BEVEILIG PLEKS VAN OM TE BETOOG
DIE Swart Maandag-protes in Oktober het reeds ’n merk gemaak en “ordentlike boere raak nie opruiend nie”. Só sê mnr. Charl Senekal, suikerboer en direkteur van Agri SA, oor minstens twee verdere betogings wat met die skryf hiervan teen plaasmoorde en -aanvalle beoog is.
“Ons het ons kaarte pragtig gespeel met die Swart Maandag-optogte, maar selfs dít het onbedoelde gevolge gehad.”
Hy meen die volgende stap ten opsigte van veiligheid is vir boere om hulself te organiseer en hulle op paraatheid en veiligheid toe te spits. Hy moedig boere ook aan om inligting oor moontlike bedreigings aan hul medeboere oor te dra – beide binne gemeenskap- pe en oor provinsiale grense, om landelike veiligheid te bevorder.
STAATSEROL
“Die mag om hierdie situasie te verander, lê by die staat,” sê mnr. Piet Warren, wildboer van Gravelotte. “Daar moet weer ekonomiese groei bewerkstellig word en daar moet werk geskep word. Daar moet weer ’n optimistiese gees in ons land heers. Optogte gaan dit nie laat gebeur nie.”
Mnr. Nick Serfontein, voorsitter van die Sernick-groep, sê enige protesoptrede wat nie verpolitiseer word nie, kan ’n verskil maak aan plaasgeweld. “Die probleem is egter dat enige onbesonne voorval uit verband geruk kan word en tot swak publisiteit lei.”
Net soos sigbare polisiëring deur die polisie ’n groot invloed op misdaad het, meen hy die belangrikheid van sigbare sekuriteitsmaatreëls deur boere kan nie onderskat word nie. Hy sê buiten maatreëls, soos veiligheidsheinings, kameras en bewaakte ingange, patrolleer sy groep ook
hul grond elke nag. “Ongelukkig is dit duur, maar ooglopend help dit, want ons het nog geen voorval of enige vorm van veediefstal gehad nie,” sê hy.
ÁLLE MISDAAD TEL
Mnr. Aggrey Mahanjana, besturende direkteur van die nasionale organisasie vir opkomende rooivleisprodusente (Nerpo), sê alle Suid-Afrikaners loop onder misdaad deur.
“Om plaasaanvalle uit te sonder asof dit eiesoortig is en dat dit net boere is wat onder misdaad deurloop, is nie goed nie, veral nie die manier waarop Swart Maandag verloop het met al die politieke ondertone en die voorstelling van ’n rassekwessie nie.
“Die Regering sal nie luister as dit gebeur nie. Ons sien nooit ’n optog teen stedelike misdaad nie, al het elke tweede erf ’n hoë muur en elektriese heining.”
—