Landbouweekblad

Wagyu: Groot mark vir vleis

- — LUCILLE BOTHA

Die Aussies praat met gesag oor die bemarking van die Wagyu – as lewende hawe én vleis. Mnr. Graham Trustcott, hoof van die Australies­e Wagyu-vereniging, sê die Suid-Afrikaanse bedryf kan in Australië se voetspore volg.

Graham sê Meat and Livestock Australia (MLA) se marknavors­ing wys die uitvoerpot­ensiaal vir Wagyu-vleis is iets ysliks. Australië voer sowat 80-90% van sy Wagyu-vleis uit na lande en streke, soos Amerika, die Europese Unie en China.

Verlede jaar het die Australies­e Wagyu-bedryf byna 40 000 ton Wagyu-vleis verkoop. Teen die huidige groeikoers sal daar binne vyf jaar sowat 74 000 ton vleis wees wat bemark moet word.

Die Australies­e bedryf glo Wagyu se waarde lê daarin dat die genetiese materiaal ’n verskil kan maak in mense se eetervarin­g as hulle die vleis koop. Graham sê rasegte Wagyu-bulle behaal tans sowat $8/kg (sowat R82/kg) per lewende gewig in Australië. Dis meer as dubbel as die sowat $3,50/kg (R36) wat Angus-boere kry.

Tans is daar 85 Wagyu SA-lede en sowat 2 000 koeie. Hulle wil oor tien jaar 340 lede en 15 000 koeie hê. “Vanjaar is sowat 2 500 embrio’s en 20 000 semenstroo­itjies ingevoer. Die telers is in alle provinsies, juis omdat die Wagyu aanpas in droë én nat omgewings,” sê dr. Michael Bradfield, uitvoerend­e hoof van Wagyu SA.

Graham glo Suid-Afrika se boere kan plaaslik baie Wagyu-vleis verkoop. “Onthou, 16% van die plaaslikee mark is welgesteld en 22% behoort tot die middelklas. Byna 40% van die bevolking kan dus die vleis bekostig. Dit is byna 24 miljoen verbruiker­s wat vir premieprod­ukte kan betaal; ’n veel groter plaaslike mark as in Australië, met sy 25 miljoen mense.”

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa