WIPPLANK-WEER LEI TOT GROOT VERLIESE
WISPELTURIGE weerstoestande het boere die afgelope twee weke laat bontstaan: Eers hoë temperature en toe sneeu, reën, koue en ryp oor die land se somerproduksiegebiede.
Welkome reën het oor dele van die winterreëngebied uitgesak (sien ook bl. 19).
Boere in veral die Oos-Vrystaat was teen druktyd besig met skadeopnames ná sneeu op 16 November en ryp op 17 November op somergewasaanplantings en koring voorgekom het.
Mnr. Jan Scheepers, ’n boer van Fouriesburg, is baie dankbaar dat sy mielies, wat met sneeu bedek was en toe deur ryp getref is, tans moedig en dapper staan. “Kort ná die sneeu Donderdagoggend het ons reën gehad. Daarna was dit koud, en Vrydagoggend het ons ryp gehad! Gelukkig is dit alles deur warmer temperature oor die naweek opgevolg.”
Mnr. Jaco Minnaar, voorsitter van Graan SA, sê die koue toestande het talle boere getref, maar die werklike skade aan die aanplantings sal eers later bepaal kan word. Sommige boere in die Oos-Vrystaat se koring was in ’n sensitiewe groeistadium, maar die werklike skade sal moontlik eers teen strooptyd gesien kan word.
SKIELIKE KOUE
Boere in die Suid-Vrystaat het meer as 2 000 skape verloor weens koue, nat en winderige toestande. Mnr. Herman Archer, ondervoorsitter van die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV) in die Vrystaat, sê mnr. DG Snyman van Phillippolis het 1 250 skape verloor, terwyl mnr. Jaco du Toit, wat tussen Phillippolis en Fauresmith boer, 420 skape verloor het.
Volgens Archer het heelwat boere hul skape twee weke voor dié fratsweer klaar geskeer sodat hulle die wol voor die laaste wolveilings kon lewer. “Ons het wyd navraag gedoen onder die boere. Sommige kon tydig voorbereidings tref vir hul diere, en ander het maar eers teruggehou met die skeerdery,” sê Archer. ’n Skaapskenk-aksie is intussen van stapel gestuur om Snyman by te staan ná die verliese wat hy gely het.
Intussen sê mnr. Johan van den Berg, klimatoloog van Santam Landbou, daar is ’n moontlikheid dat nóg reën in die Kaapprovinsies kan voorkom, terwyl ’n gunstige seisoen oor die somerreëngebied steeds verwag word. Hy sê die kouefronte wat nog relatief ver noord oor die land beweeg, is ’n aanduiding dat die somerreënstelsels nog nie gereed is nie.
Van den Berg sê ’n La Niñaweerstelsel ontwikkel tans, wat ’n goeie kans vir reën later in die seisoen tot gevolg kan hê.
“La Niña is gewoonlik verantwoordelik vir die reëntyd wat laat begin, maar veroorsaak ook goeie reën in die mid- tot laatsomer. Die huidige vooruitskouing lyk nou baie dieselfde as dié van die 2016-’17-seisoen.”
‘Sommige kon tydig voorbereidings tref vir hul diere, en ander het maar eers teruggehou met die skeerdery.’