Geseënde Kersfees
Kersfees – die fees van ons Heiland se menswording! Hoe moet ons dit beskou? Is dit verdigsel? Dalk ’n mooi sprokie, soos Rooikappie of enige ander mooi verhaal waarmee oud en jonk hulle kan identifiseer? Dit bevat soveel elemente wat vir kleinerige kinders vreugde kan bring – ’n babatjie in ’n krip, skaapwagters wat presentjies aandra, engele wat sing en ’n ster wat deur die lug beweeg na Betlehem, die geboortedorp van die Wonderkind. Maar ook vir volwassenes wat vuisvoos is in ’n wêreld wat pap is van ellende. ’n Groot deel van die mensdom smag na iets moois, iets wat hulle uit die ellende kan lig.
Kersfees bring tog lig en hoop. Dit laat ons weer met sagte oë na mekaar kyk. Dit soek ou vriende en familie op om ’n bietjie seënwense uit te spreek.
Hoe ernstig is ons met al hierdie dinge? Hoe blywend of kortstondig is dit alles? Is dit nie maar net ’n blink, verskietende ster wat vinnig en aanskoulik verbyskiet nie? Ons kyk nuuskierig op, geniet dit vir enkele oomblikke om dan maar weer die pad te vat in ’n wêreld waar hoop en wanhoop, vreugde en trane en lig en duisternis met mekaar stry. Binne oomblikke is alles maar weer dieselfde. My armoede is dieselfde, my kind lê steeds hulpeloos in ’n versorgingseenheid – en so kan ons voortgaan.
Wat het Kersfees gebring wat ’n bietjie anders – meer hoopvol – is?