NUWE STRUKTUUR VIR BETER DIENS
NÁ drie jaar se aanvoorwerk en beplanning het Agri SA vanjaar sy struktuur ingrypend omskep om sy dienslewering meer vaartbelyn te maak, vinniger besluite te neem en doeltreffender op beleidsveranderinge te reageer.
Die herstrukturering sluit in ’n kleiner direksie van 14 lede, teenoor die vorige raad van sowat 68 lede. Die provinsiale, bedryfs- en korporatiewe kamers voorsien die direksie van leiding. Om meer oplossingsgedrewe te werk, is vyf sentra van uitnemendheid geskep met kundiges aan die stuur van sake by elkeen. Dié sentra is arbeid, ekonomie en handel, landelike veiligheid, landelike ontwikkeling en natuurlike hulpbronne.
In dieselfde tyd het mnr. Dan Kriek die leisels as voorsitter oorgeneem by mnr. Johannes Möller, wat uitgetree het.
Nog veranderinge was ’n risikobestuurskantoor wat met geldelike hulp van Senwes op die been gebring is, ’n fonds wat begin is om geld in te samel met die oog op toekomstige regsgedinge indien die Regering onregmatig sou optree, finansieringsmodelle vir opkomende boere en grondhervorming en die byhou van akkurate en bygewerkte data oor transformasie.
Agri SA maak daarop aanspraak dat hy 28 000 kommersiële boere en ’n verdere 100 000 ander belanghebbendes deur sy onderskeie bedryfsorganisasies bedien.
RAMPHULP
Vroeër vanjaar het Agri SA vir ’n beroering gesorg toe hy grootskaalse korrupsie en bedrog met die Regering se droogtehulpgeld onthul het. Boorgatkoste wat meer as verdubbel is en ’n diensverskaffer wat na bewering in een maand R7 miljoen wins gemaak het, is onder die vergrype wat aan die lig gebring is. Die Openbare Beskermer en die Ouditeur-generaal is gevra om dit verder te ondersoek.
Mnr. Omri van Zyl, uitvoerende direkteur van Agri SA, het gesê met Agri SA se rampfonds van minder as R17 miljoen is meer as 16 000 boere gehelp. Met die Regering se droogtehulpgeld is 79 000 boere (hoofsaaklik kleinboere) gehelp.
“As die Regering Agri SA se model gebruik het, kon hy 146 000 boere gehelp het.”
Hy het gesê pres. Jacob Zuma se verklaring dat R2,5 miljard vir droogtehulp beskikbaar was, is verkeerd en misleidend. Hy sê daar was net sowat R1 miljard beskikbaar, waarvan R465 miljoen bestee is sonder dat enigiets daarvoor gewys kan word.
“Ons het probeer kyk wat van die geld geword het, en dit is skrikwekkend. Ons werk in die bedryf, maar ons en ons affiliasies het nie ’n enkele diensverskaffer geken wat gebruik is nie.”
Teen die middel van die jaar was daar nog minstens R210 miljoen se droogtehulpgeld wat nie bestee is nie, terwyl 30% van Suid-Afrika se grondgebied nog onder ernstige droogte gebuk gegaan het.