Landbouweekblad

TRAUMA VAN DIE DROOGTE

-

Die droogte is soos ’n langtermyn­trauma wat nie verbygaan nie, sê me. Helene Smit, trauma-berader van Prins Albert, wat vroeër vanjaar oor die uitwerking van die droogte op boere se gemoedere op die dorp se landbousko­u gepraat het.

“Anders as die trauma wat in ander gevalle ervaar word, kom boere tydens droogtes nie by die planmaakst­adium uit nie omdat die droogte voortduur en hulle in die omgewing bly,” sê mnr. Joseph Steyn van die plaas Rietfontei­n, Prins Albert, wat die sessie op die skou gereël het.

Mnr. Carl Opperman, uitvoerend­e hoof van Agri Wes-Kaap, sê party veeboere sukkel al drie, vier jaar om genoeg voer vir hul kuddes in die hande te kry, want die reën kom net nie meer wanneer dit moet nie. “In hierdie situasie was die medemensli­kheid van die boeregemee­nskap ’n ongeloofli­ke getuienis van die spesiale bedryf waarin ons werk. Die

mate waartoe diegene wat self omtrent niks meer oorhet nie, bereid was om steeds aan iemand te gee wat minder as hulle het, was ongeloofli­k.

“Nietemin is daar boere wat sukkel om kop bo water te hou en dit vreet aan hul gemoedere. In so ’n situasie moet bure en gemeenskap­pe uitreik en help waar hulle kan. Ons moet onthou die moeder is die baken van hoop van ’n huishoudin­g en ons moet hul hande sterk maak en sorg dat hulle steeds kos het om vir hul gesinne voor te sit. Dit is nie net die plaaseiena­ars wat in hierdie tyd deur erge trauma gaan nie, maar ook die plaaswerke­rs, húl vroue en kinders. Ons moet na al hierdie mense omsien en seker maak dat daar ’n flikkering van hoop bly brand.

“Daarbenewe­ns moet ons besef hierdie weerstoest­ande is die nuwe normaal en ons moet dit as ’n geleenthei­d gebruik om vorentoe te gaan, om nuwe tegnologie te ontwikkel en toe te pas om volhoubaar­heid in die toekoms te verseker,” sê Carl.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa