Kultivars: Kies rég
Teen ’n vestigingskoste van R350 000/ha en ’n lewensverwagting van 20 jaar moet ’n appelboer mooi dink oor die kultivar wat hy plant voor hy eers grond breek.
Klimaatsverandering, produksie, nuwe markte met nuwe behoeftes en die rakleeftyd van vrugte is maar enkele redes waarom boere nuwe kultivars sal oorweeg – en dis nie maklik om die regte kultivar te kies nie.
Mnr. Gys du Toit, besturende direkteur van Dutoit Agri, glo dit is die belangrikste dat ’n kultivar goeie eetgehalte moet bied.
Dit moet ook aantreklik wees, oor goeie opbergingsvermoë beskik, goeie weerstandbiedendheid hê, ’n mooi oes oplewer en produksieen hanteringsvriendelik wees.
Sy broer, Pieter, besturende direkteur van die Dutoit Groep, voeg nog ’n punt by: “Die kultivar moet onderskeibaar verskillend wees. Wat help dit jy het ’n produk wat net soos die ander lyk?”
Die maatskappy het verskeie vennootskappe met toonaangewende internasionale vrugte-ondernemings aangegaan om seker te maak hulle bly aan die voorpunt van nuwe kultivars. Dit help hulle om eksklusiewe regte vir gesogte kultivars – soos Honey Crisp – te bekom.
Kultivars sien ook deesdae vinniger die lig, danksy nuwe tegnologie. Dit word gewoonlik binne ’n kultivarklub uitgereik, wat verskillende modelle volg om die plantmateriaal aan die bedryf beskikbaar te stel. Hoër wins, laer risiko by sitrus met skadunet. Hoewel die produksie van hoëwaardevrugte onder skadunet niks nuuts is nie, word dit tans min in die sitrusbedryf toegepas. In die Sondagsriviervallei het mnr. Hannes Joubert van die Habata-boerdery naby Addo soveel welslae in ’n proefneming behaal dat hy nou meer van sy vrugte onder skadunet gaan verbou. Die bome het vinnig gegroei en hy kon 25% tot 50% water bespaar. Die bestryding van valskodlingmot onder skadunet kan ook beter beheer word. Ander voordele is letselvrye vrugte, minder sonbrandskade en beter tellings. Die oprigtingskoste beloop sowat R220 000/ha. Voorlopige data toon ’n hoër opbrengs en beter tellingverspreiding. Goud vir vrugteboere. Die opbrengs van bome wat as “geveerde” bome – jong bome met goed ontwikkelde sytakke – geplant word in vergelyking met “sweepbome” verskil drasties, met bome wat maklik 120 ton en meer per hektaar kan dra.
Danksy die oorskakeling na geveerde appelbome kon die Laastedrif-boerdery van mnr. Roussouw Cillié oor ses jaar meer as R600 000 per hektaar ekstra in die bank bêre.
Die geveerde Golden Reinders-bome het nie alleenlik reeds vroeg-vroeg ’n reuse-oes gelewer nie; die vrugte se gehalte was ook puik – en dít in ’n jaar waarin sonbrandprobleme appelboere behoorlik pak slae gegee het.