NUWE KODES KAN BOERE BYT
DIE nuwe swart ekonomiese bemagtigingskodes vir die landbou (AgriSEB-kodes) bring ’n oorspoeleffek wat kan meebring dat selfs kleiner boerdery wat produkte aan kettingwinkels lewer, onder druk geplaas word om aan die kodes te voldoen. Dit is omdat daardie winkels se bemagtiging-telkaart ook deur die boer se bemagtigingstatus beïnvloed word. Só waarsku mnr. Christo van der Rheede, adjunk-uitvoerende direkteur van AgriSA.
Die wysigings aan die AgriSEB-kodes is ná ’n lang gewag op 8 Desember in die Staatskoerant afgekondig en vervang die ou kodes wat in Desember 2012 afgekondig is.
Van der Rheede sê hoewel die kodes sekerheid bring oor wat die landbousektor te doen staan om te transformeer, het dit ook die potensiaal om produsente en verwerkers ’n erge knou toe te dien.
Hy sê die groot probleem is dat betreklik min swart boere tans binne die formele mark werksaam is.
“Almal besef die noodsaaklikheid van volhoubare transformasie en die skep van ’n inklusiewe landbouwaardeketting. Dit is wel realiseerbaar deur middel van ’n veerkragtige, groeiende en winsgewende landbousektor. As die aansporing vir boere om die doelwitte te bereik egter ondermyn word, gaan ons nie by ’n getransformeerde landbousektor uitkom nie,” sê Van der Rheede.
Die groot taak is dus vir die Departement van Handel en Nywerheid en Departement van Landbou, Bosbou en Visserye om met die georganiseerde landbou saam te werk om meer swart boere tot die mark te laat toetree.
SAKEMODELLE
Van der Rheede sê die georganiseerde landbou gaan meer buigsaamheid van die Departement van Handel en Nywerheid vra met die toepassing van die kodes omdat die meeste primêre landbou-ondernemings familiebesighede is.
“Landboubesighede en veral kwalifiserende ondernemings ondervind groot struikelblokke wat droogte en ’n sukkelende ekonomie insluit,” sê hy. Dit is moeilik vir familie-ondernemings om aan vereistes vir eienaarskap, vaardigheidsontwikkeling en verskaffingsontwikkeling te voldoen omdat hul bestuurstelsels nie altyd soos dié van maatskappye hanteer word nie.
Agri SA meen ook dat prioriteitselemente van die kodes – bestuur en maatskaplik-ekonomiese ontwikkeling – meer buigsaam hanteer word. (Sien
onder.) Die organisasie sê maatskaplik-ekonomiese ontwikkeling moet ingesluit word by die ander drie kategorieë waar boere beweegruimte het om punte op te bou.
Van der Rheede wys daarop dat boere jaarliks reeds opleidingsheffings van bykans R400 miljoen aan die Agriseta en bykans R500 miljoen aan statutêre heffings betaal.
“Ons sal graag sterker belyning wil sien tussen al die heffings om op die end van die dag groter erkenning te kry vir die opleidingselement by die SEB-telkaart.”
ELITE OF ALMAL?
Hy waarsku ook dat die nuwe kodes die risiko laat ontstaan dat die kodes net die swart elite wat werksaam is in die landbou bevoordeel, en meen die hele bedryf moet seker maak dat dit sal lei tot ’n breë swart bemagtigtingsektor.
’n Ander bekommernis is dat boere doodeenvoudig minder arbeid gaan gebruik.
“Die grootste slagoffer met [bemagtigings-] transaksies is dat boere toenemend gaan meganiseer, wat sal bydra tot die groter verarming van landelike gemeenskappe,” sê hy.
Volgehoue druk op kommersiële boere gaan ook daartoe lei dat boere hul aptyt verloor om verdere beleggings te doen. Die gevaar bestaan ook dat daar ’n uittog van vaardige boere gaan wees omdat hulle eenvoudig nie aan die kodes kan voldoen nie, waarsku hy.
Hy sê indien die kodes op lang termyn nie reg en sinvol bestuur word nie, dit tot voedselonsekerheid en ’n totale totale inploffing van die kommersiële landbousektor kan lei.
WIE SE DEMOGRAFIE?
Nog ’n bekommernis wat die kodes bied, is dat groot landboubesighede geforseer gaan word om die nasionale demografie in alle provinsies te moet toepas. “Wat gaan in die Wes-Kaap gebeur, waar die meerderheid van die arbeidsektor bruin mense is en hier senior posisies beklee?
“Sal hulle dan nie meer kwalifiseer vir senior poste in die landbouwaardeketting nie? Indien so, is dit totaal en al onaanvaarbaar en diskriminasie in die ergste graad,” sê Van der Rheede.
Voorts sê Agri SA groter klem moet op aansporings as op strafmaatreëls gelê word, en daar moet sterker ontwikkelingsgeoriënteerde ooreenkomste tussen die Regering, private sektor en die georganiseerde landbou wees.