DIE WIEL BEGIN DRAAI OOR SNOTSIEKTE-VREKTES
VIER wildebees-eienaars het verlede Woensdag (22 November) in die Swartruggens-streekhof verskyn weens veevrektes wat verband hou met snotsiekte.
Die vier, mnre. Theunis Marthinus Petrus Snyman, Werner Jan Stieger, Ronnie Ras en Dirk Zillem Venter, het verskyn op aanklag dat hulle artikel 11 (1) van die Wet op Dieresiektes (Wet 35 van 1984), oortree het.
Dit volg nadat hul buurman sedert 2006 al 110 beeste weens snotsiekte verloor het.
Ander beesboere in Suid-Afrika met wildboer-bure wat al beeste weens snotsiekte verloor het, hou hierdie eerste strafsaak oor snotsiekte met valkoë dop.
Die saak is uitgestel tot 28 Februarie, wanneer daar op ’n verhoordatum besluit sal word.
BURE AANGEKLA
Die vier beskuldigdes se buurman, mnr. Piet Wolmarans, bedryf al vir 25 jaar Kwantum Simmentalers op sy plaas van 350 ha tussen Rustenburg en Swartruggens. Hy is wêreldbekend vir teelbulle, soos Migkar en Profeet, waarvan semen veral in Australië rekordpryse behaal. Hy is ook in 2007 bekroon as Breedplan se Simmentalerteler van die jaar.
Aanvanklik het Wolmarans nie geweet hoekom sy diere vrek nie, tot die plaaslike staatsveearts snotsiekte gediagnoseer het.
Sedertdien hou Wolmarans noukeurig rekord van alle vrektes op sy plaas. Van elke bees wat vrek, neem hy weefselmonsters en stuur dit via die staatsveearts na Onderstepoort om dit te laat toets vir snotsiekte. Elke toets is positief.
Baie boere en selfs veeartse meen die staat neem nie snotsiekte ernstig genoeg op nie.
Prof. Moritz van Vuuren, emeritusprofessor in virologie aan die Universiteit van Pretoria se fakulteit veeartsenykunde, meen egter daar is tog erns met die siekte by die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye se direktoraat dieregesondheid. Boere en veeartse kan help deur dit meer getrou aan te meld.
Van Vuuren sê snotsiekte is onlangs weer tot die direktoraat se lys van aanmeldbare siektes gevoeg. Die doel van dié lys is vir die staat om sy vinger op die pols van ontwikkelings ten opsigte van spesifieke siektes te kan hou.
Tans is daar nie genoeg uitbrekings om te regverdig dat snotsiekte van ’n aanmeldbare na ’n beheerde siekte, soos tuberkulose, brucellose, slenkdalkoors of hondsdolheid, moet oorskuif nie.
DILEMMA
Die siekte word egter selde aangemeld. Baie boere en veeartse versuim om die voorkoms daarvan by die direktoraat, of selfs by die Herkouerveterinêre Vereniging van Suid-Afrika (RuVasa) aan te meld.
“As jy dus elke maand na RuVasa se statistiek oor snotsiekte gaan kyk, sal jy sien dit is elke maand daar. Party maande kom dit voor in ses provinsies, party maande in drie provinsies, maar daar is nooit geen uitbrekings nie.
“Kyk ’n mens na die telefoonoproepe wat mense soos ek kry, asook die ouens wat by entstof betrokke is, kry jy die indruk daar is inderdaad baie gevalle.
“So dit is die dilemma waarmee ons te make het. Dis nie ’n beheerde siekte nie, maar die staat hou tog sy oor op die grond omdat dit nou ’n aanmeldbare siekte is, maar nie genoeg mense meld dit aan nie,” sê Van Vuuren.
‘Die staat hou tog sy oor op die grond omdat dit nou ’n aanmeldbare siekte is, maar nie genoeg mense meld dit aan nie.’