ANTIEKE KORING LEWER STERK BYDRAE
Moenie antieke en tradisionele koringkultivars afskryf nie. Te midde van hernieude belangstelling in sulke ouer kultivars, het twee navorsers van die Landbounavorsingsraad se Instituut vir Kleingraangewasse hul prestasie ondersoek.
Die najaag van hoër voedselproduksie in ’n omgewing waar grond en water skaars hulpbronne is, het die selektiewe teling van koring oor dekades heen bevorder sodat dié kultivars mettertyd aansienlik verander het.
Met die klem op opbrengs en gehalte het sekere eienskappe verlore geraak omdat kultivars met ’n lae opbrengs geïgnoreer is, ander goeie eienskappe ten spyt.
Die gevolg is ’n afname in die voedsaamheid van koring omdat die telers klem lê op opbrengs en nie noodwendig gesondheidsvoordele nie. Daar is ook ’n afname in die verskeidenheid van gene in koringkultivars.
Antieke koring is in die verlede algemeen verbou, maar is vandag beperk tot klein gebiede in lande waar dit as tradisionele kos verbou word. Aangesien dié antieke koring ryk bronne van bioaktiewe komponente kan wees, word geglo dat dit produkte van hoër gehalte kan lewer, vergeleke met die huidige moderne kultivars.
Onder Suid-Afrikaanse boere is ’n hernieude belangstelling in die verbouing van ouer koringkultivars, soos Witwol, vir nismarkte. Dié kultivar word as antiek beskou en is in 1905 in Suid-Afrika vrygestel.
Twee ander, ouer kultivars is Bolane en Makaloate, wat gewoonlik in Lesotho se hoogland verbou word. Bolane is in die 1960’s daar vrygestel. Dit is ’n sagte, wit koring wat Lesotho-boere vir die kultivar se hoë broodbakgehalte verkies. Dit is ook goed aangepas om in dié hoërliggende dele te groei en word algemeen by Mokhotlong en Thaba Tseka verbou.
Ons het in ’n veldproef Witwol, Bolane en Makaloate vergelyk met moderne droëlandkultivars wat tans op die mark in Suid-Afrika is. Weerstand teen Russiese koringluis, opbrengs, hektolitermassa, proteïen-inhoud, mengtyd en broodvolume van elke kultivar is bepaal (sien die TABEL ).
Die meeste skade weens Russiese koringluis was by PAN3118 en Makaloate. Witwol, Bolane en Senqu het ook veel meer skade as PAN3379, PAN3161, Elands, Gariep en SST387 getoon.
Witwol se opbrengs was betekenisvol laer as dié van die ander kultivars, maar sy proteïeninhoud was weer betekenisvol hoër.
As kultivars kommersieel beskikbaar gestel word, word dit met ’n bepaalde gehaltestandaard vergelyk. Vir die Vrystaatse droëland is die standaard die kultivar Elands. Afwykings van die gehaltestandaard is wél vir al die kenmerke toelaatbaar.
As die kultivar nie met ’n gehaltestandaard vergelyk word nie, is ’n mengtyd van 2,5 minute tot 4 minute en ’n proteïen-inhoud bo 11% aanvaarbaar. ’n Hektolitermassa van 76 kg/hl is vir die bedryf aanvaarbaar.
Bolane en PAN3161 se proteïen-inhoud was onder dié aanvaarbare vlak. Die mengtyd van Witwol, Bolane en Makaloate was ook betekenisvol laer as dié van die ander kultivars.
Daarenteen was Witwol se broodvolume die hoogste en dié van Bolane die laagste. Hoewel Makaloate se broodvolume hoër as die Elands-standaard s’n was, was die mengtyd te kort. Bolane het ’n aanvaarbare mengtyd gehad, maar die broodvolume was weer te laag vergeleke met Elands. Witwol se broodvolume was ook aanvaarbaar, maar die mengtyd was te kort.
Koringgehalte het verskillende betekenisse na gelang van wie dit beoordeel. Boere verkies kultivars met ’n hoë opbrengs en ’n 1 2 aanvaarbare hektolitermassa (>76 kh/hl), proteïen-inhoud (>11%) en valgetal (>250 s). Meulenaars verkies weer kultivars met ’n hoë meelopbrengs en aanvaarbare meelkleur. Bakkers soek kultivars met aanvaarbare deegkenmerke en ’n hoë broodvolume, terwyl die smaak en gesondheidsvoordele van die finale produk vir verbruikers belangrik is.
Witwol en Makaloate het broodvolumes en kenmerke wat goed met Elands, die gehaltestandaard, vergelyk.
Aangesien dié antieke en tradisionele kultivars ’n laer opbrengs as moderne kultivars lewer, sal dit nie soseer daartoe bydra om ’n vinnig groeiende wêreldbevolking te voed nie, maar hul bydrae lê op die vlak van biodiversiteit. Hulle kan genetiese diversiteit in planteteelt help verhoog.
Dié kultivars het ook ’n plek in ’n mark waar hul holistiese gebruik ’n opsie is waarby produsente, meulenaars, bakkers en uiteindelik die verbruiker baat sal vind. Dr. Astrid Jankielsohn en me. Chrissie Miles is albei verbonde aan die Landbounavorsingsraad se Instituut vir Kleingraangewasse; Astrid in die afdeling gewasbeskerming en Chrissie by planteteelt. 3