DIE ANDER SÊ
In die nadraai van S&P Global se afgradering van Suid-Afrika se kredietstatus en die moontlikheid van ’n soortgelyke afgradering deur Moody’s het vrese ontstaan oor verdere afgraderings tot sub-beleggingsgraad vroeg volgende jaar.
Die vraag na plaaslike effekte bly groot, want beleggers meen die potensiële opbrengste weeg swaarder as die risiko’s. Vergeleke met ander rommelstatus-ekonomieë, soos Brasilië en Turkye, is Suid-Afrika se soewereine risiko-premie laer, en soos verwag was daar weinig verandering in die opbrengs van Suid-Afrikaanse staatseffekte ná die afgradering. Dié neiging sal waarskynlik voortduur in 2018, tensy die mark bykomende afgraderings gaan begin verwag, in welke geval ’n verandering in die relatiewe risikopremies gesien sal word.
Dit is belangrik om te onthou dat Suid-Afrika se opbrengste laer as Turkye en Brasilië s’n is omdat die internasionale mark ’n laer risikopremie aan die rand koppel. Dit is gegrond op ’n sterk sentrale bank wat met sukses inflasie onder 6% gehou het.
Binne dié scenario is dit noodsaaklik om beleggings in ontluikende markte dop te hou. As effekte in ontluikende markte ’n aantreklike bateklas bly, sal dit aanhou om Suid-Afrika se opbrengste op effekte te steun en dus lei tot gedempte beweging in die geval van afgraderings. As die invloei na opkomende markte omkeer, sal alle ontluikendemark-effekte se opbrengste waarskynlik styg, en dan sal Suid-Afrikaanse effekte blootgestel word aan indeks-uitsluiting en ’n onttrekking van beleggings.