WATERSLIM PLAN MAAK WÊRELDWYD OPSLAE
Mnr. Louis Loubser, ’n vrugte-en-wynboer van die plaas Vinefera buite Robertson, het ’n plastiekomhulsel ontwerp wat water om bome se stamme konsentreer en tot 62% water en elektrisiteit bespaar, asook onkruidbestryding vergemaklik.
Sy Tree Hog keer dat water oor ’n groot oppervlakte versprei, wat verdamping beperk. Dit voeg dus die voordele van mikro- én drupbesproeiing bymekaar en laat ’n boer toe om ’n groter volume water in ’n korter tyd toe te dien. “Dis soos ’n groot drupvoetspoor.”
Ná 20 minute se besproeiing was die grond om die stam (en onder die Tree Hog) minstens 260 mm diep deurnat – sonder dat daar nog tyd was vir afsak. In die blok langsaan, waar daar nie Tree Hogs is nie, is daar ’n groot, nat kol onder die boom, maar die grond is net sowat 25 mm diep nat.
“My proewe het gewys met die Tree Hog is die verdampingsfaktor laer, daar groei nie onkruid om die stam wat meeding om water nie en die bome se blaredak ontwikkel vinniger en meer eenvormig. Ek het egter regtig opgewonde geraak toe ek sien ek kry dié resultate deur net een uur per week te besproei, teenoor die ses uur wat nodig is sonder ’n Tree Hog. Dit is ’n besparing van 62%.”
Die plan het ontstaan nadat ’n besproeiingskanaal in oestyd gebreek het en Louis met ’n plastiekpot begin rondspeel het op soek na maniere om verder te kom met die bietjie beskikbare water. Ná maande se verfyning, patentregkwessies en proewe, is die Tree Hog aan die bedryf beskikbaar gestel. Dit het gou ander boere en selfs internasionale vrugte-ondernemings (soos Primafruit UK en Barloworld Agriculture) se aandag getrek.
Die Tree Hog kan tot R40 000/ha (na gelang van die plantdigtheid) kos.
“’n Boer moet die koste egter oor vyf tot tien jaar beskou, want hy gaan minder onkruiddoder nodig hê, die probleem van mikrospuite wat omval of afgetrap word, is iets van die verlede, kunsmistoediening sal verminder en sy bome gaan moontlik gouer in drag kom.”
Pleks van nóg water te koop, kan die Tree Hog ’n boer help om in meer boorde te belê, sê Louis. co.za 072 549 9925. louis@treehog.