WILDE UITSPRAKE, MAAR WEINIG BEWEGING
Soos verwag, was grond dwarsdeur 2017 ’n politieke speelbal in die aanloop tot die ANC se leierskapsverkiesing.
ONDER die talle wilde en onrealistiese uitsprake oor grond uit regeringsoorde was planne vir onteiening sonder vergoeding, grondplafonne en restitusie sonder afsnypunte.
Reeds in die Staatsrede het pres. Jacob Zuma gesê die Regering wil grond sonder vergoeding onteien. In aansluiting daarby het mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, gesê restitusie moet in ’n proses sonder speratums verander word om mense se grondregte te herstel. Dit duur in elk geval al langer as 20 jaar.
Intussen het daar nie veel gekom van die Kommissie vir die Herstel van Grondregte se mikpunt in Maart 2016 om die 7 419 eise wat toe onafgehandel was, teen 31 Maart vanjaar af te handel nie. Teen Mei was 6 989 daarvan steeds onafgehandel. Die nuwe teiken vir afhandeling wat deur Operasie Phakisa gestel is, is nou middel aanstaande jaar. Daar was 80 000 ou eise waarvan net meer as 79 000 teen ’n koste van R36,5 miljard afgehandel is.
Die Grondwethof het verlede jaar die wysigingswet ingevolge waarvan nuwe eise ingestel kan word, vir eers stopgesit. Sodra die proses kan voortgaan, wag daar 161 052 nuwe eise wat reeds ingedien is. Mnr. Justice Mnguni, ANC-LP, meen dit kan uiteindelik tot 8 miljoen eise groei.
Regstellings aan die omstrede wetsontwerp op onteiening, wat pres. Jacob Zuma vroeër vanjaar weens onvoldoende openbare deelname na die Parlement teruggestuur het, sal ook waarskynlik eers in die eerste twee kwartale van aanstaande jaar gemaak word.
In November het mnr. Bertus van der Merwe, ’n prokureur wat sedert 1994 al duisende eisers sowel as grondeienaars verteenwoordig het, gesê meer as 6 000 landelike grondeise wat voor Desember 1998 ingestel is, is nog nie eens in die Staatskoerant afgekondig nie.
Hy sê die trae pas van grondhervorming is glad nie toe te skryf aan die beginsel van ’n gewillige koper en ’n gewillige verkoper nie, maar aan jare van onvoldoende begrotings, onbeholpenheid en korrupsie.
Dit stem ook ooreen met die bevinding van ’n hoëvlakpaneel onder leiding van oudpres. Kgalema Motlanthe wat sê die betaling van vergoeding vir grond is nie die ernstigste struikelblok nie. Daar is erger probleme wat grondhervorming kelder, soos korrupsie deur amptenare, die “herleiding” van die begroting vir grondhervorming na die elite, ’n tekort aan politieke wil en onvoldoende opleiding en vermoëns.
NUWE SYFERS OOR GRONDBESIT
’n Omvattende grondoudit deur Agri Development Solutions (ADS), Agri SA en Landbouweekblad het getoon dat voorheen benadeeldes nou 26,7% van die totale hoeveelheid landbougrond (volgens hektaar) in Suid-Afrika besit, teenoor wit boere se 73,3%.
Volgens die oudit, wat gekyk het na transaksies van landbougrond van 1994 tot 2016, was sowat 14,9% van die grond in 1994 in swart besit en 85,1 in wit besit.
Gemeet volgens grondwaarde is 29,1% van die waarde van landbougrond in voorheen benadeeldes se besit. In Limpopo en KwaZulu-Natal is dit meer as 50%.
Mnr. Dan Kriek, voorsitter van Agri SA, het gesê vir die eerste keer is daar nou syfers oor grondhervorming wat bewys vordering ís gemaak en dat die vrye mark (gewillige koper en gewillige verkoper) werk. Syfers wat dikwels deur politici uit die lug gegryp word om populistiese stellings maak, is nou as onwaar bewys.
ADS se syfers verskil ook van dié van die Motlanthe-paneel. Motlanthe sê 4,4 miljoen (5,46%) van kommersiële landbougrond is herverdeel. Mnr. Johann Bornman van ADS se oudit toon dit is 12,1 miljoen ha, bestaande uit 2,8 miljoen ha wat deur die staat gekoop is, 3,2 miljoen ha se grondeisegrond wat terugverkoop en uitbetaal is en 6,1 miljoen ha uit gefinansierde aankope. Grond in die voormalige tuislande en 3,7 miljoen ha restitusiegrond aan hoofsaaklik trusts is uitgesluit.
STAAT KAN NIE NET AFWYK VAN MARKWAARDE
Verlede jaar was daar groot ontsteltenis oor ’n uitspraak in die Gondeisehof dat regverdigheid en billikheid markwaarde troef wanneer die staat grond vir restitusie onteien.
’n Waardeerder het bevind die grond ter sprake is R4,36 miljoen werd omdat daar moontlikhede vir dorpsontwikkeling was. Waarnemende regter Tembeka Ngcukaitobi het egter beslis die vergoedingsbedrag moet op grond van die landbouwaarde bepaal word. Hy het dit vasgestel op R1,8 miljoen en dit verder verminder tot R1,5 miljoen op grond van beginsels van billikheid en regverdigheid.
Die Appèlhof in Bloemfontein het dié omstrede beslissing vanjaar omgekeer. “Die Appèlhof het dit nou duidelik gemaak dat geen arbitrêre aftrekkings gemaak kan word bloot omdat die grond vir grondhervormingsdoeleindes onteien word nie,” sê mnr. Ernest Pringle, voorsitter van Agri SA se grondkomitee.
Hy sê die uitspraak bevestig dat markwaarde die vertrekpunt behoort te wees in die berekening van regverdige en billike vergoeding.
‘Syfers wat dikwels deur politici uit die lug gegryp word om populistiese stellings maak, is nou as onwaar bewys.’