As dit mielies reën in dorre Namakwaland . . .
Boere van Kamieskroon in die droogte-geteisterde Namakwaland praat met groot dankbaarheid oor twee ruim en tydige mielieskenkings van boere by Hoopstad.
Die hele ding is ’n wonderwerk, sê mnr. Tertius Archer, boer en veteraan van die georganiseerde landbou in Namakwaland. “Ek is totaal oorbluf. Ons gelowiges het eers gebid vir reën, toe vir ’n wonderwerk. Wat ek in gedagte gehad het, was reën en vol damme en riviere, maar toe kom die Here met ’n beter plan. “Dié plan was om Sulene (sy skoondogter) te gebruik om by Willem en Jacques van Zyl uit te kom. Daardie mense het 18 vragte mielies gegee. As ons reën gekry het toe ons die eerste mielies gekry het, sou dit nog twee tot drie maande geduur het voordat daar veld is. Nou kan ons die diere aan die gang hou en lammers markklaar maak sodat ons ’n geldjie kan kry.” Me. Sulene Archer, boervrou en toerismeentrepreneur, het as student aan die Vrystaatse Technikon die Van Zyls van die Willemshoop-boerdery by Hoopstad ontmoet toe sy jare gelede naweke by haar suster op die buurplaas gaan kuier het. Toe kliënte van Absa Besigheidsbank tydens ’n onlangse fietstoer in die Kamieskroon-omgewing die toestande daar sien, het hulle sowat R70 000 aan die boere geskenk om voer te koop (sien KASSIE op bladsy 4).
Sulene het met die samewerking van die bestuur van die Kamieskroon-boerevereniging besluit om haar “kontakte” in die Vrystaat te nader om voer te soek wat hulle met die geld kon koop.
Willem sê Sulene se telefoonoproep het die ratte laat draai. Hy en sy seun, Jacques, het ’n deel van vanjaar se rekord mielie-oes opsygesit en ’n bydrae gelewer toe hul plaaslike boerevereniging 800 ton mielies aan boere van Calvinia geskenk het. “Ons het toe besef hoe groot die nood werklik is. Ek het vir my seun gesê ons moet die mielies inry, iewers sal iemand wat dit baie nodig het, oor ons pad kom. Toe bel Sulene my vrou en wat ek gedink het gaan gebeur, gebeur. Toe begin ons mielies skenk.”
Dit was nie eens vir die Kamieskroners nodig om die vervoerkoste te betaal nie. Ná
die skenking aan Calvinia het genoeg van die geld wat maatskappye, soos Sasol en Foskor, vir vervoer geskenk het, oorgebly om die vervoer van 300 ton mielies van Hoopstad tot Kamieskroon te betaal.
Willem en Jacques sê hulle wou die Kamieskroon-boerevereniging se 22 lede goed help. “Ons het gedink as elkeen omtrent 15 ton kry, sal dit darem ’n ruk help.”
Toe Sulene hom na ’n ruk laat weet dat hulle ’n deel van die mielies vir boereverenigings by Garies gegee het, het die Van Zyls besluit om nog 315 ton mielies te stuur en self die vervoerkoste te betaal.
Die Kamieskroon-boerevereniging het ook die tweede besending met hul medeboere gedeel deur sowat twee derdes aan Agri Namakwaland (die unie van agt boereverenigings in Namakwaland) te gee. Hulle het ook begin om ’n rollende bankrekening vir voeraankope op te bou deur boere te vra om R20 per 50 kg-sak mielies by te dra. Hulle het sedertdien reeds lusern met die geld gekoop.
Willem meen daar is nie ’n beter manier om dankie te sê vir die rekordoes wat hulle vanjaar behaal het as om ’n deel daarvan aan ander boere te skenk nie. “Ons was verlede jaar in daardie bootjie toe ons omtrent nie ’n druppel reën gekry het nie.”
Waar hy boer, is hul gemiddelde reënval 450 mm per jaar. In 2015 het hulle 221 mm gekry en ’n skaflike oes behaal, maar in 2016 het hulle net 94 mm gekry. “Ons plek het soos ’n woestyn gelyk. Ons het nie ’n enkele pit geplant nie.”
Willem sê hy wil nie hê die boere moet hom en sy seun op ’n troontjie plaas nie. “’n Ou is maar ’n senter tussen die losskakel en ’n vleuel, jy gee net die bal aan. Ons gee uit ons oorvloed, maar toe Kamieskroon se boere mielies kry, het hulle dit verder verdeel.
“Hulle moet net vasbyt. ’n Ou bid vir uitkoms en kyk net op na die wolke, maar uitkoms kan ook op ander maniere kom. Die feit dat alles met die eerste besending so perfek gewerk het, moet hulle net laat glo dis hul gebede wat beantwoord is.”
Hy sê ook as ’n mens so geseënd is, moet jy rondom jou kyk. “Ek hoop die skenking kan meer mense bewus maak van die nood van ander boere sodat hulle ook sal help.”
Hy het ’n pluimpie vir die boere op wie se plase die mielies afgelaai is. “Die lorriebestuurders sê vir my jy stuur ons na verskriklik goeie mense toe. Hulle het nog nooit ’n vrag afgelaai waar mense hulle so gasvry behandel het nie.”
Sulene sê hulle het die Van Zyls Kamieskroon toe genooi sodat hulle ’n Namakwalandlam kan braai en ’n “verrassingspakkie” van plaaslike produkte vir hulle kan gee, andersins sal hulle Vrystaat toe gaan om dankie te sê.
WONDERWERK OP REGTE TYDSTIP
Die omstandighede van boere rondom Kamieskroon verskil, maar die mielieskenking maak ’n groot verskil aan almal.
“Vir my is die mielies ’n wonderwerk,” sê mnr. Gertjie Visser van die plaas Kraairivier. “Toe ek die boodskap kry dat ons soveel mielies kan loop haal, het ek eers gedink dis nie waar nie.”
Gertjie sê die mielies het op die regte tyd gekom – net toe hy nie meer geld gehad het om by Kaap Agri voer te koop nie. “As die voer nie toe gekom het nie, sou hier ’n groot fout gekom het. Ek sal graag vir Willem van Zyl hier wil kry, dat ek hom in oë kan kyk en hom bedank en dat ’n mens vir hom kan vleis braai.”
Gertjie sê hy is bitter dankbaar. “’n Mens kan dit nou nog nie glo dat een ou so baie mense so groot kan help nie.”
MIELIES GEREËN
Ook mnr. Marius van Wyk van die plaas Blouklippe sê hulle het vir reën gebid, toe reën dit mielies. “Dit is ’n groot uitkoms. Dit gaan sleg, en as ons nie die mielies gehad het nie, sou dit nog slegter gegaan het.”
Marius sê die mielies het gehelp dat hulle ’n mengsel kon maak om lammers mark-
‘’n Ou is maar ’n senter tussen die losskakel en ’n vleuel, jy gee net die bal aan.’
‘Ons gee uit ons oorvloed, maar toe hulle die mielies kry, het hulle dit verder verdeel.’
gereed te kry, want die voer wat hy gewoonlik self lewer, is lankal op.
Mnr. Ivan van Niekerk van die plaas Bet El sê die skenking is die grootste hulp wat hy nog gekry het. “Ek sal vir ’n lang tyd nie mielies hoef te koop nie, net lusern en konsentrate. My rekening by die koöperasie gaan vir ’n paar maande afkom.”
Hy sê hy is verbaas dat ’n mens “so verleë en afhanklik” kan word, maar besef dat jy maar jou trots in die sak moet steek. “Die bydrae van die Van Zyls is vir ons duisende rande werd. Ek is dankbaar en besef ons lewe van seëninge.”
Hy is bekommerd oor die veld wat so uitgeput is, en hul behoefte aan aangekoopte ruvoer so groot maak. Ivan sê hy het ses maande gelede sy aanteelvee verminder. “Die winterlammers is die helfte minder as wat hulle moet wees en die helfte in waarde. Dit gaan eintlik pateties.”
Toe hy begin boer het, was dit sy droom om die plaas in ’n beter toestand af te gee as wat hy dit gekry het. Party jare lyk dit of hy gevorder het, maar nou weet hy nie waarheen om die vee te vat nie, en voel dit of sy droom van beter veld nie bewaarheid gaan word nie.
NIKS IN OORVLOED NIE
Mnr. Philip Crous van die plaas Grootvalleij en voorsitter van die Kamieskroon-boerevereniging sê hy is oorbluf dat “een ou en sy seun” bereid is om vir hul gemeenskap so baie mielies te gee.
“Ek weet nie hoe om dankie te sê nie. Ek kry nog nie my kop om die ding nie. Hier waar ons boer, gebeur alles op klein skaal. Daar is niks in oorvloed nie. Hul besigheid is seker baie groter en sterker as ons s’n, maar dis ’n groot inspuiting vir ons lede.”
Hy sê ’n groep van hulle het ’n vrag mielies bestel net voordat hulle van die skenking gehoor het, maar waar hulle R400/ton in ’n gesamentlike voerrekening vir die geskenkte mielies bygedra het, het die gekoopte mielies meer as R2 000/ton gekos. “Die laer prys maak ’n groot verskil aan ons voerrantsoen en kontantvloei. Jy kan sien die ou wil help dat ons die volgende reëntyd kan haal.”
Sy skoonpa het sedertdien veevoedingskundiges van Feedtek genooi om hulle te leer hoe om die mielies so kostedoeltreffend moontlik in voermengsels te benut.
HEF AAN LÊ NOG VOOR
Mnr. De Graaff Genis van die plaas Brakkies sê vir hom gaan dit oor die gebaar wat die Van Zyls maak. “In ’n jaar soos vanjaar dat ons nie ’n pit gaan oes nie, is dit meer as R40 000 wat in ons boerdery inkom. Dit gaan nie net oor finansiële oorwegings nie, maar oor die groothartigheid van die man.
“Dan is daar vir my en Anlie (sy vrou) ’n groot stuk voorsienigheid van die Hoër Hand daarin dat die mense van die Vrystaat geseën is met ’n groot oes en hulle dan hul harte oopmaak vir mense en plekke waar dit sleg gaan. Vir ons is dit ’n les om ook gewers te wees.”
Hy meen hef aan lê nog voor. “Dis die eerste keer wat ek kan onthou dat ek in Oktober al so baie lammers in die voerkraal moet sit. Ons het reeds ’n derde van ons bemarkbare lammers verkoop.”
De Graaff sê hy is opnuut dankbaar dat hy lank gelede vee verminder het. Dis veral in die droë jare dat hy die waarde van ’n laer belading sien. Hy is ook dankbaar vir die voerbank van kaf en strooi wat hulle in die voorspoedige jare opgebou het. Die haweren garspitte van 2016 se oes is lankal op, en die mielies vul daardie kragvoergaping.
Hy meen die droogte se uitwerking is wyd en verreikend. “Die droogte toets jou moed en uithouvermoë as jy sien hoe die bosse vrek en die normale instandhouding moet aangaan. ’n Mens het ook vrae oor hoe jy die veld moet bestuur as die reën weer kom.”
As daar een les is wat die droogte hom leer, is dit die waarde van samewerking en die georganiseerde landbou.