan ’n pynlike gedagte herkou. “En toe, Oom?”
“Heiland man, skoon kaal mis trek my eerste staalpunt, daar roerie eens ’n veertjie nie. Toe vat die pou sy aanloop en ek skiet weer, maar hy bly hardloop. Ná die derde skoot is hy op take off speed en ek kyk hoe klim hy die lug in . . . stadig, soos een van daai groot vliemasjiene op Jan Smuts. En toe seil hy langsaam die wydtes van daai vlaktes in . . . moer toe. Ai, Kola, ’n roer wat hier kort vorie winter kom staan en neuk, is ’n verdommenis.” Oom Martiens het sy blikbeker gevat, ’n paar stywe slukke geneem en beswaard die vlamme in gestaar.
’N MAN MOET REG SOEK
Ja-nee, ek moes saamstem, as die somer “notice gee” en die jagseisoen aan jou voordeur kom klop, is daar nie tyd om met verdommenisse te loop staan en sukkel nie. Vat nou maar die een .243 van my. Die ene met die korterige lopie wat ek vir kopskote op rooibokke in die bos wil gebruik. Smaak my sy lewer en gal is nou deurmekaar. Gooi sommer skielik sulke hoë skote elke nou en dan. En ek kry nie die kwaal raakgedokter nie.
Dalk soek ek verkeerd, want ek het al geleer die grootste verdommenis lê heel dikwels so ’n paar duim agter die skopkussing. Dan soek jy verniet kwaalplekke aan ’n roer. Die grootste kwaal van misskiet, kom dikwels in jou snellervinger nesskop. Dalk moet ons eerder by onsselwers begin soek na dié kwale wat ons so maklik aan ons roere toedig.
Net so in die lewe ook – partymaal soek ons mos die oorsaak van ons sooibrand by ander, terwyl die kanker eintlik hier binne-in onsself woed.
Koos Barnard is redakteur van Landbouweekblad se susterstydskrif SA Jagter/ SA Hunter.
‘Hene, Kola, sy lyf was eintlik duwweld-dik van die geilgeit.’