BOERE VERTEL: ‘DIE DROOGTE BEKRUIP JOU’
Die grootste kwessie vir boere is om as dit goed gaan, planne te beraam en praktyke in werking te stel om die moeilike tye te oorleef, dog met die wisselvallige reën wat hulle die afgelope paar jaar kry, voel dit of die droogte hulle bekruip, sê mnr. Joseph Steyn van die plaas Rietfontein by Prins Albert.
“Ons het mos in Augustus verlede jaar daardie lekker reën gehad, toe’s die wêreld mooi. Toe het ons gedink die droogte is verby en ons gaan ’n normale somer hê. Toe kom reën dit nie in Maart nie en ook nie in die winter nie. Ons het begin November eers weer reën gekry.
“Dis asof jy planne beraam vir die seisoen, dan kom die reën nie. Jy kan nou terugkyk en sê ek moes ander planne beraam het.”
Hy sê met die vorige groot droogte van 2002 tot 2009 kon hy sy skape laat “weg loop”, met ander woorde by boere van Murraysburg, VictoriaWes en Vleesbaai laat wei. Hoewel hy die helfte van die aanteel se wol en vleis aan dié boere moes afstaan, kon hy sodoende sy troppe behou. Vanjaar het hy weer gesoek, maar hy kon nêrens weiplek kry nie, want dis oral droog.
Mnr. Pieter Eksteen van die Spes Bonaboerdery tussen Piketberg en Aurora – in die middel van die RooiKaroo – het vanjaar op 19 September sy koring in die aar begin baal om ten minste iets van die misoes te red. “Moenie dat die are jou flous nie, daar is nie veel in daai are nie. Net die onderste drie of vier pitte het bestuif,” sê hy.
Hy het gemiddeld twee bale, sowat 1 ton per hektaar, gebaal gekry. “Dis darem R1900/ha wat ek terugkry, maar die probleem is die reserwes. Ek is bekommerd oor Maart en April volgende jaar, wanneer my ooie moet lam. Ek kan nie bekostig om hul kondisie te laat agteruitgaan nie, want dan is die volgende lamtyd ’n groter ramp. Dit is nou die derde jaar in ’n ry dat ons hier bitter min oes.”