Boere, hul bikes en die Bastervoetpad
Vier boere met hare wat begin min word, droom van horisonne wat verbreed moet word. Hul bikes en die agterpaaie wink.
Die Yamaha gee ’n laaste desperate brul, soos ’n Brahman-kalf wat gekastreer word.
Alan is ’n smart ou. Vierde geslag op die familieplaas. Hou van netheid en goeie beplanning, soos dit ’n goeie skaapboer betaam. Hy kies die BMW 800 GS vir dit wat voorlê. Leon, die rustige, konserwatiewe een, is altyd op sy pos in die melkstal. Sy Yamaha 200 cc-plaasmotorfiets beperk hy gewoonlik tot 80 km/h. Dit kos geld om die goed reg te maak! Daarteenoor ken Stefaans en sy beesboerdery géén perke nie. Sy KTM 990 is haastig. En dan is daar die uwe op ’n gewillige BMW 650.
Op ’n winderige Vrydag maak ons die tenks vol en olie die kettings. Ons ignoreer die waarskuwings van reën en verspoelde grondpaaie en val in die pad na die Mountain Shadows-hotel naby Elliot. Ou Leon is solank vooruit. ’n Regte gentleman wat niemand wil ophou of sy fiets verrinneweer nie. ’n Sterk suidwestewind kom van agter en ons moet net keer om nie varke of bokke te tref nie, maar ons haal Mountain Shadows.
Saterdagoggend breek aan en die manne is opgecharge. Alan se nuwe BMW-outfit lyk goed. Rooi baadjie, swart broek en blinkswart boots wat by sy tyres pas. Leon het niks gekoop nie, maar sy bike en sy oë blink. Hy dra sy spietkop-baadjie, die groene met die helder, silwer strepe. Safety first ,glohy.
Ons trek weg op teer en volg dan ’n paar kilometer grondpad tot ’n geroeste bord die Bastervoetpad aankondig. Die wêreld is nát. Die pad, vore en klipplate blink. Ek raak kriewelrig. Leon en Stefaans vorder, maar Alan spook om die modder van sy outfit te hou. Met aanmoediging en genade kry ons hom darem bo. Die uitsig oor die oggendmis is wragtig pragtig. Die beeste is vet en die gras is groen.
DIE EERSTE MODDERGAT
Onder Alan se leiding gaan dit aanvanklik nie sleg nie – tot by die eerste moddergat. Hy maan ons nog tot versigtigheid, toe vrek daai BMW 800 GS in die middel van die gat. Dié wat weet, sê die wiele moet draai terwyl jy op die pegs staan, anders val jy.
En dis nét daar waar ons ou staatmaker se tegniek hom in die steek laat. Hy val met waardigheid, maar sy selfbeeld daal tot onbekende donkertes. Alan lyk nie goed nie. Die modder peul by sy boots uit en die rooi BMW-baadjie lyk of dit geborg is deur die ouens wat Black Label-bier maak.
Stefaans begin bekommerd raak, want balans kan ’n faktor raak met al die modder. Ons bly egter optimisties.
Alan val elke 36,5 m of wat. Die gladde bande help ook nie juis nie. Die manne sukkel om nie te lag nie. Naderhand bly hy sommer netlê...die bike op hom en die mooi klere wat ’n was kort. Ons help waar ons kan, maar ’n bekommernis oorval die man: “Wat gaan van ons word as ons nie tot onder kan kom nie?”
Ten spyte van Leon se aanmoediging raak Alan se gesig al hoe langer en sy oë groter. Sy ore begin hang soos ’n ou Merinoram met te veel ooie in sy kamp. Maar ons vorder tog. Stefaans gooi sy KTM rond asof dit ’n fifty is. Leon loop langs sy bike as dinge te tegnies raak. Ek wil-wil liggies onseker raak, maar ek weet ek moet aan my bike enmy image klou tot die bitter einde.
PRO OP PEGS
Ek en Stefaans ry vooruit om by die laaste watergat te gaan wag. Stefaans reken Alan gaan vir oulaas val, daarom wil hy die oomblik met sy Samsung verewig. Alan was nog altyd ’n gerekende man wat nie met hom laat mors nie. Hy kom stadig aangery, vat die beste lyn en maak dit rustig deur die moddergat. Soos ’n moeë John Wayne lig hy homself uit die saal en stof sy baadjie af. Die “B” (van BMW) en “AD” (van Motorrad) is darem nog sigbaar, maar dit spel niks goeds nie.
Stefaans wou nog wonder waar Leon is, toe iets Japanneserigs om die laaste draai kom. Staande, soos ’n pro op die pegs. Die wapperende spietkop-baadjie klink soos ’n Puma-chopper wat kom land. Vooroor soos ’n wafferse Ghenghis Khan is hy – toegewyd, verbete, op spoed. Sy oomblik van glorie. Ek skree: “Kook hom!” Stefaans skree om terug te staan.
En toe slaat Leon daai watergat sonder enige grasie. Ons wag vir die modderbad, maar baas en bike raak airborne. Dit raak ’n resies tussen hom en die Yamaha. Ek vermoed hy is ’n kortkop voor die bike toe hulle in die bosse verdwyn. Die Yamaha gee ’n laaste desperate brul, soos ’n Brahman-kalf wat gekastreer word, en toe is daar stilte.
Stefaans bars uit van die lag, Alan is stom van bekommernis. Ek wonder hoe ek moet voel.
Die bosse roer. Man, muis en masjien is op pad. Ons help met die bike en die skewe helmet. Leon se overcomb hang oor sy regterwang, vol stof en stokke. Die baadjie se oorblywende repe is besig om hom te verwurg. Diep beswaard gaan sit hy. Stefaans ondersoek hom en kom tot die slotsom hy sal die huis haal. Hier en daar is ’n probleempie met die anatomie, maar ons ou pel is fine.
Van sy strydros kan nie dieselfde gesê word nie. Dié lyk al hoe meer soos ’n Yamaha 250 wat ’n marshall saamgesleep het by ’n haastige Enduro-checkpoint. Ons panelbeat die bike. Almal oortuig Leon dit was die voorste skokbrekers se skuld – sy olie is te dun.
Die Yamaha start net voor die battery vrek. Geen verdere planne vir Naudésnek en Rhodes vandag (of môre) nie. Alan neem weer sy regmatige plek voor in op die Elliot-teerpad, terug na Mountain Shadows. Die aand smaak die Windhoek Lager ekstra lekker en ek wonder by myselwers: Het iemand hier nie dalk al die nuwe Landbouweekblad nie?
Henk Buytendag is ’n afgetrede boer van Oos-Londen. Hy reis graag en is baie lief vir musiek.