BOER AS WINKELIER
Vir een van die slimste mense in die geskiedenis was dit ’n verrassend reguit opmerking. “As jy dit nie eenvoudig kan verduidelik nie, verstaan jy dit nog nie goed genoeg nie,” het die teoretiese fisikus Albert Einstein gesê.
Om die kerngedagte agter die sukses van sy boerdery eenvoudig te verwoord, is presies wat Charles Back, vanjaar se Suid-Afrikaanse Boer van die Jaar, so goed regkry (bl. 36 van dié uitgawe). “Ek word aangespoor daardeur dat my produkte mense gelukkig maak. As ek sien mense het ’n brood met my olyfolie en ’n lekker glasie wyn of bier en hulle is gesellig en gemaklik, en ek weet die mense in die waardeketting is ook gelukkig, bring ek twee moeilike dinge bymekaar. Dan voel jy of jou bestaan op ’n klein manier geregverdig kan word. Hoekom anders is ons hier?”
Met plase by die Paarl, Darling, Malmesbury en Stellenbosch wat kaas, vleis, olyfolie, wêreldbekende wyne en koring vir brood lewer en sowat 250 000 besoekers per jaar lok, is Charles een van die min boere wat die winsgewende verhouding met die eindverbruiker intiem bestuur. Dit het alles begin met die behoefte om die beste te maak van ’n swak plaas; ’n lewenslange wil om waarde tot alles toe te voeg. Soos Charles self heel oorbluf opgemerk het toe hy die ander finaliste in die Boer van die Jaar-kompetisie uitstof: “Die ander ouens is ordentlike boere, ek is net ’n winkelier!”
Ander suksesvolle boere, soos Nick Serfontein van Sernick Bosmaras, ontgin egter ook ál meer die waarde van “winkelier” wees deur die ekstra wins te kry wat opgesluit is in die verhouding met die verbruiker. Nick maak geen geheim daarvan dat hy kommoditeite “haat” nie. Daarom die voerkraal, kontrak-speenkalfgroeiers, slagplase, en ja, winkels. Hy raak die meeste opgewonde oor die een in Soweto waar hy voorkwarte, met laer marges, vir aansienlik meer as elders kan verkoop. Met sulke diversiteit word veerkragtigheid in dié ondernemings gebou wat gewone speenkalfprodusente nooit sal hê nie.
Mielies is ’n klassieke landboukommoditeit, een wat Suid-Afrika se boere, gegewe ons natuurlike hulpbronne, sonder twyfel die beste ter wêreld verbou. Ons manne (en vroue) sal taamlik maklik in Amerika aanpas, maar die Amerikaners gaan wragtig sukkel in Noordwes!
Juis omdat mielies grootliks ’n kommoditeit is, bly die probleme legio. Plaaslike pryse word laag gehou deur ’n groot oordragvoorraad. Ons Afrika-bure behaal al hoe beter oeste, en die res van die wêreld is toegegooi onder die mielies, wat pryse verder onder druk hou. Ons boere het egter kontantvloei nodig. Die lande met die beste potensiaal word dus uitgesoek en opbrengste word nagejaag om vir laer pryse te vergoed. Die weer is ook erg deurmekaar. In dele van die weste bly die reën hardkoppig weg, en waar dit wel val, is dit taamlik oneweredig en onvoorspelbaar. Goedbeplande spuitprogramme en voorplantbewerkings word ontwrig en klein plantjies word geknou.
As ons boere enigsins minder kundig was, kon dit ’n lelike gemors afgegee het. Wat dit egter ook doen, is om die eenvoudige verduideliking van waarmee speenkalf- en graanprodusente hulle besig hou, ál ingewikkelder te maak. En dít sou Einstein ongemaklik gemaak het. — CHRIS BURGESS
• Landbouweekblad wens al sy getroue lesers en adverteerders ’n geseënde Kerstyd toe. Dit is ’n voorreg om vir julle te werk. En vir die manne wat nog sonneblomsaad soek: Agricol het laat weet hy het nog genoeg voorraad.