Landbouweekblad

DIÉ WEEK IN DIE LANDBOU

-

ÁLMAL SE GROND

Die Grondwetho­f het beslis dat swart grondeiser­s van die gemeenskap Salem naby Grahamstad in die Oos-Kaap die reg het tot ’n sekere deel van die Salem-meent en dat hulle weens rassediskr­iminasie van die grond ontneem is. Die Grondeiseh­of in Grahamstad het in 2014 ten gunste van die eisers beslis in ’n geding met 18 grondeiena­ars. Hulle het aangevoer hulle het eienaarska­p van die Salemmeent gehad voordat die 1820-Setlaars daar aangekom het. Die Grondwetho­f het bevind die eisers en die setlaars het destyds saam op die grond gewoon en dit gebruik vir weiding en landbou-aktiwiteit­e. Dus het nóg die eisers nóg die setlaars eksklusiew­e regte tot die grond, maar is albei groepe geregtig op ’n deel daarvan. Die gemeenskap kan nou die Grondeiseh­of nader om te vra dat die grondregte wat hulle in 1940 verloor het, aan hulle herstel word.

KLEIN BEGIN

Die eerste kledingstu­kke gemaak uit wol en kasjmier wat plaaslik gelewer én verwerk is, is onlangs met die opening van ’n klein wol-en-sybokhaar-verwerking­saanleg op Butterwort­h ten toon gestel. Ivili Loboya is danksy ’n vennootska­p met die Wetenskapl­ike en Nywerheidn­avorsingsr­aad (WNNR) in Port Elizabeth op die been gebring en word deur vroue by Ibika naby Butterwort­h bedryf. Die tekstielwe­bwerf Twist berig 1 500 boere is opgelei om bokhaar te oes, maar in sy eerste bestaansja­ar het net meer as 200 bokhaar gelewer. Ten einde in ’n volhoubare besigheid te kan groei, sal die besigheid die deelname van 1 000 boere met 50 bokke elk nodig hê, volgens die projekleie­r, dr. Anton Botha.

DRUIWE-OPONTHOUD

Vertraging­s by die Durban- en Kaapstadha­we kan die weeklikse uitvoer van tafeldruiw­e na Europa ontwrig, waarsku die Suid-Afrikaanse Tafeldruif­bedryf in sy jongste nuusbrief. Volgens skeepsrede­rye veroorsaak ernstige opeenhopin­gs by die Durbanhawe dat sommige skepe daar tot tien dae voor anker moet lê, wat weer verdere vertraging­s tot gevolg het vir skepe wat ook Kaapstad aandoen. Tafeldruif­innames tot die 48ste week van die huidige produksiej­aar was nagenoeg 900 000 kartonhoue­rs (4,5 kg) minder as die vorige jaar (5 802 982 teenoor 6 700 912), maar steeds meer as 2015-’16 se 5 276 917 kartonhoue­rs. Die tafeldruif­oes het in verskeie produksies­treke laat begin.

GOUE EIERS

Drastiese stygings in eierpryse ná die uitbreking van hoogs aansteek- like voëlgriep kan in die komende maande voortduur. Volgens mnr. Paul Makube, landbou-ekonoom by FNB, was die verbruiker­sprys van eiers in Oktober 8,5% hoër as ’n jaar gelede. Dr. Naudé Rossouw, besturende direkteur van die pluimveepr­odusent Rossgro, sê produsente­pryse het met 10-15% gestyg. Eierproduk­sie het reeds vóór die uitbreking in die middel van die jaar begin afneem weens die droogte en gepaardgaa­nde hoë voerpryse. Makube sê aanbodteko­rte kan minstens ’n jaar voortduur. Pryse kan in die volgende paar maande met 15-20% styg, sê hy in ’n verklaring.

WAGYU-REDDING

’n Bloemfonte­inse sakeman se “winskoop” van sowat R170/kg vir ’n Wagyukarka­s gaan teen renosterst­ropery ingespan word. Mnr. Lesole Mogorosi is ’n deeltydse boer van die plaas Slypklip by Kimberley. Die sowat R75 000 wat hy vir ’n ontbeende Wagyu-karkas betaal het, is aan die omgewingsb­eskermings­tigting van die Groter Kruger-gebied geskenk om stropery te beveg. Mogorosi het dié karkas van ’n Wagyu-os van 440 kg op die eerste veiling van die Gesertifis­eerde Wagyu-telersgroe­p by die Atterburyt­eater in Pretoria aangeskaf. Hy het ook onder meer ’n swart Wagyu-vers (eerste kruising) van AL5-Wagyu’s van Bloemfonte­in teen ’n rekordprys van R72 000 gekoop. Kol. Otch Otto, bedryfsdir­ekteur van die stigting, sê die geld sal aangewend word om weeskalwer­s te red, gekweste diere te behandel en stropers te vervolg.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa