‘INENTING NODIG OM BEDRYF TE BESKERM’
AS voëlgriep jou (in Suid-Afrika) tref, is jy op jouself aangewese, terwyl hoenderboere in onder meer Amerika en die Europese Unie (EU) baie hulp van hul regerings kry, sê mnr. Chris Schutte, uitvoerende hoof van Astral Foods, Suid-Afrika se grootste pluimveeprodusent.
Astral was die eerste produsent wat vanjaar deur die hoogs aansteeklike H5N8-voëlgriepvirus getref is.
“In Amerika neem die staat oor as jou hoenders positief vir voëlgriep getoets word. Hulle maak al die hoenders dood en gee jou jou tjek. In Suid-Afrika het die Regering geen bronne om van enige hulp te wees nie. Daar is beloftes van vergoeding, maar ons het nog niks verder gehoor nie.”
Schutte het in ’n onderhoud met die bekendstelling van die maatskappy se resultate vir die jaar tot einde September gesê die gevaar is dat boere later gaan begin twyfel of hulle voëlgriep in hul troppe moet aanmeld.
“Ons dink nie (die Regering) verstaan mooi dat as jy nie vergoeding kry nie, moet jy beskerm word. Om hoërwaarde-teelmateriaal in te ent, is een van die maniere.”
Schutte sê die bedryf stem nou vir die eerste keer in ’n lang tyd saam dít is die enigste metode om hom teen voëlgriep te verskans, maar is nog baie ver daarvan af om ’n ooreenkoms daaroor met die Regering te bereik.
Die bedryf het planne met die voor- en nadele van inenting, asook ’n omvattende plan vir uitfasering aan die Regering voorgelê. Schutte sê in Suid-Afrika het dit ongelukkig die gebruik geword dat mense, soos ook nou in die bedryf gebeur, aan regstappe begin dink wanneer die Regering “irrasioneel” optree.
EIERS UIT BRASILIË
Astral kon ondanks die terugslag weens voëlgriep wat die afskryf van biologiese voorraad ter waarde van R54 miljoen ingesluit het, vanjaar sy produksie op sowat 5 miljoen braaihoenders per week handhaaf.
“Ons het ’n klomp klein dinge gedoen om dit te kon regkry, maar dit was teen ’n verlies.”
Die maatskappy het broeieiers wat vir uitvoer na buurlande bestem was, in Suid-Afrika gehou om self te gebruik, en teelmateriaal wat gewoonlik op
60 weke uitgeslag word, ’n bietjie langer gehou om ’n bietjie meer broei-eiers te kry.
“Produksie neem natuurlik af: Jy voer die hoenders dieselfde hoeveelheid voer, maar kry minder broei-eiers.”
Schutte sê Astral het ook daarin geslaag om twee van sy broeierye as kwarantynstasies gesertifiseer te kry en het reeds twee besendings bevrugte eiers uit Brasilië ingevoer, hoewel teen “astronomiese koste”.
Ondanks die onvoorsiene uitgawes het Astral stewige finansiële resultate behaal.
Schutte sê die jaar kan in twee teenstrydige dele verdeel word: Die eerste deel het rekordhoë voerpryse en gedempte markomstandighede gehad, en die tweede deel beduidend laer voerpryse en ook hoër pryse vir hoenderprodukte. Astral se bedryfswins het met 97% tot R1,1 miljard gegroei.
DAG VROEËR
Een van die belangrike bydraers tot sy goeie wins was dat hy die samestelling van sy voer verander het. Die voer is “digter” en duurder, maar dit laat hoenders vinniger gewig aansit sodat hulle hul teikengewig nou 1,09 dag vroeër bereik. ’n Hele dag se voer word dus gespaar.
Schutte sê dié verbetering volg op jare lange proewe en toetse, dan eers kleinskaalse inwerkingstelling op uitgesoekte plase, en dan ’n geleidelike inwerkingstelling op groter skaal.
Astral het ook die afgelope ses jaar daarin geslaag om deurlopend vrektes onder sy hoenders deur algemene bestuurspraktyke te verlaag.
PEKELWATER
Dit is nou sowat ’n jaar sedert die Regering se nuwe 15%-perk vir pekelwatertoevoeging tot hoenderstukke in werking getree het. Schutte het gesê in die boekjaar 2017 was 49% van Astral se hoenderproduksie kitsbevrore stukke vergeleke met 53% in die vorige jaar.
Astral het goeie vordering gemaak om veld te wen in die mark vir waardetoegevoegde produkte en kitsdiensrestaurante. Hy is onder meer die alleenverskaffer van die vinnig groeiende restaurantgroep Hungry Lion.
–
‘Ons dink nie (die Regering) verstaan mooi dat as jy nie vergoeding kry nie, moet jy beskerm word.’