Landbouweekblad

Weiding sal baat vind by November se reën

- — AMELIA GENIS

BOERE in die suidelike deel van die Wes-Kaap sê die goeie reën van middel November én opvolgreën ’n week later gaan wondere verrig vir hul lusernweid­ing.

Mnr. Arno Steenkamp van Tweekop Boerdery tussen Heidelberg en Swellendam sê dit het middel November 51 mm tot 90 mm op die boerdery se plase gereën. Op 20 November het dit weer 10 mm gereën. “Dit het mooi uitgewerk. Ons koring-, gars- en kanola-oes is in en dit gaan baie goed wees vir die weiding. Die lusern het gebot en groei stadig. Jy kan sien dit was vrek droog, want al die water het ingetrek.”

Hy reken sy vee sal die lusern oor twee weke kan begin bewei. Dit sal verligting bring, aangesien hulle tot dusver groot hoeveelhed­e voer moes aankoop. As hulle oor twee tot drie weke weer sowat 30 mm reën kry, kan hulle lusern sny en baal.

Mnr. Janneman Fourie van die plaas Mierkraal tussen Caledon en Riviersond­erend het ook middel November 20 mm tot 50 mm reën op sy grond gehad, opgevolg deur 10 mm, wat hy meen ’n groot verskil aan die weiding gaan maak.

HOOG TYD VIR REËN

By Riversdal het mnr. Johannes Joubert middel November meer as 60 mm gekry en ’n week later 10 mm. “Dit was hoog tyd dat ons lekker reën kry. Ons voer ons diere darem al van verlede jaar dié tyd af. Dis goed vir die weiding. Oor ’n week of twee gaan ons redelik kos hê en die stoppellan­de is ook nou beskikbaar vir die diere om op te wei.”

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa