VOORKOM GOUSIEKTE SÓ
Ek boer in KwaZulu-Natal tussen Newcastle en Ladysmith met skape en op dele van my plaas is daar “gousiekte”, soos my pa en oupa dit genoem het. Wat kan ek doen? Gousiekte is ’n siekte van beeste, bokke en skape en word gekenmerk deur akute hartversaking sonder enige tekens vooraf. Siektetekens tree in ná vier tot agt weke (latente periode) na die inname van sekere plante van die
Rubiaceaeplantfamilie. Dié siekte word beskou as die vierde of vyfde algemeenste plantvergiftiging by beeste en kleinvee in SuidAfrika.
SIEKTETEKENS
Die tekens is al in 1908 soos volg beskryf: Diere wat besig is om te rus of wat rustig wei, sal skielik een of twee keer in die rondte draai, blêr of in die lug spring en dood neerval. As hulle dalk gewei het of besig was om te herkou, kan die koutjie nog in die bek gevind word. Diere vrek dadelik (akuut), vandaar die naam “gousiekte”.
Vrektes kan aangehelp word deur oefening en dit kan die gesondste diere wees wat vrek. Uitsonderings wat kan voorkom, is diere wat swak is. Hulle raak agter in die kudde, loop waggelend, haal moeilik asem en kan onderhuidse swelling hê. ’n Herstelkans is seldsaam.
GIFSTOF
Dr. Neil Fourie het die gifstof pavetamien geisoleer. Dié gifstof veroorsaak dat die normale spierweefsel veral in die hart (endokardium) verplaas word deur fibrotiese weefsel en dat ronde selle die gesonde weefsel binnedring. Die primêre letsel by gousiekte is die inhibering van die sametrekkende meganisme van die hele hartspier en gevolglik tree hartversaking in. Die volgende plante veroorsaak vergiftiging:
Pachystigma pygmaeum (harige gousiektebossie). Op die Hoëveld verkies die gousiektebossie rooi, sanderige grond en klipveld. In Limpopo se distrikte van die oostelike Hoëveld en die Waterberg groei die plant in dolomiet en sandsteengebiede.
Pachystigma thamnus (Natalse of gladde gousiektebossie). Dié plant groei dikwels saam met die harige gousiektebossie, veral in Gauteng en Mpumalanga, en verkies swak, sanderige grond om in te groei.
Pachystigma latifolium. Dié plant kom voor op oop en klipperige grasvelde, en die
grasbanke van strome, rivierbosstroke of die kussandstroke.
Fadogia homblei (wildedadel). Dié plant kom algemeen voor op wit, grys of bleek gronde in die noorde van Gauteng en aangrensende dele van Mpumalanga en Limpopo. Dit kom ook voor in die Magaliesberg en oostelike deel van Swaziland tot die Soutpansberg en noordwaarts tot in Limpopo en SentraalAfrika.
Pavetta harborii (tonnabossie). Die tonnabossie groei in diep, sanderige grond, veral in die suidelike deel van Botswana en die noordwestelike deel van Limpopo.
Pavetta schumanniana (gifbruidsbos, gousiekteboom). Dié plant groei in die suur bosveld van Limpopo, Mpumalanga en die noordelike deel van KwaZuluNatal en hou veral van rotsagtige plekke of heuwelhange.
VERGIFTIGING
Groot hoeveelhede van die plante moet gewoonlik gevreet word om vergiftiging te veroorsaak, maar ’n enkele dosis kan noodlottig wees. ’n Geval is aangemeld waar 60% van 1 761 skape gevrek het nadat hulle minder as 24 uur lank aan gousiektebossies blootgestel was.
Tydens ’n proef was die dodelike dosis van harige gousiektebossie 175 g/kg, maar sommige skape wat 47 g/kg oor ’n dag ontvang het, het ook gevrek. Die uitdroging van die plant se blare het ook die dosis drie tot vier keer laat afneem.
By bokke was die giftige dosis van droë gladde gousiektebossie 210500 g/kg, met ’n latente periode van 51 tot 93 dae.
Wildedadel het vrektes by beeste veroorsaak teen ongeveer 53 g/kg gedroogde materiaal.
Diere se vatbaarheid verskil. Plante verskil ook in hul giftigheid in verskillende jare en selfs binne ’n seisoen. Giftigheid kan ook deur ligging, grondtipe en die klimaat beïnvloed word.
OMGEWINGSFAKTORE
Die voorkoms van gousiekte is hoog wanneer weerstoestande en bestuurspraktyke die voorkoms van die gousiekteplante bevoordeel. As die vroeë somer droog is, verskyn die harige gousiektebossie in groot getalle in Januarie en Februarie, wat lei tot groot vrektes.
Gousiekte is ’n groot probleem waar oorbeweiding voorkom. In suurveld waar die grasse onsmaaklik begin word, kan gousiektebossies in die laat somer gevreet word.
In die suurbosveld waar veld jaarliks gebrand word, word die groei van wildedadel gestimuleer, veral voor of net ná die eerste lentereën, en dan kom vrektes voor.
Vergiftiging deur tonnabossie en gousiekteboom kom voor as weiding skraps begin word. Vergiftiging hou op ná die eerste ryp.
UITROEIING EN VOORKOMING
Plante kan uitgeroei word deur bewerkbare grond gereeld te ploeg. Die probleem sal ook verminder deur plante op weiding uit te grawe.
Beheer gousiekte deur goeie weidingsbestuur. Skape bewei die harige gousiektebossie meer geredelik as beeste. Deur skape en beeste saam ’n kamp te laat bewei, beskerm die skape die beeste teen té hoë innames.
Die intensiewe beweiding van gevaargebiede voorkom dat individuele diere te veel van die plante vreet. Aangesien die plante baie stadig groei, kan herhaalde beweiding deur skape die gousiektebossies binne niegiftige vlakke hou.
Baie min is gepubliseer oor die chemiese bekamping van gousiektebossies. Onkruiddoders wat fenak of pikloram bevat, kan gousiektebossies bestry sonder om omliggende grasse skade aan te doen. Die beste tyd om die middels toe te dien, is in die herfs, wanneer aktiewe groei van die plante opgehou het.
As ’n boer vermoed dat diere gousiektevergiftiging opgedoen het, kan hulle voorkomend geslag word in die lang latente periode voor hulle moontlik kan vrek. Die vleis van dié diere kan dan nog gebruik word. BRON: Kellerman, T.S., Coetzer, J.A.W.,Naude, T.W. en Botha, C.J. 2005. Plant Poisonings and Mycotoxicoses of Livestock in Southern Africa. Oxford University Press. ISBN 978 0 19 57613 4 Dr. Faffa Malan is bestuurder van die Herkouerveterinêre Vereniging van Suid-Afrika.