Kontantvloeibegroting is beste vir bestuur
Sy nougesette kontantvloeibegroting – wat as ’n kristalbal vir die toekoms dien – het dit vir mnr. Hannes Esterhuyse van Volstruisfontein in die distrik Williston moontlik gemaak om nuwe skop te gee aan sy skaapboerdery, wat nou ook spog met lonende lusern- en uiesaadvertakkings.
Hannes boer met 2 200 Dorperooie, 80 ha lusern, sowat 2,4 ha uiesaad en 30 Angusbeeste (wat die fluitjiesriet langs die rivier benut). Danksy waardetoevoeging het hy sy inkomste per hektaar met 53% opgestoot en sy inkomste per ooi met 34,5% laat styg – dít alles sedert hy in 2003 die leisels by sy pa, Harry, oorgeneem het.
“As jy nie skuld gebruik nie, brei jy nie uit nie,” glo hy. En dis sy kontantvloeibegroting wat die skrik uit skuld haal. Hannes het op Excel vir hom ’n begroting vir 24 maande opgestel wat hy sorgvuldig bestuur.
Hannes trek maandeliks state en vul dan die werklike syfers op sy kontantvloeibegroting in. Dit help hom om te sien wat inkom en waarheen elke sent gaan. Behalwe die werklike syfers, het hy ook ’n begroting vir die volgende 12 maande.
“Jy moet vooruit kan kyk en sien wat die uitwerking van ’n droogte of jou lammeroes gaan wees op jou paaiement wat eers volgende Maart betaal moet word.” Dié inligting maak ander besluite makliker. “Die tyd wat jy agter jou rekenaar in jou kantoor is, moet net soveel wees as die tyd in die kraal.”
Hy bestuur sy veegetalle op ’n soortgelyke manier. Hy koppel huurgrond aan veegetalle en boer op sy eie grond en huurgrond afsonderlik, hoewel sy eie grond ook as ’n eenheid beskou word. Die veegetalle word dan aangeteken volgens ooie, ramme, jong ooie, jong ramme en marklammers. Die syfers word deurgetrek na die kontantvloeibegroting toe.
“Jy moet meet om te weet. As ek skape verkoop, voer ek die inligting oor kilogramme en die inkomste in, sodat ek die persentasies vir die boekjaar kan uitwerk en kan vergelyk hoe die betrokke jaar verloop teenoor die voriges.”
Só bereken hy gemiddelde karkasgewigte, asook die kilogram vleis gelewer per hektaar per jaar. Hy kan sy inkomste met vorige jare s’n vergelyk, sien hoe die inkomste per karkas toegeneem het en dit vergelyk met die abattoir se gemiddelde prys per kilogram. Met dié inligting skep hy eenvoudige grafieke, waarop hy die reënvalneiging bysit.