Voeraanleg gee SIT ’n hupstoot
Die steriele insektegniek het al groot dividende opgelewer vir die sitrusbedryf. Danksy ’n nuwe voeraanleg kan meer steriele motte geteel word om in die toenemende vraag te voorsien.
Die sukses van die steriele insektegniek (SIT) het pas nuwe momentum gekry deur ’n voeraanleg wat motte vinniger en op die lange duur ook potensieel goedkoper aan die bedryf kan lewer. Sedert die SIT in 2007 in die Wes-Kaapse sitrusbedryf in gebruik geneem is, het die aantal boorde waar dié motte vrygelaat word van 1 500 ha tot 18 000 ha uitgebrei.
“Dit word nou in die Wes-, Oos- en NoordKaap gebruik,” sê mnr. Nevill Boersma, programbestuurder by Xsit op Citrusdal.
Oor die program se sukses kan nie gestry word nie. In die 2010-’11-produksiejaar het gemiddeld meer as 1,5 vrugte per boom onder valskodlingmot deurgeloop. In die jongste produksiejaar is net gemiddeld 0,2 vrugte per boom besmet.
Om die oppervlakgroei moontlik te maak, moet al hoe meer steriele motte geteel word, wat natuurlik meebring dat die voedingsproses ook verfyn moet word.
“Voorheen het ons glasbotteltjies met die hand gevul (met die pap wat aan die larwes gevoer word), dit met die hand oop- en toegeskroef en ook met die hand gewas,” sê Nevill.
“Ons kon nie so aanhou nie; nie vanuit ’n arbeidsoogpunt nie, maar ook die logistiek en vloei het ’n probleem geraak, want ons moet 120 000 eenhede per week verpak.”
MEGANIESE KOOKPROSES
Valskodlingmotte is enkelmaagorganismes, daarom kan die insek nie komplekse stysels verteer nie. Die voer moet dus gaargemaak word sodat die stysel nie dekstrineer of verbindings, soos liasien, vorm (as die stysel te ver afgebreek word) nie, wat die larwes moeilik verteer.
“Ons moes dus ’n manier vind om die pap só gaar te maak dat die stysel nie beskadig word nie, sodat die larwes dit kan verteer.”
Die oud-Puk het ander tipe stelsels begin ondersoek om die pap – wat hoofsaaklik uit mieliemeel, melkpoeier en koringkiem bestaan – tot op die gewenste punt gaar te maak. Nadat hy mikrogolwe, infrarooitegnologie en selfs kookpotte getoets het, het hy by sy alma mater gaan aanklop om meer oor die ekstrusie-tegniek uit te vind.
Mnr. Danie Vorster, besturende direkteur van CFAM Technologies, sê ekstrusie is ’n meganiese kookproses wat wrywing gebruik om energie op te wek. “Dis algemeen in die voedselbedryf en word gebruik vir verskeie produkte, soos babakos, viskos en troeteldierkos.” CFAM het uit die Noordwes-Universiteit se fakulteit ingenieurswese ontstaan. Die onderneming spesialiseer in dubbel-
skroef-ekstrusie en ekstrusie-tegnologie.
Enkelskroef-ekstrusie is goedkoper, maar dit maak staat op ’n balanspunt van wrywing en het dus beperkte toepassings. Dubbelskroef-ekstrusie, aan die ander kant, is ’n omvattender proses wat ook maklik by die doel aangepas kan word.
Verskeie proewe het Nevill oortuig dubbelskroef-ekstrusie is die aangewese roete om te volg. Aanvanklik het Xsit die ekstrusieproses aan ’n maatskappy in die Kaap toevertrou, maar dit het te duur geraak. Hul eie aanleg – hoofsaaklik met plaaslike toerusting – is vanjaar gebou.
BINNE 15 SEKONDES GAAR
Die bestanddele vir die rantsoen word in die aanleg gemeng en water word bygevoeg voordat die beslag na die ekstrueerder gaan.
“Die rou produk word verhit tot 140 °C en is binne 15 sekondes gaar. Dis een van die energie-doeltreffendste kookprosesse wat daar is, want al die energie gaan direk na die produk toe,” sê Danie.
Die pap word deur ’n matrys gepers om klein balletjies te vorm, afgekoel en teen 100 °C uitgedroog. Water word weer bygevoeg en die mengsel kry ’n skeut formalien om dit te steriliseer voordat dit saam met ’n eiervelletjie (’n wasvelletjie waarin sowat 800 eiers voorkom) in plastieksakkies (280 g elk) verpak word.
Die nuwe aanleg van sowat R5 miljoen kan tot 600 kg rantsoen per uur vervaardig.
BROEI UIT IN SAKKIE
Die plastieksakkie het ’n spesiale membraan om genoeg suurstof deur te laat, koolstofdioksied uit te laat en die ideale voginhoud te handhaaf. Die eiers broei binne twee dae in die sakkie uit, sê Nevill.
“As die larwes groot genoeg is, vanaf dag 12, vreet hulle ’n gaatjie deur die plastiek. Hulle word op puperingsborde opgevang waarna ons hulle vir tien dae in spesiale kabinette – ’n mens kan maar sê broeikaste – plaas sodat die papies kan uitbroei.”
Een kant van die kabinette word in lig gehul, en die ander in donker. Die motte vlieg na die lig toe en word met ’n vakuum opgetrek. Daarna word die motte teen 200 Gy bestraal om hulle steriel te maak. ’n Koueketting word tot in die boord gehandhaaf om die motte onaktief te hou. Dit keer dat hulle paar of hul vlerke beskadig. Voordat die motte vrygelaat word, moet die temperatuur in die boks tot sowat 10 °C styg om die motte “wakker” te maak.
“Daar is so baie voordele, soos dat die produk maklik verpak, makliker hanteer en arbeid bespaar,” sê Nevill. Dit beteken hulle kan vinniger motte aan die bedryf lewer, veral as meer hektare bedien moet word.
Hy glo die nuwe proses sal oor die lange duur ook goedkoper wees. Die aanleg behoort homself binne vier jaar af te betaal.
“Dit het sowat R12 per kg gekos om die ekstrusieproses uit te kontrakteer, nou kan ons die kos vir minder as die helfte van die koste self lewer.”