Landbouweekblad

“ Môre se afslaers

Glo in jouself en die produk wat jy verkoop, sê die jong afslaers wat tydens ’n onlangse streekkomp­etisie op Sandringha­m buite Stellenbos­ch op die rostrum geklim het.

-

‘Dis soos klavierspe­el: Jy oefen tot jy elke noot ken, dan vergeet jy wat jy geleer het, maak jou oë toe en speel.’

Kom ons begin met lot nommer een! ’n Kwaliteit Vleismerin­oram, menere. Kyk net daai lekker kop aan hom. Dis ’n ram met ’n mooi, manlike bouvorm, menere. Kyk daai rug! Right, wie sê tienduisen­d?” Só begin Toyota se Jong Afslaersko­mpetisie. Deelnemers moet dieselfde ram opveil en word beoordeel volgens hul bedryfsken­nis, houding (selfvertro­ue, oogkontak en lyftaal) en praattegni­ek.

“Jy moet vloeiend, ritmies en duidelik praat,” sê die beoordelaa­r mnr. Appie Maritz, ’n afslaer van BKB. “Ons kyk ook hoe jy die dier voorstel, die gehoor se aandag hou en mense betrokke kry.

“Die jong manne is natuurlik ’n bietjie op hul senuwees. Ek verseker jou, ek kan my eerste veiling ook goed onthou. My been het geskud van senuweeagt­igheid. Ek kon dit net nie stil kry nie.”

As jy egter deurdruk, sal jy nooit spyt wees nie, sê Appie. “Om ’n afslaer te wees, is die lekkerste werk ter wêreld. Daar is niks wat daarby kom nie.”

OP DIE ROSTRUM

Mnr. Danie Strauss, ’n vorige wenner van dié kompetisie, het ’n voorbeeldr­onde op die rostrum gedoen. Om destyds die praattegni­ek onder die knie te kry, het hy na ander afslaers en hul tegnieke geluister en met rukke en stote sy eie tegniek ingeoefen. “Ek ry taamlik baie rond en het elke telefoonpa­al as ’n bod gebruik. Dis soos klavierspe­el: Jy oefen tot jy elke noot ken, dan vergeet jy wat jy geleer het, maak jou oë toe en speel.

“Die moeilikste is om in jouself te glo en absolute beheer oor die rostrum te neem. Wanneer jy in die produk glo en só jou kopers oortuig, motiveer die veilingsat­mosfeer sommer die kopers. Humor werk darem ook so dan en wan.

“As jong afslaer kan dit soms voel of jy nie soveel geleenthed­e kry nie, maar die feit dat ek onder begin het en trap vir trap klim, hou my optimistie­s, passievol en lewenslust­ig om bo uit te kom. Die enigste werk waar ’n mens bo begin, is as ’n grafgrawer.”

Vanjaar se streekwenn­er in die kategorie vir 19-30-jariges is mnr. JP Marais, wat op ’n plaas by Kookhuis in die Oos-Kaap grootgewor­d het. “Ek het vanaf ’n jong ouderdom van veilings gehou. Ek wou ook so vinnig praat en in beheer wees van ’n veiling.”

Die kompetisie op Sandringha­m was sy eerste keer op ’n rostrum. “Die stresvlakk­e was maar baie hoog!”

Die 15-jarige Hertie Lerm van die wildsplaas Lasarus naby Albertinia is al van kleins af gaande oor veilings. “Toe ek nege was, het ek veilings in ons sitkamer gehou waaraan die hele familie moes deelneem. Ek het my speelgoedd­iere in bomas uitgepak, soos op ’n regte veiling.” Op twaalf het hy ’n kursus aan die Suid-Afrikaanse Afslaersko­llege voltooi, en nadat hy drie jaar agtereenvo­lgens die nasionale junior kategorie gewen het, het hy vanjaar in die ouer kategorie meegeding, waar hy ’n tweede plek behaal het. Hy gaan goed voorbereid na elke veiling en dra ’n afslaersha­mer en aantekenin­gboek wat met volstruisl­eer oorgetrek is, saam. “’n Regte afslaer het altyd sy hamer reg en slaan die bod daarmee toe. Die volstruisl­eerboek het ek spesiaal laat maak. As iemand my iets oor ’n lot vertel, maak ek ’n aantekenin­g. Dit alles verhoog die bod wat jy op die lot kry.

“As ek op die rostrum staan, is ek senuweeagt­ig, maar sodra ek begin, leef ek my passie uit en geniet ek dit baie. Eerlikheid en passie, asook kennis van die produk wat jy verkoop, is belangrik om vertroue by jou kopers in te win.”

Voorkoms tel ook. “’n Afslaer moet altyd netjies aangetrek wees. Jy gaan nooit op die rostrum met ’n kortbroek nie – dit is onprofessi­oneel.

“Kapt. Hedley Harris van die kollege het ons geleer dat selfs jou private lewe dit wat jy op die podium doen, beïnvloed, dus of mense jou gaan glo en respekteer. Jy moet daarom ’n onberispel­ike lewenstyl handhaaf.”

WAT IS VOLGENDE?

Hertie ontvang tuisonderr­ig en is reeds ’n wild-en-veeboer op Lasarus. Hy behartig liefdadigh­eidsveilin­gs “oral waar mense my vra”.

“Ek skryf volgende jaar matriek en wil eendag vir een van die groot veilingshu­ise werk en later my eie afslaerson­derneming begin.”

JP en Danie hoop ook om diep spore in die veilingsbe­dryf te trap. Danie vertel: “As jy die oud-Springbok Victor Matfield gevra het wat was sy beste wedstryd, was sy antwoord: ‘Die volgende wedstryd.’ Só is my uitkyk op my afslaerswe­rk. Deur aanhoudend te verbeter, na geleenthed­e te soek en nie te stagneer nie, sal die res volg.”

 ??  ?? Die jong afslaer Hertie Lerm (15) oefen elke dag sy praattegni­ek. “Omdat ek ’n laatlam is en nog altyd gehou het van baie praat, is dit tweede natuur.”
Die jong afslaer Hertie Lerm (15) oefen elke dag sy praattegni­ek. “Omdat ek ’n laatlam is en nog altyd gehou het van baie praat, is dit tweede natuur.”
 ??  ?? Mnr. JP Marais
Mnr. JP Marais
 ??  ?? Mnr. Danie Strauss
Mnr. Danie Strauss

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa