Landbouweekblad

CAP CLASSIQUE BORREL VOORT

- — LUCILLE BOTHA

DIE kategorie vir Suid-Afrikaanse Cap Classique-vonkelwyn het binne net een jaar met bykans ’n miljoen bottels – tot 4,4, miljoen bottels – geklim.

Volgens mnr. Joaquim Sá, besturende direkteur van Amorim Suid-Afrika, is dit “verbystere­nde groei van 24%”. Daar is tans 220 Cap Classique-produsente in die land, wat altesaam 300 handelsmer­ke lewer. Uitvoer floreer veral na Brittanje, Amerika en die res van Afrika.

Mnr. Hannes Meyer, wynmaker by Simonsig wat by die pas afgelope Amorim Cap Classiqueu­itdaging in Kaapstad geseëvier het, sê die gehalte van Cap Classique het die afgelope paar jaar baie verbeter. “Die ouens doen moeite om goeie gehalte in die bottel te sit,” sê hy.

Dié Stellenbos­se landgoed het sowat 48 jaar gelede Suid-Afrika se heel eerste Méthode Cap Classique gemaak. Simonsig is by die toekenning­sgeleenthe­id vir die vierde keer as beste produsent aangewys. Dit was vir die Cuvée Royale Blanc de blancs 2012, wat slegs van Chardonnay gemaak is. Die wyn het ook in die Blanc de blancs-kategorie geseëvier. Simonsig se Pinot Noir Rosé 2015, wat vir Woolworths gemaak word, het boonop ook met die louere weggestap in die Rosé Cap Classique-kategorie.

“Cap Classique is nie meer net ’n verjaardag-, Kersfees- en Nuwejaarsd­rankie nie, maar ál meer mense drink dit daagliks,” sê Hannes oor die produk se groei.

“Dit is baie goed vir die wynbedryf, want die wêreld besef SuidAfrika hoef nie terug te staan vir enige sjampanje nie. Ons is nie Champagne nie en ons probeer ook nie die Franse naboots nie, maar ons maak unieke produkte wat getrou is aan ons grondsoort­e en omgewing. Ons het in ’n kort tyd baie reggekry!”

Die drink van ingevoerde sjampanje, Prosecco en Cava neem ook fluks toe in Suid-Afrika. Verlede jaar is meer as R320 miljoen van die produkte ingevoer – amper net soveel as Suid-Afrikaanse vonkelwyn-uitvoer, sê Sá.

“Die toekomstig­e uitdagings vir Cap Classique sal dieselfde wees as dié wat die Suid-Afrikaanse wynbedryf as geheel moet hanteer: Dit is naamlik om sterk handelsmer­ke te skep en meer daadwerkli­ke bemarkings­inisiatiew­e in werking te stel om te verseker dat Cap Classique voortgaan om in die mark te groei,” het hy tydens die geleenthei­d gesê.

Die Cap Classique-uitdaging is 16 jaar gelede vir die eerste keer aangebied. Destyds is sowat 700 000 bottels Cap Classique per jaar verkoop. Vanjaar het 97 vonkelwyne hul staal by die kompetisie kom wys.

Volgens Heidi Duminy, ’n Kaapse Wynmeester wat ook as sameroeper van die beoordelaa­rspaneel opgetree het, het veral wyne uit die 2011- en 2015-oesjare uitgestaan tydens beoordelin­g. Sy meen produsente se passie en toewyding werp vrugte af.

 ?? FOTO: VERSKAF ?? Van links is Peter Clarke (Domaine des Dieux), Pieter Ferreira (Graham Beck), Sharon Parnell (Domaine des Dieux), Hannes Meyer (Simonsig) en Pierre de Klerk (Graham Beck) met die pryse wat hulle op die 16de Amorim Cap Classiquek­ompetisie gewen het.
FOTO: VERSKAF Van links is Peter Clarke (Domaine des Dieux), Pieter Ferreira (Graham Beck), Sharon Parnell (Domaine des Dieux), Hannes Meyer (Simonsig) en Pierre de Klerk (Graham Beck) met die pryse wat hulle op die 16de Amorim Cap Classiquek­ompetisie gewen het.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa